
Retief Burger is onlangs met die energieke Isabel Mischke getroud. Hy is een van Suid-Afrika se mees geliefde aanbiddingsangers en -leiers en ’n bekende gesig by Mighty Men-byeenkomste, maar min het ons geweet dat hy ook baie sportief is en al aan Ystermankompetisies, die Comrades en die Argus deelgeneem het! Ons het met Retief en Isabel oor hulle verhou-ding en troudag gesels en wou Isabel ook so ’n bietjie van nader leer ken.
Wie is Isabel ?
Isabel het as 13-jarige by ’n CSV-kamp ’n totale oorgawe aan Jesus gemaak. Dit was so hittete of Retief was haar kwyt toe sy op 22 amper getroud is. Sy het egter gevoel God het ’n ander plan vir haar lewe. Dit was nie ’n maklike besluit nie en sy het voorwaar nie gedink dat die Here haar eers 12 jaar later met die man gaan seën saam met wie sy in die bediening kan staan nie. Isabel het nie gesit en wag dat die Here vir haar ’n man stuur nie; sy het die lewe voluit aangepak. Sy was twee jaar oorsee, het haar eie arbeidsterapiepraktyk in Suid-Afrika begin en haar meestersgraad voltooi. Van 2007-2010 was sy by mediese opheffingsprojekte in Uganda betrokke, het in 2009 (met ’n bietjie oorreding van Retief se kant af) ’n driekampatleet geword en die volgende jaar die Ysterman 70,3-resies saam met hom voltooi! Sy is ’n kranige atleet: in 2011 wen sy die Suid-Afrikaanse driekampkampioenskap in haar ouderdomsgroep en eindig derde in haar ouderdomsgroep by die ‘Cross Triathlon’ wêreldkampioenskap in Spanje. In 2012 moes sy weens ’n besering eers die driekampskoene ophang, en ook maar goed so, want sonder die besering sou sy nooit tyd gehad het vir ’n verhouding met die druk oefenprogram én haar praktyk nie! In Maart 2013 is sy op haar eie na Nepal om in die Himalajas te gaan stap (darem saam met ’n gids), min wetend dat dit die laaste avontuur sou wees wat sy alleen sou aanpak.
Isabel, was jy altyd so onafhanklik, of waar kom hierdie streek vandaan?
I: [Lag] Ek was maar altyd avontuurlustig. Ek het dit seker van my pa geërf wat op ’n keer vir 14 maande lank in Antarktika gaan werk het. Ek het gedink, aangesien ek nog enkel is, gaan ek van my drome bewaarheid; ek gaan ‘aspris’ lewe.
Retief, hoe het jy en Isabel ontmoet en wanneer het jy besef dat sy ‘die een’ is?
R: Ons ken mekaar al 20 jaar lank; ons het in dieselfde skoolkringe beweeg en gereeld by CSV-kampe ontmoet. Ons paaie het deur die jare bly kruis totdat ons in dieselfde gemeente beland het. Ons het ‘niksvermoedend’ nader aan mekaar begin groei. Ons is albei lief vir sport en dit is juis uit hierdie gedeelde belangstelling en saam oefen dat ons verhouding op ’n natuurlike wyse kon ontwikkel. Dit is gebore uit vriendskap en kameraadskap; Isabel was ’n neutrale vriendin, iemand met wie ek kon gesels. In 2013 het dinge in my hart begin gebeur, maar dit het ’n tydjie geneem voordat ek uiteindelik besef het, ek wil en kán nie sonder haar lewe nie. Ek het onrealistiese verwagtinge oor ’n huweliksmaat gehad en Jesus het my werklik hiervan bevry.
Wat sou jy as onrealistiese verwagting beskryf?
Ek kan dit oorvergeestelik en sê ek het gewag tot die Here my maat vir my gee. Die feit is, ek het verkeerde verwagtinge gehad – gewag vir ’n Christelike feëverhaal met die perfekte prentjie. Dit is ’n probleem vir baie enkel-Christene, hulle wil die Here behaag en is te bang om ’n fout te maak, daarom doen hulle liewer niks nie. ’n Mens móét uitgaan en doen en leef – met integriteit natuurlik, maar moenie bang wees om in verhoudings foute te maak nie; dit is deel van menswees. Dit is een van die wonderlike dinge wat Isabel my geleer het – daardie fantasiewêreld met ’n volmaakte verhouding en twee volmaakte Christene bestaan nie. Die verhouding wat ’n mens het, waar jy betrokke is met ’n ander mens van vlees en bloed, dít is die realiteit, dít is waar jy lééf!
Hoe het jy geweet dat Retief die man is wat God vir jou het?
I: Soos Retief gesê het, ons het mekaar lank geken en was vir die afgelope vyf jaar beste vriende. In Mei 2013 het die Here met my gepraat dat dit die jaar vir ’n deurbraak in Retief se verhoudings was en dat ek hom daarmee moes help. Tien dae daarna het Retief my huis binnegestap en sy hart oopgemaak.
Waar is julle getroud?
