
Die naam ‘Dirkie van der Spuy’ is al sinoniem met Moreletapark, een van die heel grootste NG Kerk-gemeentes wat aan die suid-oostekant van Pretoria geleë is. Hoe hierdie gemeente van ’n klein groepie wat aanvanklik in ’n skoolsaal bymekaar gekom het, gegroei het tot die mega-gemeente wat tans ongeveer 15 000 lidmate bedien, bly een van die wonderverhale van die kragtige werking van God se Heilige Gees. Waarvan min mense egter bewus is, is dat Dirkie van der Spuy, leierpredikant van die gemeente en tans leier van die Moreletapark Assosiasie – die uitreikfokus van hierdie gemeente – en sy gesin, al deur diep waters moes gaan en dus kan getuig dat Christen-wees geensins beteken dat jy ’n probleemvrye lewe tegemoet gaan nie. JUIG! het met Dirkie oor sy pad as predikant die afgelope 38 jaar gesels.
Jy is nou alreeds 38 jaar in die bediening. Is daar enige spesiale oomblikke wat vir jou besonders is en dus na aan die hart lê?
As ek terugkyk oor my bediening, is daar baie geleenthede waar ek verstom gestaan het oor hoe mense se lewens verander, bevry word, en heel en gesond word. Reg aan die begin van my bediening was daar ’n jeugkamp en ek het oor geloofsekerheid en Geesvervulling gepraat.
By hierdie geleentheid het die Gees van die Here kragdadig oorgeneem en studente het onder die besef van hulle sonde gekom en in groot getalle tot be-kering gekom. Hierna is hulle met nuwe vuur terug koshuis toe en het die vlam van God se Gees letterlik soos ’n veldbrand versprei. Van vroeg tot laat het ek elke aand in ’n koshuisvertrek gesit terwyl studente in lang toue gewag het om hulle lewe met God reg te maak. Toe het ek geweet dat Jesus regtig opgestaan het en lewe. Hy kán en wíl lewens ver-ander en mense nuut maak.
Hierna was dit elke keer vir my wonderlik om te sien hoe lidmate se lewens verander as hulle ’n opregte ontmoe-ting met Christus gehad het. Dit bly ’n hoogtepunt wanneer ek sien hoe mense aktief by die kerk begin inskakel en betrokke by kleingroepe raak en in liefde vir mekaar begin omgee. Hierdie gelowiges wat die seën van kleingroepe ontdek het, het elke keer die dinamiese kern van die gemeente geword. Daar was baie ander geleenthede waar ’n mens verstom gestaan het as die Here mense aanraak, maar tog bly die belewenis van Moreletapark se groei een van dié wat uitstaan. Solank ons besig was om die Evangelie uit te dra, het ons beleef hoe die Here die gemeente versorg en seën.
Dink jy dit is deesdae moeiliker om in ’n moderne samelewing as predikant leiding te gee as ’n paar jaar gelede?
Om eietyds en effektief die Evangelie by mense uit te bring, sal altyd ’n uitdaging bly. Tog besef ’n mens die boodskap van verlossing van sonde bly ten diepste dieselfde en mense se soeke na liefde, vergifnis en nuwe lewe het ook nie verander nie. Daarom is dit belangrik dat ’n predikant naby aan die mense, maar ook naby aan God, sal bly en dat hy gehoorsaam sal wees aan die leiding van die Heilige Gees eerder as om net tradisies in stand te hou of mense tevrede te probeer stel.
Jy is deesdae leier van die Moreletapark Assosiasie. Kan jy vir ons verduidelik wat dit behels?
Die Moreletapark Assosiasie is deel van die gemeente se uitreikaksie en fokus op die ondersteuning van leiers en gemeentes. Ons het gesien hoe God elke dag wonderwerke doen en gemeentes laat groei om ’n groter invloed op hierdie wêreld te hê.
Dit bly steeds God se begeerte vir elke gemeente. Om ’n gemeente te bereik, is dit belangrik om by die leier van daardie gemeente te begin. As die leier vlam vat, sal hy ook sy gemeente aan die brand steek. ’n Gemeente wat herleef, sal ook ’n transformerende impak op die gemeenskap en die mense in sy dorp hê.
Hoe omvangryk is julle internasionale uitreikaksies en waarom het julle gemeente daarop besluit?
Ons het hier in Pretoria ’n inisiatief om geestelike leiers oor kerk- en kultuurgrense saam te bring om mekaar te ondersteun. Die seën hiervan kring uit na ons stad en ons onderlinge samewerking. Die verryking wat ons bymekaar gevind het, is deel van God se plan vir elke kerkleier.
Vier jaar gelede het ’n aantal leiers van die grootste Christen-kerke in die wêreld saamgekom om hulle gemeenskaplike behoeftes te deel en mekaar te ondersteun. Hierdie netwerk van verhoudinge het uitgekring sodat daar tans ongeveer 120 leiers van oor die hele wêreld betrokke is.
