
Van al die dinge waarmee satan homself besig hou, is die grootste seker sy geveg met Christene. Sy uitsluitlike doelwit is om Christene te verhinder om in hulle geloofslewe te vorder en om ander tot diens te wees. Hy beskik natuurlik oor ’n hele klomp strategieë en middels om dit te doen, en sodoende groei in die Kerk negatief te beïnvloed – in sowel getalle as geestelike volwassenheid. Maar: satan is eintlik bang vir jou, veral as jy die Skrif ken. Jy moet dus moeite doen om geestelik te groei en jou erfporsie op te eis!
Dit is van kardinale belang om te onthou dat die Koninkryk van God op die beginsel van konfrontasie opgerig is. Jesus het die demone, die godsdienstiges en Sy vyande gekonfronteer. “Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.” Matt 16:18.
Jy moet die satan weerstaan. Jy moet jou wil aktiveer, wetende dat Hy wat in jou is, veel groter is as hy wat in die wêreld is. As Christene moet ons ons vyand ken: “Die bedoeling is dat ons nie deur die satan uit-oorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!” 2 Kor 2:11. Die volgende is sommige van satan se strategieë teen die gelowige kind van God:
Onkundigheid oor die Skrif
Satan wil God se Woord van die gelowige weerhou sodat die gelowige nie kan groei nie. Onkundigheid oor die Skrif is onkundigheid oor God se beloftes en Waarhede. Jesus het gesê: “…julle sal begryp wat die Waarheid beteken, en die Waarheid sal julle vrymaak.” Joh 8:32.
Tensy ons die Woord bestudeer en ons harte met die Waarheid vul, sal ons in geestelike duisternis en misleiding deur die satan vasgevang sit. “Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, staan vir die mense wat die Boodskap hoor, maar dan kom die satan onmiddellik en vat die Woord wat in hulle le-wens gesaai is, weg.” Mark 4:15.
Verdraaiing van die Skrif
Satan sal sy bes probeer om jou in ’n verdraaiing van die Waarheid geïnteresseerd te kry. Sy dryfveer is om elke goeie en mooi gawe van God te bederf (Gen 3:1).
Die duiwel kan ook die Skrif aanhaal, maar dit sal altyd ietwat verwring wees sodat jy van die waarheid van God se Woord en Wil vervreem word. Dit bring geen vreugde of oorvloed in die lewe nie.
Duisende belydende Christene ontken deesdae die akkuraatheid van die Skrif deur te sê dat dit nie geïnspireer is nie. Hierdie mense is van mening dat die Skrif slegs die Woord van God bevat, maar nie letterlik die Woord van God is nie. Dit staan as ‘liberale teologie’ bekend. Baie teologiese kweekskole waar die meerderheid predikante opgelei word, gaan van die standpunt uit dat die Bybel nie die finale gesag vir dogma en gedrag is nie. Wees versigtig wat jy lees! Verleiding is dikwels baie subtiel.
Huweliksprobleme/seks
’n Volk is net so sterk soos wat sy mees basiese bousteen, die gesin, is. Die huwelik is die oudste Godgegewe instelling. Indien ’n gesin verdeeld is, sal die volk ook verdeeld wees. Die huisgesin is deesdae ’n bron van kommer vir die Kerk. Die egskeidingsyfer is skokkend hoog en huweliksberading vorm ’n groot persentasie van die Christen-bera-der se werkslading.
Baie van hierdie probleme het as gevolg van die seksuele probleme wat tans binne die huwelik ondervind word, ontstaan. Dit is ’n feit dat indien ’n man en vrou nie hul seksuele verhouding kan geniet nie, hulle hele huwelik in gevaar is. En hierdie stelling is beslis nie ’n oorvereenvoudiging nie. Die seksuele verhouding is die kern van die huweliksverhouding. God is bewus hiervan – Hy het daardie seksuele aantrekkingskrag vir die huweliksmaat geskep.
Dit is belangrik om hierdie aspek van die skepping as deel van God se meesterplan te erken. Jou huwelik kan die naaste aan hemels wees of dit kan ook hel op aarde wees. Satan sal sy allerbeste probeer om ’n seksuele wig tussen paartjies in te dryf. “Maar omdat daar soveel onsedelikheid is, behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die eggenoot behoort nie sy vrou seksuele intimiteit te ontsê nie. Dit is haar reg as getroude vrou. Net so moet die vrou ook nie haar man die intimiteit ontsê nie. Met die huwelik het die vrou medeseggenskap oor haar liggaam oorgedra aan haar man. Net so het die man medeseggenskap oor sy liggaam aan sy vrou oorgedra. Julle moet mekaar dus nie van seks beroof nie, behalwe as julle oor-eenkom op ’n beperkte tyd van onthouding sodat julle julle meer volkome aan gebed kan toewy.” 1 Kor 7:2-5.
Die duiwel is daarop uit om die huwelik te vernietig. Beskerm jou daarteen en indien jy hulp nodig het, praat met jou geestelike leier. Hulle het beslis al vantevore hiermee te doen gekry. Jy kan ook verryk word deur ’n hele aantal Christelike boeke oor hierdie onderwerp te raadpleeg.
Onvergifnis
“As julle hom iets vergewe, vergeef ek hom ook. Want as ek iets het om te vergewe, het ek dit reeds gedoen ter wille van julle, in die teenwoordigheid van Christus. Die bedoeling is dat ons nie deur die satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!” 2 Kor 2:10-11.
