
Verlede jaar het ons Henry Jackson se verhaal van oorwinning en vergifnis gepubliseer nadat sy plaas in Zimbab-we oorgeneem is; hy onder vals aanklagtes in hegtenis geneem is; en hy saam met sy vrou, Mandy, na Suid-Afrika ontsnap het. Hierdie inspirerende paartjie woon nou in Victoria-Wes en bedien en bemoedig boeregemeenskappe en kerke landswyd met die boodskap van hoop en vertroue in ’n getroue God.
Hoe hanteer jy die verskrikking?
Talle Suid-Afrikaners was al self die slagoffers van geweld óf het familie of vriende wat slagoffers was. Talle het selfs geliefdes verloor wat wreedaardig vermoor is. Ook diegene wat nie direk deur hierdie boosheid geraak is nie, dra littekens en ervaar pyn, want die verskrikking daarvan kring wyer as net die mens wat aangeval is. Wat doen jy as Christen met die wrewel, die vrees, die pyn wat alle vreugde in God en geloof baie ver kan laat voel?
Aangerand en beroof
Henry en Mandy bedien dikwels diegene wat weens so ’n voorval in hulle lewe berading benodig. Benewens die plaasoorname het hulle self ook ’n huisroof beleef. In 2001 het vyf mans by die kombuis ingebars, Henry met telefoondrade op die vloer vasgebind, Mandy ook rondgestamp en na die slaapkamer gesleep om “geld en wapens” aan hulle te oorhandig. Een van die mans het hulle drie verskrikte kinders in die badkamer op die vloer laat sit.
Hulle het die gesin beroof en Henry het gehoor hoe die mans in Shona die gesin se lot bespreek. Een het voorgestel dat hulle doodgesteek moes word. Henry en Mandy het saggies in tale begin bid…dit het stil geraak en toe hoor hulle die aanvallers se bakkie wegtrek. Hulle lewens is gespaar…Dit het Mandy egter tien jaar lank geneem om dit te verwerk.
Verskillende reaksies op innerlike pyn
Op hulle reise deur die land kom die Jacksons verskillende reaksies teë – die uiterlike vrugte waarin mense se innerlike pyn en vrees ui-ting vind. Daar is rassehaat en vrees, asook ’n diepe teleurstelling. Veral by ouer mense wie se drome aan flarde is omdat hulle lewenslange verwagting dat hulle kinders die boerdery eendag sou oorneem, nie verwesenlik is nie en hulle kinders nou in Australië of Nieu-Seeland woon.
Henry beskryf ook siektes soos kanker en hoë bloeddruk wat direk aan die diep seer en verwyt gekoppel kan word wat mense in hulle ronddra. “Een van die dinge wat ons tref, is die gebroke menseverhoudings – veral huwelike,” vertel Henry. “Die spanning waaronder mense leef, veroorsaak dat hulle onredelik teenoor geliefdes optree en dan verbrokkel verhoudings.”
’n Venster op ’n bevreesde hart
Henry beskryf ook die woede van diegene wat nie self aangeval is nie, maar wat planne beraam vir ingeval dit gebeur en dit dan oor en oor in hulle gedagtes afspeel. Hy brei uit: “ ’n Man het byvoorbeeld gesê: ‘My hoop is in my kluis. As hulle hier kom, skiet ek die **** vrek!’ ’n Ander man het vertel dat hy sy huis en alles sal afbrand, sy boorgate sal toegooi en die hele plaas verwoes as “hulle” kom om die plaas te neem.”
Hierdie tipe gedagtes is ’n venster op ’n siel wat bevrees is en nie weet wat om daaromtrent te doen nie.
Hoe verwerk jy die beelde en herinneringe?
