Vind Dit Nog In Kerke Plaas?

Tydens Maartmaand het ek die voorreg gehad om ’n byeenkoms van die Global Kingdom Partnership Network in Panama by te woon. Leiers van al die grootste kerke in die wêreld het vir drie dae lank byeengekom om mekaar te ondersteun en op te bou.
Verteenwoordigers van kerke in die Weste het verstom geluister na verhale van Christen-vervolging wat tans plaasvind. Kerke word afgebrand in Sri Lanka, Indonesië, Nigerië, Egipte en Indië. Die opmerklikste kenmerk van hierdie vervolgde kerke is egter dat die Christendom juis in hierdie omstandighede groei.

Vervolging
’n Leraar uit Sri Lanka het gesê dat sy gebed vir die Weste is dat die Here ’n bietjie vervolging na die gemeentes sal stuur. Juis deur vervolging word die Kerk gesuiwer en kom daar by lidmate ’n dieper toewyding en liefde vir die Here.

Bekerings in die kerk
Die mees opvallende eienskap van al hierdie groeiende gemeentes is dat hulle uitbreiding nie plaasvind omdat Christene van ander gemeentes by hulle aansluit nie; die groei vind plaas deur mense wat tot bekering kom.

Evangelisasie is die hoofsaak
Die fokus van al hierdie groeiende gemeentes is om gehoorsaam aan Christus se laaste opdrag aan Sy kerk te wees. Om die Evangelie uit te dra is die een saak waaroor hierdie leiers ernstig is en waaraan hulle geheel en al toegewyd is. Hulle toon dieselfde passie as die eerste Christelike kerk waarvan ons in Handelinge 2:47 lees, toe daar elke dag nuwe gelowiges tot bekering gekom het.
Evangelisasie sal nooit werklik in ons gemeentes posvat as die leraar dit nie in sy persoonlike lewe uitleef nie. As hy nie aan uitreike en evangelisasie deelneem en daaroor preek nie, sal lidmate dit ook nie doen nie. Een leraar het getuig dat hy die Here vertrou om elke week een persoon na Christus toe te lei.

Gemeentes groei deur bekerings
In Cali, Columbia, was daar verlede jaar 7 000 bekeerlinge wat lidmate van die plaaslike kerk geword het. In Dallas Texas was daar 4 000 beslissings van mense wat deel van die kerk geword het. In drie Afrika-lande was daar 345 000 bekerings. In Indonesië is daar getuienisse van meer as 2 miljoen bekerings wat die afgelope jaar in verskillende kerke plaasgevind het. Selfs in Egipte is daar getuienisse van duisende wat Christene geword het.

Grootste bekommernis
Hierdie kerkleiers se grootste bekommernis is die gevaar van ’n nominale Christendom wat geen impak op die wêreld maak nie. Daar is baie kerkmense wie se godsdiens bloot die bywoning van eredienste tydens huwelike, begrafnisse, Kersfees en Paasfees behels. Dieselfde gevaar van die Skrifgeleerdes en die Fariseërs bedreig die moderne Kerk. Mense behoort aan ’n kerk, maar is nie betrokke nie en het geen persoonlike verhouding met Christus nie. Lidmate het geen getuienis van die krag en werking van die Heilige Gees nie.Dit is soos Nikodemus, vir wie Jesus gewaarsku het dat hy ten spyte van al sy godsdienstigheid, nooit in die Koninkryk sal ingaan as hy nie deur die Heilige Gees weergebore word nie (Johannes 3).

Vervolg deur die Kerk
’n Leraar van ’n kerk wat gewild onder jongmense in Duitsland is, vertel hoe hy vir jare lank ’n nominale Christen was. Vandat hy egter tot bekering gekom het en die Heilige Gees sy lewe verander het, het die kerk hom begin vervolg. Dit is soos Petrus wat vervolging deur die Kerk begin ervaar het nadat hy op Pinksterdag met die Heilige Gees vervul is en openlik vir Christus begin getuig het.
In Europa staan baie kerke leeg of word dit slegs aan die gang gehou deur klein groepies bejaardes. Sulke kerke maak geen impak op die wêreld nie en is nie meer die lig wat die duisternis verdryf nie.

Die Heilige Gees bring lig en lewe
Paulus het op die Damaskuspad tot bekering gekom toe hy Christus ontmoet het. Hierna het alles verander en het hy weggebreek met vormgodsdiens en godsdienstige gewoontes en gebruike wat vroeër vir hom baie belangrik was (Fil 3:3-8). Nadat hy vergifnis en die volheid van die Heilige Gees ontvang het, het hy die Evangelie begin verkondig. Handelinge vertel die verhaal van die Lewende Water wat van Jerusalem af na Samaria en die uiteindes van die aarde gevloei het.

Bid vir herlewing
Ons moet die Here vertrou dat Hy weer Sy kerk met Sy Heilige Gees sal vul sodat daar nuwe vrug sal kom en impak op die wêreld kom maak. Elke lidmaat moet seker maak dat sy/haar verhouding met Christus reg is en dan vrugte dra wat by die bekering pas. Dan sal kerke groei en sal ons land verander!

DIRKIE VAN DER SPUY, leier van Moreletapark Assosiasie – die nasionale en internasionale uitreikfokus van die NGK Moreletapark. 021 997 8066 of www.moreletapark.org