Regardt Verster is ’n belowende jong krieketspeler wat hopelik nog diep spore in ons land se sportgeskiedenis gaan trap. Ná ’n ernstige motorongeluk het hy ’n “hemelse” ervaring gehad terwyl hy in ’n koma was. Regardt en Annemei (sy meisie met wie hy al drie jaar lank uitgaan) vertel die uitsonderlike getuienis oor wat gebeur het…
Alles het volgens plan verloop…
Reghardt: Ek het van kleins af gedroom om eendag vir die Proteas te speel. Dit het begin met my broer wat versot is op krieket en my pa wat ons leer krieketspeel het – ons is ’n sportmal-gesin, my sussie en ma inkluis.
Ek het vir Suid-Afrika se onder-19-span gespeel en ná skool vir die Northerns Amateurs. Aan die begin van 2014 het dinge uiters goed met die krieket gegaan; ek was presies waar ek wou wees ten opsigte van die spanne en my spel. Alles was perfek, maar toe is ek in ’n ongeluk betrokke…
Op 27 Maart 2014 was ek op pad na ’n krieketwedstryd; dit het die oggend gereën en die pad was seepglad. Wat presies gebeur het, kan niemand met sekerheid sê nie, maar dit blyk dat my motor op die water gegly het, teen ’n stormdrein gebots het en toe ’n boom aan die bestuurderskant met ’n slag getref het.
Op die toneel dood verklaar
Annemei: Ek was by die huis toe ek ’n oproep ontvang om te sê dat Regardt in ’n ernstige motorongeluk betrokke was. By die hospitaal het die ongevalledokter my en Regardt se ouers (Anton en Elna) ingelig dat Regardt op die ongelukstoneel dood verklaar is, maar dat hy toe sy arm onverwags opgelig het. Daarna het sy Regardt se besering soos ’n inkopielys opgenoem:
• Bloeding en drukking op die brein
• ’n Gebreekte neus
• ’n Gebreekte arm
• Longe platgeval
• Gebreekte ribbes
• Geskeurde knieligamente
• ’n Middeldeurgebreekte femur
• Drie verbrokkelde nekwerwels. (Dit was ’n ‘hang-man’s fracture’ en 95% mense wat hierdie fraktuur opdoen, is gewoonlik opslag dood, en die ander 5% is kwadrupleë.)
Waarskynlik breindood
Regardt: Die dokter het Annemei en my ouers daarop voorberei dat ek waarskynlik breindood is, en dat ’n breinskandering dit binnekort sou bevestig. My ouers is gevra of hulle bereid sou wees om solank orgaanskenkingsvorms te teken.
Stabiel, maar kritiek
Annemei: Ek het buitentoe gehardloop en inmekaargesak en gebid. Ek het die Here gevra: “Hoe gee U Regardt vir my net om hom daarna dan weer weg te vat?” Ek het God se antwoord op my gebed ervaar, Sy versekering dat dat Regardt vir ’n kort rukkie by God sal wees, maar dat hy oukei sal wees. Ek het met nuutgevonde gesag teruggestap na waar die hospitaalsielkundige met Regardt se ouers gepraat het. Sy het gevra: “Watter tipe mens was Regardt?” So asof hy alreeds dood is! Ek het geantwoord: “IS, nie was nie.” Ons het gebid en lewe oor hom uitgespreek terwyl ons vir die uitslag van die breinskandering gewag het. Die dokter het met ’n groot glimlag teruggekom en aangekondig dat dit lyk of Regardt se nek met ’n operasie herstel sou kon word: “Hy sal nooit weer loop nie, maar ten minste is daar ’n kans op lewe.” Later die aand, ná baie gebede en nog ’n skandering, het die dokter gesê dit is die grootste wonderwerk, want nou lyk dit asof Regardt se nek sonder ’n operasie sal kan herstel. Regardt is in ICU opgeneem en onder verdowing in ’n koma geplaas. Hy was stabiel, maar uiters kritiek.
Wakende engele
Regardt: Een van Annemei se pa se vriende het vroeg die volgende oggend gebel en vertel dat hy ’n visioen oor my gehad het. Hy het gesien dat ek in ’n hospitaalbed lê met drie engele aan my regterkant, twee aan my linkerkant en een voor my bed met hulle vlerke oopgespan om my te beskerm. Daar was ook ’n doodsengel wat vlak by my bed omgedraai het en gesê hy het dat hy nie daar is vir my nie.
Bid vir volkome genesing
Annemei: Later die oggend het ’n goeie vriendin van my ouers kom kuier. Tannie Lynn lewe na aan die Here en was daar om saam met my en Regardt se ma vir Regardt te salf. Ek kon voel hoe die wind van die Gees die kamer vul. Nadat ons Regardt gesalf het, het ons in een van die kamertjies buite die ICU gaan sit. Tannie Lynn het haar Bybel uitgehaal en gesê: “Nou gaan ons die boek Ester hardop lees.” Elke keer as ek die gedeelte gelees het waar die koning vir Ester vra wat haar versoek is en hy antwoord dat dit vir haar gegee sal word, het tannie Lynn my gevra wat my versoek is. Ek het elke keer geantwoord: “Dat Regardt volkome genees moet word,” en dan het ons gebid.
