Ons God Is ’n God Van Tweede Kanse

Lindie Gouws is ‘n bekende spreker wat die land deurreis het om vroue te inspireer en het ook ‘n bediening, ‘Kom In!’ wat vroue en die Kerk bemoedig om hulself as die Bruid van Christus voor te berei. Met haar uitgewersagtergrond (haar MY World-tydskrif), is Lindie ook ‘n gereelde medewerker in JUIG! en ‘n dinamiese dogter van God. Ons het met Lindie gesels oor haar pad saam met God asook oor hoe sy moes leer om in elke seisoen van haar lewe op God te wag.

’n Saggeaarde vrou
Lindie is ‘n dogter van God wat in elke seisoen van haar lewe moes leer om op God te wag. Nogal ‘n paradoks as jy haar ken omdat sy ‘n mens is wat in die ‘nóú-oomblikke’ leef. Met ‘n vredevolle glimlag verduidelik sy hoe God alleen ‘n transformasiewerk in haar kon vermag. Want soos Hy alles geskape het, het Hy geweet waarvoor Hy haar menswees sou gebruik. Sy het geleer om te luister na die fynste fluistering van Sy Stem, selfs wanneer Hy in stilte met haar praat.

Van God afhanklik
Wanneer jy haar sien, lyk dit of sy alles onder beheer het. Wanneer jy haar leer ken, besef jy dat hierdie standvastigheid nie mensgemaak is nie – daar is ‘n definitiewe Rots waarop sy staan. Een wat haar nie laat wankel nie.

Jy besef dat sy Prediker 3 reeds in haar lewe tot dusver beleef het… “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd…” Maar jy besef ook dat hierdie vrou kinderlik in haar geloof is en in ‘n besonderse intimiteit met Hom leef. Lindie praat met ontsag, respek en baie deernis van die pro¬sesse wat God toegelaat het in haar lewe. Sy weet dat Hy gewéét het wat Hy doen en waarvoor Hy haar eventueel sou roep. Van kindsbeen af het sy ‘n passie gehad om ander te help. As tiener is haar drome en begeertes tog beïnvloed deur die media en ook wat ander oor haar ver¬klaar het. Gedurende haar universiteits¬jare het sy onomwonde op die vraag “Waar sien jy jouself oor vyf jaar?” geantwoord: “Getroud, ‘n tuisteskepper en ’n praktise¬rende prokureur.” Nie een van daardie stellings het waar geword nie, omdat dit nie God se droom vir haar was nie.

Lindie is ‘n bedienaar van God se Woord – hoe Hy haar ook al toelaat om dit te doen. Sy onthou vandag nog hoe sy eendag vir haar ma gesê het: “Mamma, ek gaan een¬dag voor duisende vroue staan en vir hulle vertel wat Jesus in my lewe gedoen het.” Voor dit kon gebeur, moes sy ervaar en toelaat dat Jesus daadwerklik iets in haar lewe kom doen het. Haar getuienis is diep en dit bring ‘n hoop en vrede as jy na haar luister. Sy het ‘n persoonlike visie vir haar lewe biddend van God gekry en, soos sy in die boek Habakkuk geleer het, neergeskryf.

Vasgevang
Gebore en grootgeword in Randfontein, uitruilstudent na Duitsland, diakones in die Studentegemeente, joolprinses en HK-lid… maar ook in dié tyd in die hospitaal opgeneem in ‘n diabetiese koma. Sy het aan haar ma erken dat sy bulimie gehad het. Sy was ook op die punt van anoreksia. “Ek was fisies vry, maar my menswees was vasgevang in ‘n tronk, ‘n tronk van my siel. Ek het dit aan my ma er¬ken en ‘n intense genesingspad het begin. My ouers, veral my ma, het my geleer om alles biddend na God te neem. Ek het vir geen mediese of sielkundige behandeling gegaan nie. Ek het God op SY Woord geneem. Ek het een naweek na ‘n evangelis gaan luister en daar het ek my lewe opnuut aan God gegee, vir Jesus gevra om weereens my hart oor te neem en in my hart te woon, my te vul met Sy Gees.

Hy het gesê dat Hy vir my ‘n Helper sou stuur wat in my sou woon… en daar is ek gevul met die Heilige Gees. Die genesingspad was intens, maar vir vier jaar het ek geleer om met God te praat en Hy het my kom vrymaak! Ek het, soos so baie ander vroue, ‘n swak identiteit gehad.”

Sukses in die korporatiewe wêreld het gevolg en sy het geleer om ‘haar man te staan’. Dit was vir haar ‘n uitdaging, maar sy was nie regtig haarself nie. God het dit egter toegelaat om haar dissipline, uitnemende standaarde en deursettingsvermoë te leer. In daardie spesifieke seisoen en tyd het God haar tot Sy diens geroep, op die tyd wat Hy geweet het dat sy reg was. Sy moes besef dat geen vrou geroep word ‘om haar man te staan nie’, maar om vrou te wees – ‘n vrou van inherente krag wat van God af kom.

Leerskool vol foute
Sy skroom nie om te vertel van die foute wat sy begaan het nie. “Ek vra vergifnis vir my foute, ek koester elke mooi oomblik, ek leer om te vergewe waar ek seergekry het. Ek bou op die goeie. Wanneer ek kritiek ontvang, kyk ek na die bron. As dit waar is, vra ek dat God my daadwerklik en tog sagkens sal verander, as dit onwaar is, wroeg ek so bie¬tjie in my hart omdat ek veronreg voel (wat nie reg is nie). Maar dan kom God en leer Hy my om te doen wat Paulus gesê het: ‘Ek maak myself daadwerklik los van wat agter is en strek my uit na wat voor is sodat ek die wenpaal kan behaal.’ Die wenpaal het nou Ewigheidswaarde!”

