Die Heilige Gees is die derde persoon van die Goddelike Drie-eenheid. Hy is God! Ons behoort Hom lief te hê, te eer en in alles te gehoorsaam. Hy is eg en Sy liefde, gemeenskap, kameraadskap en teenwoordigheid is vir alle Christene beskikbaar.
FEITE OOR DIE HEILIGE GEES
Die Heilige Gees is ’n Goddelike persoonlikheid en word deurgaans in die manlike vorm genoem. Dit is inderdaad ’n persoonlikheid binne die Godheid en nie slegs die een of ander onbevatlike invloed nie. Die Heilige Gees is die Gees van Waarheid. “En Ek sal die Vader vra om julle ’n ander Raadgewer te stuur om vir altyd by julle te wees. Dit is die Gees van die Waarheid. Die wêreld is net nie in staat om Hom te ontvang nie omdat Hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.” Joh. 14:17. Lees ook Joh 16:7. Die Heilige Gees is ook die Trooster en Helper. Die Griekse woord vir Trooster is ‘Parakletos’ – ‘geroep om aan iemand se sy te staan om van hulp te wees.’ Hierdie term word ook in die regspraak gebruik wanneer verwys word na regshulp, verdediging, advokaat, bemiddelaar of iemand wat as voorspraak vir ’n ander optree, asook versterker. Kyk o.a. na Ef 3:16 in dié verband. Die Heilige Gees is altyd teenwoordig by en in ons. Sy salwing sal altyd met ons wees. (Joh. 14:16 en 17). Hy is ook ’n Gids, Raadgewer en Leermeester. Hy sal van Jesus getuig en Hom verheerlik. “Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My ontvang het, aan julle meedeel.” (Joh. 16:14). Die Heilige Gees sal die wêreld ook van sonde oortuig. (Joh. 16:8-9). Hy veroordeel nie – ook nie Christene nie, maar oortuig ons van dit wat verkeerd is, d.w.s. dinge wat nie binne die Vader se Wil is nie.
WANNEER KWALIFISEER EK OM DIE HEILIGE GEES TE ONTVANG?
Die Heilige Gees kan slegs ontvang word na ’n persoon se bekering. Die ongeredde wêreld kan Hom nie ontvang nie. (Joh. 14:17). Die Skrif is baie duidelik hieroor. In Hand 8:14-17 lees ons hoe Petrus en Johannes na Sagaria gestuur is om daar te bid vir die mense sodat hulle met die Heilige Gees gevul kan word. Ons sien in Hand 19:2-5 hoe Paulus vir diegene wat in Efese tot geloof gekom het, die hande opgelê het sodat die Heilige Gees op hulle kan kom. Geloof en bekering is dus ’n voorvereiste om die Heilige Gees te ontvang.
WAAROM MOET EK DIE HEILIGE GEES ONTVANG?
Deur die Heilige Gees te ontvang, ontvang die gelowige die krag om te getuig van die Vader se reddende genade. In Hand 1:8 is die Griekse woord vir ‘krag’ ‘dunamis’, wat beteken ‘Goddelike vermoë’. Die Heilige Gees kan die ontvanger lei om in tale te begin praat en selfs ’n nuwe gebedstaal aanleer.
“Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat.” Hand 2:4. Belangrik egter, is dat die gelowige hom/haar oopstel vir die gawes van die Heilige Gees om op bonatuurlike wyse deur die persoon te werk tot voordeel van almal en tot eer van God. Die nege gawes van die Heilige Gees word vir ons in 1 Kor. 12:7-14 uiteengesit. Ons moet onthou dat die ontvang van die Heilige Gees ’n gawe is wat aan alle gelowiges belowe is. Hand 2: 38: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang.”
KWELVRAE OOR DIE ONTVANG VAN DIE HEILIGE GEES
As daar nou een saak is waaroor al baie gedebatteer is, is dit juis die kwessies rond-om die ontvang van die Heilige Gees. Kom ons kyk kortliks na enkele van die talle kwelvrae wat in die gemoed van die gelowige mag bestaan:
Ek is nie gereed om die Heilige Gees te ontvang nie. Die oomblik vandat ons gered is, is ons gereed om die Heilige Gees te ontvang. (Hand 8:14-17). Deur bekering word jy vernuwe en dan is die nuwe wynsak gereed om die nuwe wyn te ontvang. (Luk. 5:37-38).
Moet ek nie eers wag voordat ek die Heilige Gees ontvang nie? God het reeds die Heilige Gees gestuur en Hy is reeds hier. Vir bepaalde take is dit vir die gelowige nodig om met die Heilige Gees vervul te word dat hy/sy sal weet wanneer hy/sy met die krag toegerus word om tot aksie oor te gaan. “En kyk, Ek sal die belofte van My Vader aan julle stuur. Julle moet in die stad bly totdat julle van God af met krag bemagtig is.” Luk 24:49.