’n Week later moes Regardt se neus, been en arm geopereer word. Hulle sou ook ’n drei-neringspypie in sy brein plaas om die drukking te verlig. Twee dae voor hierdie operasie, het ek as ’n profetiese teken ’n taliet oor Regardt gegooi. (’n Taliet is ’n gebedsdoek.) Nadat ek dit gedoen het, het vreemde woorde in my kop rondgemaal. Die dag van die operasie het ek die volgende op ’n sakdoek geskryf: “Juda = My boog; Israel = My pyl; Sion= My swaard. God is Regardt se Geneesheer! In Jesus se naam alleen! AMEN ! Die dokters is net instrumente in God se hande. Seën elke dokter in die naam van Jesus Christus.”
Ek het gevoel dat my opdrag was om saam met Regardt by die teater in te gaan, die sakdoek op hom te plaas en dan vir die dokters te bid net voordat hulle gaan opereer. Dit was ’n moeilike opdrag. In die eerste plek omdat ek nie in die teater toegelaat word nie. Tannie Lynn het my gesalf en gesê ek moet in my tale begin bid. Ek het dadelik besef dat dít die vreemde woorde was wat ek die heeltyd gehoor het!
Ek het niemand anders van my opdrag vertel nie. God het Sy engele vooruit gestuur. Niemand het my gestop nie, ek het by die teater ingestap. ’n Verpleegster het my genader, nie om te vra wat ek daar doen nie, maar wat ek in my hand het (die sakdoek). Na my verduide-liking, het sy die sakdoek op Regardt geplaas. Die dokter wat die operasie op Regardt se been sou uitvoer, het uitgekom en ek het vir Goddelike wysheid vir hom gebid.
Die wonderwerke gaan voort
Regardt: Die dokter wat aan my been geope-reer het, het werklik Goddelike wysheid nodig gehad. Almal, behalwe hy, het gedink dat ek ’n pen in my femur moes kry. Hy het genadig ’n exfix [eksterne fiksator] in my been geplant. Was dit nie daarvoor nie, sou ek miskien nooit weer krieket kon speel nie. Die wonderwerke het net nooit opgehou nie. Die X-strale het byvoorbeeld in ’n stadium ’n femur gewys waar die gebreekte beenpunte steeds weg van mekaar af is met min kans om ooit weer aan te groei. Net ’n week later het die nuwe
X-strale ’n femur gewys waar die gebreekte punte volmaak op mekaar pas en reeds nuwe been begin vorm het!
God is in beheer
Annemei: Elke keer as ek Regardt besoek het, het ek Skrif oor hom uitgespreek en ure in die hospitaal se parkeerarea gestap en gebid. Die ongeluk was die moeilikste, maar terselfdertyd die wonderlikste tyd van my lewe.
Rondom Paastyd het Vader vir my nog ’n opdrag gegee. Ek moes ’n rooi lint aan elke hospitaalbed in die ICU bind om Jesus se bloed te simboliseer. Dit herinner aan die Israeliete wat die bloed van die lam aan hulle deurkosyne gesmeer het, sodat die doodsengel sou verbystap.
Gedurende die maand wat Regardt in ’n koma was, het Vader my elke dag sulke opdragte gegee om ander mense te bedien. Om my oor teen God se hart te hou, het my bonatuurlike krag gegee om
alles te hanteer. Ek kon elke dag met ’n glimlag rondloop met die wete – ‘God has got this’. Regardt het ‘n maand later stadig maar seker onder verdowing uitgekom.
Gebed het my gedra
Regardt: Die eerste ding wat ek kan onthou, is dat ek vreeslik beangs was. Jesus het aan my regterkant verskyn en my gekalmeer. Hy het gesê: “Jy gaan oukei wees,” en Sy arm om my gesit. Ek het ’n paar keer daarna weer beangs geraak en elke keer het Hy aan my verskyn en dieselfde woorde herhaal. Ek kon voel hoe almal se gebede my dra en sterker maak. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie, ek het elke keer van binne warm geword en ek kon voel hoe die Heilige Gees my vul en versterk.
My geheue het ook toenemend begin verbeter. Een middag het ek vir Annemei gevra waar haar boeties is. Sy het geantwoord dat sy net sussies het, geen boeties nie.
Tweelingbroers in die Hemel
Annemei: Ek het twee sussies, maar ek het nooit geweet dat my ma ’n miskraam gehad het en ’n tweeling verloor het nie. Ek het begin luister en Regardt oor hulle uitgevra. Hy het verduidelik dat hulle Michael en Hendrik is en dat hulle 6 of 7 jaar oud is. Hy kon selfs hulle voorkoms beskryf. Toe ek my ouers oor die tweeling uitvra, het hulle bevestig dat hulle name Michael en Hendrik was. Ek glo God het dit as bevestiging gegee dat Regardt werklik in die Hemel was en dat wat hy vertel, die waarheid is.
