![](https://juig.co.za/wp-content/uploads/2020/02/Piet-Smit-Berading-Deur-Sang-280x280.jpg)
Met sy ryk, diep stem is Piet Smit ’n bekende in die gospel-genre. Van ’n beskeie begin as agtergrondsanger in restaurante, het hy oor twee dekades ontwikkel in ’n gesogte geestelike sanger en spreker. Sy album, ‘Heer U maak my nuut’, het in 2007 platinum-status bereik – ’n prestasie wat geen ander oorspronklike geestelike solo-album in Suid-Afrika hom nog kon nadoen nie. Min mense weet ook dat Piet betrokke is by die skryf van draaiboeke vir Christelike rolprente. Ek het met hom gesels tydens die vrystelling van sy nuutste CD: Eerste liefde.
Roeping en passie van sy hart
Baie van sy liedere fokus op innerlike genesing. Ek wou by hom weet waarom dit die geval is. “Ek het dit nie gekies nie. Van die eerste dag af was dit ’n roeping en ’n passie in my hart. Ek wou uitreik na mense wat agtergebly het in die lewe.” Hy verwys met droë humor na die tyd toe hy en Danie Botha dikwels saam opgetree het: “Ek en Danie verskil soos dag en nag. Hy wou die heeltyd die tempo versnel en teen die duiwel oorlog maak, terwyl ék in kalmte en stilte musiek-salf wou aansmeer en al die stukkendes optel.”
Eie ervaring word lirieke
Die inspirasie vir sy liedjies kom uit eie ervaring – hetsy dit nederlaag of oorwinning is. Dit getuig van lewenslesse waardeur die Here hom geneem het, of soos hy dit stel: “Die meeste van die tyd is my krisisse veroorsaak deur my eie stompsinnigheid en verkeerde besluite.
As ’n mens later terugkyk na die oplossings wat die Here jou gegee het, is dit maklik om daaroor te skryf en te sing. Jou eie antwoorde het dan ook waarde vir ander mense omdat dit ‘n deurleefde werklikheid is – nie net teorie nie.”
Leer uit sy foute
Piet is ’n nederige en beskeie mens, wat openhartig praat oor foute wat hy gemaak het. Hy erken dat daar dinge is wat Hy graag anders sou wou doen en hoop dat ander Christene wat in ‘n bediening staan, uit sy foute kan leer. “Toe ek in 1994 met my bediening begin het, was ek totaal oorstelp met wat die Here vír my en déúr my gedoen het. Daar was ’n onophoudelike stroom van uitnodigings om te kom sing. Ek het vyf keer per week opgetree. Die CD-verkope en die goue- en platinum toekennings was vir my ’n bevestiging van die Here se guns en goedkeuring. Ek kon net nie ‘‘Nee’’ sê nie.
Maar – vandag onthou ek soveel keer wat ek op ’n Saterdagmiddag met my kitaar die huis uitgestap het. Dan sit my twee seuntjies verwese en vra of Pappa al weer gaan sing. ‘‘Ja,’’ het ek elke keer onnadenkend geantwoord. ‘‘Pappa werk vir die Here!’’ Dit het nie oor geld of roem of eer nie gegaan nie. Ek het ’n roeping gevoel om ’n verskil te maak – maar nooit het ek besef dat my verhouding met my eie gesin my eerste verantwoordelikheid was nie. Onlangs eers het ek besef dat hier ’n vrou en twee jong mans in my huis woon – en dat ek hulle eintlik nie ken nie.
‘n Tweede kans
Gelukkig het die Here Piet ’n geleentheid gegee om hierdie fout reg te stel. Nou gim en skubaduik hy saam met sy seuns: “Die Here het my gelukkig ’n tweede kans met hulle gegee. Wat ek egter die graagste sou wou verander, is dat ek meer tyd met my vrou sou wou spandeer. Elmarie het vir meer as twintig jaar lank bykans elke naweek alleen by die huis gesit. In die 35 jaar wat sy al met my getroud is, het sy het ‘n bitter duur prys vir my sangbediening betaal. As ek weer kon kies, sou ek dit anders doen”.
Wat gaan dit verg?
Soveel jongmense vra Piet wat hulle moet doen om ’n beroemde sanger te word. Voor hy raad gee, vertel hy hulle egter eers altyd wat dit van hulle gaan verg wánneer hulle dan bekendheid verwerf het. “Dit is ’n harde lewe waar jy uit ’n tas leef, elke tweede, derde aand in ’n ander bed slaap en dae aanmekaar lank ‘garage-pies’ eet. Jy ry soms vier uur na ’n gemeente toe, stel jou klank op en bedien die mense vir twee uur lank. Ná die tyd gee hulle jou ’n biltongruiker toegedraai in sellofaan – en ’n warm handdruk. Almal groet en ry, en laat jou om alles self weer op te pak.
Terwyl jy dan die lang pad huis toe ry, moet jy alles in liefde verwerk en leer vertrou dat die Here jou die petrolgeld sal gee.” Piet getuig egter dat die Here hulle gesin in 23 jaar nog nooit in die steek gelaat het nie, al het dit al ’n paar keer so gevoel.
Singende berader
Op sy webwerf getuig Piet dat dit sy opregte begeerte is om sy talent uitsluitlik tot eer van God te gebruik. In woord en daad getuig sy lewe inderdaad van ’n diep liefde vir Jesus en respek vir God. Kontak Piet gerus as jy belang stel dat hy by jou gemeente kom optree: www.pietsmit.com.