Om Jou Volkome Aan God Te gee

Moses het te sterwe gekom en Josua moes die leierskap van die kinders van Israel oorneem. Hulle het reeds vir veertig jaar lank in die wildernis rondgeswerf en die tyd om die belofte op te eis en die land in besit te neem, het nou aangebreek.
In Josua 1 het die Here ’n ontmoeting met Josua en verseker en bemoedig hom vir die taak wat voorlê.
Die tyd het aangebreek om tot aksie oor te gaan. Die Here beveel Josua om sterk en vasberade te wees (Josua 1:6-9).
In hoofstuk 2 stuur Josua twee spioene uit wat terugkeer met die nuus dat die land maklik deur hulle verower kan word. Hulle was slaggereed, van proviand voorsien en gereed om te vertrek. By die Jordaan het hulle die volk byeengeroep en in ’n oogwink was almal gereed, maar daar was een noodsaaklike taak wat nog verrig moes word.
Verwag ’n wonderwerk
In hoofstuk 3:5 spreek Josua die volk toe en lig hulle in dat hulle ook ’n rol te speel het in die wonderwerk wat God gaan verrig. Die Here was op die punt om “wonders” te doen, maar hulle moes dinge nie vooruitloop en verwaand wees nie.
Hulle moes tyd bestee om hulle opnuut aan God toe te wy. Die volk moes seker maak dat hulle nie ’n struikelblok of ’n hindernis sou wees vir wat die Here beplan nie. Josua het almal opgeroep om hulleself
te heilig.

Jy het ’n rol om te vervul
Die Bybel verklaar herhaaldelik dat God Sy kinders wil seën en “wonders” tussen ons wil doen. Ons wil almal graag sien hoe God onmiskenbaar werk, hoe Hy le-wens verander en hoop en heling aan die nasies bring. Hoewel sommige van hierdie dinge slegs ten volle ’n werklikheid sal word met Jesus se wederkoms, is daar die belofte in die Skrif dat ons Hom kan aanroep en dat Hy groot dinge sal doen (Jeremia 33:3). Al is dit alles uiteindelik die werk van God deur Sy Gees, herinner hierdie oproep van Josua ons dat ons ’n rol het om te vervul. Daar is God se deel, en daar is ons deel om
te doen.

Ons deel: ons moet ons daartoe verbind
Ons Hemelse Vader werk nooit in ’n lugleegte nie. As ons die Skrif lees en die geskiedenis van hoe God te werk gaan bestudeer, sal ons vind dat God altyd mense gebruik om saam met Hom te werk. Dit was John Wesley wat gesê het: “God doen niks, behalwe in reaksie op gelowige gebed nie.” Hy maak mense altyd deel van wat Hy doen.
Die groot geestelike herlewings kan teruggevoer word na ’n getroue handjievol mense wat gebid het, soms vir jare lank, vir God om herlewing te bring. In elke belangrike werking van God het getroue manne en vroue ’n rol gespeel om wat God begin het te fasiliteer. In elke kerk en bediening maak God van mense gebruik. Ons het ’n taak om uit te voer ter voorbereiding vir God om Sy wonders te bewerk. Ons deel begin gewoonlik met wat die Bybel ‘heiliging’ noem.

“Reinig julle”
Dit is die beginpunt. Die reis na ’n spesiale werk van God in ons en tussen ons sal altyd hier begin – met toewyding aan God, by die punt waar die kinders van die Here verklaar: “Hier is ek Here, gebruik my!”
Toewyding aan God behels om onsself ‘opsy te sit vir God se gebruik’. Dit is ’n algemene tema en vereiste in die Skrif. Dit is so ’n belangrike kwessie dat die begrippe ‘reinig’, ‘heilig’, ‘opsy sit’ 260 keer voorkom. Somtyds verwys dit na voorwerpe wat vir God opsy gesit word, maar meestal verwys dit na mense wat vir God se gebruik opsy gesit word.

Om jou aan God te gee
Aan die begin, waar God teen die sondige mens optree, lees ons: “Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God.” Lev 20:7.
Dit is hoofsaaklik wat Paulus in Romeine 12:1sê: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.”
Dit is nie voorbehou vir slegs die supergeestelikes of die een of ander spesiale elite-groep nie, maar vir al God se kinders wat almal geroep is om vir Sy gebruik ‘opsy gesit’ te wees.