Het ek nie die Heilige Gees by my bekering ontvang nie? Om met die Heilige Gees vervul te word, is ’n ervaring wat plaasvind nadat die persoon gered is. Hand 8:14-17 en Hand 19:1-6 is baie duidelik hieroor.
Kan diegene wat deur bose geeste beset word, ook die gawes van die Hei¬lige Gees besit? Nee, beslis nie. So ’n persoon sal bv. nie in die tale van die Heilige Gees kan spreek nie. Maar wees versigtig. Satan kan ook mense in vals tale laat praat, maar die geesvervulde gelowige sal onmiddellik sodanige demoniese tale en uitsprake herken. Dit is juis die rede waarom vervulling met die Heilige Gees so belangrik is. 1 Kor 12:10 – “…aan nog een die vermoë om wonders te verrig… aan nog een die vermoë om te onderskei tussen God se Gees en ander geeste…”
Is die spreek in tale die enigste bewys van vervulling met die Heilige Gees? Nee, beslis nie, daar is agt ander gawes wat ook daarvan getuig volgens 1 Kor 12:7-11.
Sal ek nie dalk ’n bose gees ontvang i.p.v. die Heilige Gees nie? In Luk 13:9-13 antwoord Jesus Self vir ons hierdie vraag: “En so sê Ek vir julle, hou aan vra en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek en julle sal vind. Hou aan klop en die deur sal oopgemaak word… As julle sondige mense dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Hemelse Vader die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”
WATTER SIMBOLIEK IS BESKRYWEND VAN DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES?
Salwing. In Joh 2:20 lees ons: “Julle is egter deur die Heilige Gees gesalf en julle ken almal die Waarheid.”
Waarborg. In 2 Kor 1:21-22 lees ons ook: “Hy het ons saam met julle op Christus as fondament geplaas, terwyl God ons ook vir Hom afgesonder het. Hy het ons as Sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig as deposito wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee.” Dit is dus die waarborg van dit alles wat ons nog sal ontvang.
Verseëling. Ef 1:13 stel dit onomwonde dat ons, op grond van God se belofte omtrent die Heilige Gees, deur die Heilige Gees as eiendom van God verseël word.
Vuur. In talle gevalle waar daar sprake is van vervulling met die Heilige Gees, het dit met ‘iets soos vlamme van vuur’ gepaard gegaan. Ons vind ’n voorbeeld hiervan in Hand 2:3-4 – “Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit.”
Wind. Jesus beskryf vir ons die teenwoordigheid van die Hei¬lige Gees wanneer Hy in Joh 3:8 sê: “Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy suising, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy op pad is nie. Só is dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
Water. In Joh 4:14 – 24 verduidelik Jesus aan die Samaritaanse vrou by die put hoe sy die ewige lewe kan beërwe wanneer sy die water drink wat Hy aan haar kan gee – die Gees van God ín haar. Hierdie feit word onderskryf toe Jesus op die groot dag van die Loofhuttefees uitgeroep het: “As jy dors is, kom na My toe en drink. Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’” Joh 7:37-38. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.
Duif. Toe Johannes Jesus gedoop het, het die volgende gebeur: “…en Hy sien hoe die Gees van God soos ’n duif op Hom afdaal.” Matt 3:16.
HOE WERK DIE HEILIGE GEES?
Ons moet altyd onthou dat die Heilige Gees ’n gawe van God is en nie ’n vergoeding omdat ons ons lewens aan God gegee het nie. Die Vader sal egter nooit Sy kinders as wese agterlaat nie. Met Jesus se hemelvaart het Hy die Heilige Gees gestuur om ons in Gees en Waarheid te lei. (Rom 8:13-17). Die belangrikste wyse waarop God Sy kinders lei, is om deur die Heilige Gees in die gees van die gereddene in te spreek. Dit is daardie ‘sagte stemmetjie’ wat in jou innerlike spreek en waarvan jy duidelik bewus raak wanneer jy stil raak voor God – ja, selfs in die besigste oomblik in jou werk. Dit gaan altyd gepaard met innerlike vrede, insig, warmte, versekerdheid, rus en openheid in jou gees. Onthou altyd:
God is spesifiek – die duiwel is vaag
God is kragtig – die duiwel luid
God is duidelik – die duiwel is verwarrend
God is liefdevol en vergewend – die duiwel is veroordelend.
Raak stil in jou gees, stil voor God – Hy wil met jóú praat!