Onbeskryflik mooi
Regardt: Ek het vir Annemei begin vertel hoe die Hemel lyk en wat ek van die gebeure kon onthou.
Die een oomblik het ek nog geslaap en die volgende was ek wawyd wakker. Dit het so werklik gevoel. Soos ’n droom, maar ook asof dit die werklikheid is. Dit het gelyk asof ek by my laerskool is, ek het wonderlike herinneringe daarvan. Daar was ’n fees op die rugbyveld. Dink aan ’n karnaval – alles was ongelooflik mooi en die kleure was vreeslik helder. Jesus het na my toe aangestap… Hy is onbeskryflik mooi. “Hy is ’n baie mooi man,” het ek herhaaldelik aan Annemei gesê. Hy lyk soos die kinderboeke Hom beskryf, met wit klere aan, langerige hare en ’n baard, maar Sy baard is nie so lank soos in party van die boeke nie. Dit is amper ’n stoppelbaard.
Sy oë is ’n vermenging van al die verskillende oogkleure. Dit is groen, blou en bruin. Verskriklik mooi. Jesus het só liefdevol met my gepraat en vir my gesê dat alles oukei gaan wees. Ons het na Annemei toe gestap. Jesus het met haar gepraat. Ek kan nie onthou wat Hy vir haar gesê het nie, maar ek weet dat dit ’n wonderlike gesprek was.
Annemei: Ek weet dit is die oomblik in die hospitaal toe God vir my gesê het, Regardt gaan oukei wees.
So helder soos die son
Regardt: Toe het ons na Michael en Hendrik toe gestap en Annemei het hulle aan my voorgestel as haar boeties. Ek kon sien dat hulle Jesus liefhet. Daarna het ek saam met Jesus teen goue steentrappe opgestap, Annemei het agtergebly. Elke keer as ek bang gevoel het, het Jesus my vasgehou en gesê: “Alles gaan oukei wees.” Daar was baie kruise en ’n helder lig rondom die kruis (’n pragtige lig) ek dink dit was God. Ek het Sy teenwoordigheid die heeltyd gevoel. Toe ons bo aankom, het ek nie een keer beangs gevoel nie.
Daar is nie menslike woorde om die kleure in die Hemel te beskryf nie. Ek probeer om dit te verduidelik, maar dis asof niks dit raak beskryf nie. Ons mooiste kleure op aarde is sekerlik dié van die reënboog. Verbeel jou ’n reënboog x 1 000. God het my genader. Sy lig was so helder soos die son, ek kon nie direk na Hom kyk nie. Hy het gesê dat my werk op aarde nog nie klaar was nie en dat ek moet terugkom. Om eerlik te wees, dit was dit ’n groot ‘downer’. Alles is so maklik en sonder enige bekommernisse. In die Hemel is die volmaakte wêreld.
Krieket en studies
Annemei: Die mediese personeel het geglo dat Regardt nooit weer sal kan krieket speel of universiteit toe gaan nie, maar tydens sy drie maande rehabilitasie het hy van voor af leer loop, lees en skryf.
Regardt: Hulle het eers gesê dat ek nooit weer sal kan krieket speel nie, toe sê hulle as ek weer gaan speel, sal dit eers op die vroegste oor twee jaar wees. Ek het my eerste krieketwedstryd aan die einde van 2014 gespeel! Al het dokters gedink dat ek nie verder sal kan studeer nie, is ek tans besig om hierdie jaar my tweedejaarstudie by TUKS te voltooi. My spel is stadig maar seker besig om terug te keer na wat dit was. Die herstel vind soveel vinniger plaas as wat mens ooit sou kon verwag.
Die ongeluk het my lewe geraak, want nou besef ek wat werklik belangrik is. Ek is nie meer bang om dood te gaan nie, want dan gaan ek na my “regte huis” toe. Ek doen en deel alles met die Here, ek praat elke dag met Hom, en betrek Hom by al my besluite. Ek het ‘n brandende begeerte om vir die Proteas te speel, want ek wil dit nie vir myself doen nie, maar vir die koninkryk van die Here. Ek wil deur middel van my krieket die mense van die Here vertel en my getuienis lewer. Dit frustreer my soms as mense nie glo daar is ’n God nie. Ek wil vir hulle sê: “Glo my, daar is sonder twyfel God, Jesus en Heilige Gees.” Maar mense soek altyd na bewyse en dit is wat ek mense nou wil vertel, jy moet die geloof hê om jou Bybel te lees en uit die Woord te leef en te glo soos ’n kind.
Aan Hom allle eer!
Ons deel hierdie getuienis om te vertel hoe groot God is. Hy het volkome genesing belowe en hier staan ek volkome genees. Aan Hom alle eer! Dit is belangrik dat mense weet álmal kan so na-aan Hom lewe, ’jy hoef nie ’n trauma te ervaar om ’n persoonlike verhouding met Hom te hê nie. Hy is enige tyd aan enigiemand beskikbaar. As iemand gedink het God bestaan nie; ons wil jou vertel: HY LEWE!