Wat vereis dit?
Ons hoef dit nie ooringewikkeld, of die een of ander snaakse ritueel of geestelike praktyk te maak wat net vir sekere mense bedoel is nie. Dit is baie prakties en lê binne ons almal se vermoë.

Verbind jou daartoe om vir Jesus te leef
Jesus Christus moet eerste in ons lewens wees. Onthou altyd dat toewyding taan, wat beteken dat verlede jaar of selfs verlede week se toewyding lewensveranderend kon wees, maar Jesus sê dat ons elke dag ons kruis moet dra en Hom moet volg (Lukas 9:23).
Vir alle gelowiges was daar ’n beslissende oomblik toe ons ons aan Christus oorgegee het. Niks kan dit wegneem nie, maar daar moet ook ’n gereelde hertoewyding wees wat daardie oorgawe nuut en relevant hou. Dus moet ‘reini-ging’, of om onsself ‘opsy te sit’, ’n deel van ons alledaagse bestaan uitmaak.

Hernieude toewyding
Dit beteken egter nie dat ons weer eens tot bekering kom nie, maar ons verhou-ding met Christus moet vars en nuut bly, soos in die huwelik waar ons telkens vir mekaar sê dat ons mekaar liefhet en dat ons aan mekaar toegewy is.
“My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees noudat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.”
Fil 2:12-13.
“Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie.” 2 Pet 1:10.

Hanteer sonde en hou ’n kort boek daarvan
Niks versper die werk van God soos sonde nie. Ons weet dit almal. Ons weet ook dat niemand daarvan vrygestel is nie. Ons is almal vatbaar vir versoeking. Ons moet gereeld daarmee afreken.
Voordat Josua na die Beloofde Land vertrek het, wou hy verseker dat die volk wat die land moes inneem, met hulle sonde afgereken het, want as hulle dit nie gedoen het nie, sou dit die werk van God belemmer, kompliseer en beperk. Baie Christene wie se lewens groot belofte inhou, het op niks uitgeloop nie omdat daar nie met sonde afgereken is nie.
“Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my.” Ps 38:19.
“Toe het ek my sonde bely, my oortre-ding nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Voor die Here bely ek my opstandigheid;’ en U het my skuld vergewe.” Ps 32:5.
“Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” 1 Joh 1:9.

Leef ’n lewe gevul met Sy Woord en Sy Gees
Reiniging is ’n proses eerder as ’n gebeurlikheid. Dit is ’n leerproses om op God se Gees te vertrou om jou toe te rus en te bemagtig.
Die Woord is die instrument wat gewoonlik deur die Gees gebruik word. Die Here beveel Josua: “Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat My dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan.” Jos 1:7.
“Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” Jos 1:8.
“Toe sê hy vir my: ‘Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees, sê die Here die Almagtige.’ ” Sag 4:6.

God se deel: Hy sal wonders verrig
’n Hardwerkende boer doen alles wat hy kan. Hy plant, gee water, bemes, skoffel en laat die natuur dan sy gang gaan. Ons doen ons deel, ’n deel wat God van stapel gestuur het, en dan kyk ons met verwagting om te sien hoe God, deur Sy Gees, Sy groot werk verrig.
God se werk gaan nie altyd oor die skouspelagtige nie. Die Here is nie daar om ’n vertoning te lewer nie. Hy is wonderbaarlik op Sy eie manier werksaam en wanneer ons Sy handewerk eien, verstom dit ons altyd. Iemand wat na die Here toe kom, is ’n wonderwerk. Waar mense hoop en vryheid vind en van sonde vrygemaak word, is dit ’n wonderwerk.
Wanneer die Here genesing bring en wanneer Hy met Sy Gees tussen ons beweeg, is dit wonderbaarlik. Wanneer God huwelike en gesinne herstel, is dit wonderbaarlik. Wanneer leë lewens betekenis kry en wanneer Hy aan ons behoeftes voorsien en die lewe in oorvloed skenk, is dit wonderbaarlik. Dit is alles God se wonderbaarlike aandeel!

Geroep om ’n verskil te maak
Josua se oproep rig ’n uitdaging aan ons waar ons in ’n gebroke wêreld leef. Ons is geroep om ’n verskil te maak en om instrumente in die Hand van die Here te wees. Hy kan slegs instrumente gebruik wat aan Hom toegewy is en opsy gesit is vir Sy gebruik.