Jou gedagtes
Jou gedagtes is satan se hoofteiken. Indien hy jou gedagtes kan oorwin, het hy jou oorwin. Jy is net so geestelik as jou gedagtes (Rom 8:5-7). “Bo alles, wees versigtig wat in jou hart aangaan. Wat jy dink, bepaal alles wat jy doen.” Spr 4:23.
Jy moet leer om jou gedagtes te beveg aangesien dit vestings in jou lewe kan word. Moenie verstandelike owerspel pleeg deur dit wat jy kyk, luister of dink nie. “Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” 2 Kor 10:4-5.
Louheid
Daar is niks wat die duiwel meer bevrediging gee as louheid nie. Satan weet dat die persoon wat dink dat hy goed vaar en dink hy doen eintlik meer as wat hy werklik doen, nie regtig ’n gevaar is nie. Jy kan ’n louwarm Christen net mooi niks nuuts vertel nie, want hy dink hy weet reeds alles. Jy kan ook nie vir hom vertel dat hy ingewortelde tradisies moet verander nie.
Verskillende denominasies kan vergelyk word met ’n skildery van Jesus wat in verskillende rame geplaas word. Mense raak so vasgevang in argumente oor die rame (die teologie en dogma) dat hulle eintlik vergeet dit is dieselfde skildery. Jesus is werklik en persoonlik; laat ons dus op Hom fokus.
Jesus is besig om aan die deur van die Kerk te klop en Hy wil graag inkom (Op 3:15-16). Indien jou kerk Jesus nie passievol bemin nie, moet jy beslis daar uitkom. Die hel is werklik, net soos wat die Hemel werklik is. Jesus is werklik. Ons is opgeroep tot daaglikse aanbidders van die enigste ware God; ons is beslis nie duikboot-Christene (sigbaar op Sondae en onsigbaar die res van die week) nie.
Onbelyde sonde
Onbelyde sonde is die duiwel se geleentheid. Hoe langer jy sondebelydenis uitstel, hoe moeiliker word dit om te hanteer. Moenie jou sondebelydenis uitstel nie. Die oomblik wat jy sondig, bely dit en ontvang vergifnis. Glo baie vinnig, bely blitsig en vergewe blitssnel.
“As ons egter ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh 1:9.
“Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug. Kom nader aan God en Hy sal nader aan julle kom. Was julle hande van die sonde wat daaraan kleef, julle sondaars, maak julle harte skoon, julle tweegesigte wat nie kan besluit aan wie julle getrou wil wees nie. Trane moet wys dat julle jammer is oor die verkeerde goed… Val voor die Here neer en wys dat julle van Hom afhanklik is, en Hy sal julle optel en aan julle aansien gee.” Jak 4:7-10.
Sondeversoeking
Sonde is die eiendom van die duiwel en ook sy voortdurende wapen om God se mense in rebellie en ongehoorsaamheid van Hom af weg te trek. Satan gebruik ons vlees en die wêreld om ons tot sonde te verlei. (1 Joh 2:15-17; Gal 5:19-21).
“In julle huweliksverhouding met God is julle ontrou! Besef julle nie dat vriendskap met die wêreld jou ’n vyand van God maak nie?” Jak 4:4.
Dit is nie sonde om versoek te word nie. “Wanneer iemand iets verkeerds wil doen, moet hy nie sê: ‘God mislei my’ nie. Ons weet mos God kan nie verlei word om verkeerd te doen nie, en Hy verlei ook niemand nie. Ons eie natuurlike geneigdheid beproef ons, sleep ons saam en verlei ons.” Jak 1:13-14. Selfs Jesus is deur die duiwel versoek. Dit word egter sonde wanneer jy ingee en toelaat dat jy versoek word. God het belowe dat Hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Kor 10:13).
Onenigheid
Onenigheid is in trots gewortel (Spr 28:25 en 1 Kor 3:1-3). Ons lees die volgende in Spr 6:16-19 – “Daar is ses dinge wat die Here haat, nee, eintlik sewe dinge waarvan Hy ’n afsku het: oë vol hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat onskuldiges dood-maak, ’n hart wat slegte planne beraam, voete wat agter kwaad aanloop, ’n valse getuie wat leuens verkoop, en iemand wat rusie veroorsaak tussen broers.”
God haat onenigheid! Christen-leiers behoort onenigheid baie vinnig te hanteer en die persone wat daarvoor verantwoordelik is, aan te spreek. Onenigheid moet daar en dan hanteer word omdat dit ’n kerk letterlik verskeur (Gal 5:15). Jou ore is nie vuilgoedblikke nie. Jou ore is bedoel om die Goeie Nuus te hoor!
Wees versigtig vir die smaaklike brokkies skindernuus en onenigheid
(Spr 26:21-25). Moenie toelaat dat die valsheid van skinderstories en onenigheid jou liefde en respek vir ander besoedel nie. Wees veral versigtig vir skinderstories, veral wanneer dit die karakter van jou geestelike leiers aftakel (Rom 16:17-18, Spr 1:8-15).
Pas die Woord van God in jou lewe toe en jy sal nie vir die duiwel bang hoef te wees nie.
Kopiereg © Paul Daniel