Baie mense wat so ’n trauma oorleef, sukkel om die beelde en herinneringe te verwerk. Henry erken: “Ek moet eerlik wees, dit is baie moeilik. Veral in die nag kom die pyn en angs na vore.” Volgens hom is dit ’n daaglikse besluit om in vergifnis te wandel en nie die gebeure herhaaldelik in herinnering te roep nie. Hy verduidelik: “Hoop is slegs te vinde in geloof in ons Vader wat ons déúr die dal van doodskaduwee neem na die tafel wat Hy aan die anderkant voorberei het, en dít in die teenwoordigheid van ons vyande. Dit is ’n plek waar selfs die dood (die ergste wat die duiwel kan aanrig) eintlik nietig is. Die Christene wat gruwelik gesterf het, is in Jesus se teenwoordigheid, sonder pyn. Hulle trane is afgevee.
Die antwoord lê in ons gesindheid. Ons moet die groter prentjie sien – ’n groeiende koninkryk waarvan ons deel is. Dit gaan oor die redding van siele en die bou van God se koninkryk en as dit geskied deur die gee van my lewe, doen ek dit in liefde – selfs vir die vyande wat my vermoor. Dít is die gesindheid wat vrees en angs in die oog kan kyk en vreugde kan ervaar. Ek sê dit nie ligtelik nie, maar dit is my ervaring. Vul jou huis met musiek en vreugde. Wanneer gedagtes van vrees en angs oor die toekoms my oorval, gaan sit ek by die klavier en sing van die Here en Sy koninkryk. Dit verdryf alle vrees.”
Hoe kan jy weer vrede ervaar?
Tog vind baie mense die sprong van teorie na die praktyk te groot. Hoe kan jy ’n vrede ervaar wat jy verloor het en nie self kan skep nie. Hoe herstel jy jou vertroue in God? Vir Henry draai dit juis daarom dat vertroue nie ’n gevoel is nie, dit is ’n geloofsbesluit. ’n Mens benodig vertroue juis wanneer alle hoop soos ’n mat onder jou voete uitgepluk is. “Ek maak doelgerig ’n besluit om my Hemelse Vader te vertrou wanneer dit blyk dat Hy baie ver weg is. Lees die Psalms. Hulle is geskryf om ons in verskriklike moeilike tye te bemoedig.” Vir Henry was die Psalms ’n lig in die donkerste nag – daardeur kon hy vrede en vreugde in onmoontlike tye beleef en dít is geloof.
Die worsteling van vergifnis
Die grootste worsteling is egter om te vergewe, veral omdat dit geregverdig voel om moordenaars en geweldenaars se dade teen hulle te hou. Hoe vergewe jy en hoekom is dit so belangrik om te vergewe? “Dit is ’n besluit om God te gehoorsaam omdat Hy beter weet as ek,” sê Henry. “God het ons geskape en as Hý sê vergewe, is dit omdat dit vir my die beste is – vir my gemoed, my geloof, my vreugde en vrede.” Hy kwalifiseer egter dat as hy ’n misdadiger vergewe, dit nie beteken dat die misdade aanvaarbaar is nie. Gruweldade is nooit regverdigbaar nie.
Henry plaas die verantwoordelikheid vir geregtigheid in die hande van die reg en die Regter. “Gruweldade sal gestraf word met die vreeslikste straf denkbaar. Ook as daardie moordenaar homself bekeer, beteken dit nie dat daar nie vir daardie dade betaal is nie. Die volle straf vir sy gruweldade val op Jesus aan die Kruis. Hy dra die straf sowel as die pyn en lyding van die slagoffer en oorkom dit vir beide die skuldige en slagoffer.
Daarbenewens het Hy ook vir my eie verkeerde dade betaal sodat ook ek vandag vry is. As ek nie vergewe nie, dra ek self die nagevolge van my dade – in die smart van hierdie lewe en in die hel na my dood. Dit is baie beter om te vergewe, nie net vir ons welstand in hierdie lewe nie, maar ook vir die een wat kom.”
HENRY EN MANDY JACKSON is beskikbaar as gassprekers en vir bediening en berading. Kontak hulle by info@henryjackson.co.za of besoek www.henryjackson.co.za