Lindie het al hartseer beleef, sy verstaan die dinamika van verhoudings wat faal, sy verstaan verwer¬ping, woede, jaloesie, die eensaamheid, die verlies en pyn. Sy weet nou ook dat daar werklik ‘n geestelike stryd is teen die bose magte van die duisternis wat teen God se wil en plan in ons lewens wil opstaan. Soms gebruik die vyand mense om dit vir, en namens, hom te doen. Gebed is vir haar kardinaal en ook om elke dag God se volle wapenrusting aan te trek. “Jy moet jou hart bewaar!” sê Lindie, “en nie toelaat dat woorde van mense jou van koers af neem nie.” Sy het toegelaat dat God Sy Meestersplan oor haar lewe laat geskied. Haar persoonlike visie: “Om ‘n impak te hê op mense se lewens wat ek ontmoet: deur hulle te dien met liefde, empatie en om vir hulle rigting te gee en daardeur hoop vir die toekoms – ’n toekoms in Christus.”

Lindie, jy was eers in die korporatiewe wêreld betrokke. Wat het jou laat be¬sluit om dit te verruil en jou eie tydskrif, MY World, te begin?
Dit was ‘n baie definitiewe roeping van God. Ek het nog altyd ‘n passie gehad om met gebroke en seer mense te werk en het tydens my korporatiewe tyd uitgereik na tronke en hawelose kinders. Een Saterdag na ‘n besoek aan die vrouetronk, het ek ‘n baie duidelike droom/visioen oor ‘n tydskrif gehad… Ek het sewe maande later ‘n oproep van die uitgewer van ’n tydskrif ontvang en is ek gevra om deeltyds redaktrise te word, wat ek aanvaar het.

Na ongeveer drie maande, het ek baie duidelik die leiding van die Heilige Gees ervaar om met ‘n tydskrif, MY World, te begin. Alles van MY World, van die formaat, die vierkant, tot die tema, was op Openbaring 21 gebaseer. MY World het stelselmatig in ‘n multimedia-bediening verander. Nou werk ek in eenheid met ander tydskrifte, die radio, internet en selfs ook TV. Die stem in MY World bly ‘n stem wat ver¬klaar: “Maak die weg gereed vir die wederkoms van ons Koning!”

Jy is besonder lief vir Israel en besoek Israel gereeld. Hoe sien jy die Christen se verhouding met Israel?
Ons het ‘n baie duidelike instruksie vanuit God se Woord in Psalm 122 ontvang: “Bid vir die vrede van Jerusalem.” Ek bid vir die mense in Israel, ek het ‘n besonderse liefde vir die land en die mense, dit is deur God in my hart geplaas en ek gaan om ‘n getuie te wees van wat nét Jesus Christus in ‘n mens se lewe kan vermag. Daar is ook ‘n bewuswording van die profetiese relevansie wat Israel veral in die eindtyd speel.

God het die finale sê oor wat in die Midde-Ooste gaan gebeur. God het ‘n verbond gesluit met Abraham, Isak en Jakob. As Christen weet ek onomwonde dat ek deel het aan die Nuwe Verbond wat in Jesus Christus is.
Jesus het in Matteus 5:17-18 die vol¬gen¬de gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eer¬der vergaan as dat een letter of letter¬stre¬pie van die wet sal weg¬val voordat al¬les voleindig is.” God se Woord stel dit duidelik, dat wie Jesus vrymaak, is waarlik vry en waar die Gees van God is, daar is vryheid! Ons lees ook in Romeine 7:6, “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.”

Jy het verlede jaar (2010) saam met Dr. Isak Burger en Angus Buchan, ’n byeenkoms op die stadsmuur van Jerusalem aangebied. Waarom juis daar en wat was so spesiaal aan dié geleentheid?
My betrokkenheid by die Gospel Israel Gala was ook direk van God. Ek het dit reeds ‘n jaar voor die tyd met die dames wat die byeenkomste gereël het, gedeel. So het God met ‘n klomp mense op dieselfde tyd gewerk om hierdie besonderse drie geleent¬hede te laat plaasvind. Daar is ook ‘n duidelike woord gebring: “Ons God is ‘n God van die tweede kans! Maak ge¬reed, want Jesus kom terug.”

Wat is jou bedieningsplanne vir 2011?
2011 is in die Here se Hande. Ons kan wik, maar Hy beskik. Ek het ‘n paar projekte wat voorlê: die DVD oor die byeenkoms in Israel; ek bied konferensies/ profetiese konfe¬rensies op uitnodiging aan; is betrokke by verskeie radioprogramme; skryf vir verskeie Christentydskrifte en my eerste boek word hopelik in hierdie jaar voltooi. Ek onder¬neem ook hierdie jaar my oorbruggingskursus en begin my Meestersgraad in Teologiese Studies.

Watter vrouekarakter in die Bybel sou jy graag wou wees?
Ek dink nie dat ek hierdie vraag in een ka¬rakter kan opsom nie. Ek sou egter graag ‘n vrou wou wees wat daagliks saam met Jesus gestap het en wat by Hom geleer het en Hom net kon liefhê en volg en wéét: HY is die Een!

Is daar ’n spesifieke Skrifgedeelte wat jou besonder na aan die hart lê?
Ja, Romeine 11:33-36: “Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! …Hy is die bron van alles…Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.”