
In Matt. 16:24 sê Jesus: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg…
Jesus het baie duidelik gesê as ons Hom wil volg, moet ons onsself verloën, ons kruis opneem en Hom volg. Om jouself te verloën, is soms om ʼn ‘gek vir Jesus’ te wees. Ek sê dikwels as ek preek dat ons almal gekke is – om die mense se aandag vas te vang. Sommiges hou glad nie daarvan nie! Dan vra ek: “Wie se gek is julle? Ek is ʼn gek – vir Jesus!”
Een ding wat ek in evangelisasie geleer het, is dat, tensy jy bereid is om jou reputasie neer te lê, jy nie in evangelisasie vir ons Meester gebruik kan word nie. Ons moet bereid wees om onsself neer te lê. Ons grootste vyand is nie satan nie, maar die eie ek!
Charles Haddon Spurgeon, dikwels die ‘prediker-prins’ genoem, het eendag in Highstraat in Brittanje afgestap toe een van sy kritici na hom gekom en gesê het: “Jy is die‘gekke-prins’!” Hy het beleef gereageer: “Wel, ek is ten minste ʼn prins van iets!” As jy bereid is om die eie ek neer te lê, kan jy nie beledig word nie! Dan is jy beskikbaar waarvoor die Heilige Gees jou wil gebruik en wat Hy wil hê jy moet doen. Dis slegs dan wat die krag van Bo onbeperk kan kom, want daar is geen ‘wat as…?’ nie.
Jy weet as jy aan ʼn dooie hond skop, dit nie sal reageer nie, maar as ʼn slapende hond geskop word, sal dit byt. Miskien moet jy jou eie hart ondersoek om te sien hoeveel trots daar nog oor is, want as jy by evangelisasie betrokke wil raak, moet jy bereid wees om die sorge saam met die seën te aanvaar.
D. L. Moody, een van die grootste evangeliste wat ooit geleef het, het vir meer as 100 miljoen mense in sy lewe gepreek. Hy het eens in die Grootsaal by die Cambridge Universiteit gepreek met 1 000 van die briljantste jongmense in die wêreld teenwoordig. Hulle sê hy was vreeslik senuweeagtig omdat hierdie jongmans met hul sambrele en hoede, meeste van hulle ook nog uit baie ryk families, gewoonlik met hul sambrele op die houtvloer begin stamp het as hulle nie van die spreker gehou het nie. Hulle sou so ʼn spreker letterlik van die platform ‘afgestamp’ het. Moody se Engels was boonop swak: hy het ʼn sterk Amerikaanse aksent gehad. Met die afsluiting van sy boodskap het baie van die jong geleerdes hul lewens aan Christus toegewy. Om die waarheid te sê, C. T. Studd, ʼn baie beroemde Engelse krieketspeler, het ʼn prediker geword op grond van Moody se bediening. Dan was daar ook die ‘Cambridge Sewe’ wat na China en Indië toe gegaan het om die Evangelie te bring. Een ou dame het by geleentheid na Moody gekom en gesê: “Dit was die swakste Engels wat ek nog ooit in my lewe gehoor het!” Hy het geantwoord: “Wel, dis al Engels wat ek het om vir Jesus te gebruik. Wat gaan u met u Engels doen?”
Ons moet bereid wees om ons reputasie te verloor ter wille van ons Meester. Dit is wat met Thomas Campness gebeur het. Hy is deur sy kerk aangestel as die distriks-evangelis in Newcastle-on-Tyne in Noord-Engeland. Toe hy van sy aanstelling hoor, het hy hom opnuut aan God toegewy en gevra dat God hom moet help deur ʼn woord wat hom in sy taak sou help. Die antwoord het gekom en dit was nie die soort antwoord wat hy verwag het nie. God het gesê: “As jy veral gaan fokus op die taak om siele vir My te wen, moet jy nie omgee vir jou reputasie as prediker nie.” (Hy het ʼn groot prediker in eie reg geword.)
Is jy bereid om jou reputasie te verloor ter wille van siele vir Jesus Christus?.