R: Ons is by The Silver Sixpense, naby Belfast in Mpumalanga, in die mooiste bloekombos getroud. Ons jarelange vriend, Floyd McClung, het die preek behartig en Phillip Pretorius, van Every Nation, het die wetlike aspekte behartig en die diens afgesluit.
Vertel ons van spesiale oomblikke op julle troudag
I: Ek en Retief het mekaar die oggend in die woud ontmoet. Hy is aan die een kant van die pad wat dwarsdeur die woud loop, afgelaai en ek aan die anderkant. Daar was niemand anders behalwe die fotograwe en die video-graaf wat tussen die bome versteek was nie. Ons het begin aanstap en mekaar in die middel ontmoet. Die sonlig het so mooi tussen die bome deur geval en toe Retief oor ’n effense bultjie in die pad te voorskyn kom, is my asem weggeslaan. Dit was so ’n kosbare, heilige oomblik waar ons saam met God dankbaar kon wees oor ons troudag. Ons het daar in die woud saam gebid en die dag aan die Here opgedra. Nog ’n hoogtepunt was die liedjie wat Retief en Len Muller vir my geskryf en ge-sing het. Die koor lui: “Rug teen rug staan ons, ek veg vir jou, jy veg vir my en wie sal ons kan keer as Liefde ons self leer?” Net ná ons eerste soen as meneer en mevrou Burger, het Retief sy hande in die lug gegooi, opgekyk en uitbundig gejuig. Dit was so ’n feestelike oomblik waarin jare se wag, bid en hoop en só baie gebede en beloftes uiteindelik tot vervulling gekom het.
Wat is julle advies vir Christene wat al lank vir hulle lewensmaat wag?
I: Ek sê dit respekvol, want ek weet hoe dit voel as God se tyd vir jou nog net nie aangebreek het nie. Wees ten volle in die hier-en-nou. Dikwels wens mense die tyd om; jy moet altyd wat God in jou hart geplaas het, najaag, ongeag of jy al ’n lewensmaat het. Wees geanker in die hawe van God se liefde, nie iemand anders nie.
R: ’n Mens moenie wag vir iemand om jou van jou alleenheid te red nie, niemand kan dit vir jou doen nie. Daar is nie ’n perfekte persoon wat die leemte binne jou kan vul nie, dit is iets wat jy eers by die Here moet vind. Dikwels is dit wanneer jy eers vrede en vervulling, selfs in jou enkelheid gevind het, dat God iemand in jou lewe inbring.
Wat behels jou betrokkenheid in Every Nation?
R: Ek het in 2008 by die gemeente aangesluit en was as vrywilliger betrokke. In Februarie 2013 het ek die leiding van die Lynnwoodgemeente in Pretoria, oorgeneem. Ons glo in spanwerk en vorm ’n hegte eenheid, met Christus as Hoof. Ek lei ons gemeente met ’n span ouderlinge en lei omtrent nooit meer aanbidding in ons gemeente nie omdat ons juis daarop fokus om nuwe mense op te lei.
Jy bestee wel tyd met aanbiddingspanne en die leierskap van gemeentes, veral rondom dissipelskap. Hoe doen jy dit?
R: Wanneer ek in ’n dorp bedien, reël die gemeentes dikwels ’n opleidingsessie vir die voorafgaande middag. Ons bied ook een maal ’n jaar die Dieper Aanbiddings-konferensie aan, waarby ek betrokke is. Hiertydens kom aanbiddingsleiers byeen vir opleiding en inspirasie. Die dissipel-skapsopleiding vind veral by ons jaarlikse CLX (Church Leadership Experience) plaas.
Isabel, wat is jou toekomsvisie?
Ek is opgewonde oor wat die Here vir my en Retief as span beplan. Ek wil vroue aanmoedig om hulle waarde in Christus te besef. Ek is lief vir mense en dit is ’n voorreg om elke dag in my praktyk met mense te werk. Ek hoop dat my praktyk in die toekoms ook ’n rol kan speel in die genesing van mense ook op ’n geestelike en emosionele vlak. Ek geniet dit om in ’n span saam met my man te wees. Dit is ’n voorreg om hom te ondersteun en saam in die kerk te dien.
Retief, vertel ons van jou betrokkenheid by sportmanne, soos die gholfspelers wat jy onlangs bedien het, of by geleenthede soos die Mighty Men-byeenkomste ?
R: Ek het ’n groot liefde vir sport en ken ’n paar manne in die sportarena – as daar geleenthede is om sportmanne te bedien, gryp ek dit aan. Seker een van die spesiaalste geleenthede op my ka-lender is die jaarlikse Karoo Mighty Men. Om soveel manne voor God te sien buig, bly steeds iets wat my hart roer.
Ten slotte, wat is jou boodskap vir die jongmense van vandag?
Daar is so baie ‘afgode’ wat om jou aanbidding meeding. Ons almal is geskape om te aanbid; jy sal altyd iets of iemand aanbid. Net God alleen is waardig om aanbid te word en Hy alleen kan jou ‘versadig’. Moenie voor ‘afgode’ van groepsdruk, gewildheid, sonde en verslawings buig nie. Gee jou lewe oor en laat toe dat Jesus die koning van jou hart word!