Die seën en die geestelike opbou wat hierdie leiers op mekaar het, kan nie beskryf word nie. Uit hierdie byeenkoms van kerkleiers het ook ’n volgende behoefte ontstaan en dit is om die Christen-sakemanne wat ’n groot rol in elke land speel, ook op ’n wyse saam te bring. Volgende jaar sal die tweede byeenkoms plaasvind waar geestelike leiers en Markplein-leiers mekaar beïnvloed en mekaar aanmoedig om steeds ’n groter geestelike invloed in hulle besighede en in hulle lande uit te oefen.
Mense is geneig om te dink dat jy, as kind van God, en bowenal as jy ’n predikant is, van moeilike tye en ervarings gevrywaar word. Tog is niks verder van die waarheid nie. Julle gesin moes al uiters moeilike omstandighede hanteer. Hoe het jy/julle dit verwerk?
Ek en Esther dank die Here vir al vyf ons kinders wat van kleins af die Here gekies het en Hom lief het en van harte dien. Juis in die tyd toe Moreletapark-gemeente geweldig gegroei het, het ons tweede oudste kind, Annamari, in haar standerd 9-jaar (nou graad 11) skielik siek geword a.g.v. lewerkanker. Hulle het haar opereer om die kwaadaardige gewas te verwyder, maar weer net so toegewerk omdat hulle op geen manier die gewas kon verwyder nie. Dokters het haar net ses weke kans gegee om te leef. Sy het egter vir twee jaar lank geveg teen die kwaad wat haar liggaam, gees en ons almal se gemoed aangeval het.
Sy het haar matriek suksesvol voltooi en met haar diensjaaropleiding om voltyds vir die Here te werk, begin. Na ’n lang stryd en baie gebede, het die Here haar kom haal en is sy Hemel toe. Ons was platgeslaan en kon nie verstaan hoekom die Here honderde gebede nié verhoor het nie.
Onlangs het die dokters ’n kwaadaardige gewas in Esther se speekselklier ontdek. Na ’n baie lang operasie is dit verwyder en is die gesigsenuwee se senuweebane oorgeplant om aan te groei. Ses lang weke van bestraling het gevolg. Die fisiese, emosionele en geestelike stryd wat hiermee gepaard gaan, was by tye onmenslik groot, maar sy het sodanig herstel dat sy weer as dosent by UP kon begin werk.
Het dit enigsins jou/julle verhouding met God beïnvloed?
Dit bly ’n voortdurende stryd in ’n mens se gedagtes omdat jy nie kan verstaan waarom God dit toelaat nie. ’n Lang tyd was ’n mens kwaad vir God en was dit ’n geestelike stryd om Hom te vergewe en vrede met Hom te maak. Ons verstaan nie die impak van die geestestryd en die rede waarom God dit toelaat nie.
Ons weet wel dat God, in Sy liefde en Genade, steeds by ons was en ons steeds dra as dinge moeilik raak. Dit bly dus ’n groot stryd om steeds God te bly kies, te bly liefhê en te bly dien, al het ’n mens hierdie seer en te-leurstellings deurgemaak. Uiteindelik het Sy liefde ons nóóit gelos nie. Na hierdie geestelike stryd is ’n mens net nederiger omdat jy besef dat ons niks en nietig is en dat ons lewe hier net tydelik is.
Watter raad het julle vir mense wat toenemend deur ernstige siektes, soos kanker, geraak word sodat hulle nie verbitterd word nie?
Per slot van rekening bly dit ’n keuse ongeag jou eie gevoel, want ’n mens voel nooit lus om seer en swaar sommer agter te laat nie. Ons besef dat ons almal tydelik op aarde leef en dat ons ’n ewigheidsperspektief moet hê om te weet dat ons na die dood steeds sal voortleef. Ons het daarom één troos: Ons sal eendag saam met Annamari in die Hemel wees. Ons het ook geleer om God nie te probeer verstaan en ook nie die dinge wat gebeur, te probeer verklaar nie. Ons moes ook leer om ons oё op die wenpaal te hou en nie te gaan lê as ons moeg word nie. Ons weet solank ons nog lewe, het God ’n plan met ons en moet ons nie aanhou agtertoe kyk nie, maar ons hand aan die ploeg slaan en ons werk hier op aarde volbring.
In retrospek, het daar iets positiefs voortgevloei uit die moeilike situasies?
Die moeilike dinge in ’n mens se lewe maak jou nederiger en afhankliker van God. Dit help jou ook om met ander oё na mense te kyk en sensitief te raak vir mense met nood en om met groter begrip vir ander te bid en hulle te ondersteun.
Wat is jou mening oor die toestand van die kerk vandag?
Daar is baie gemeentes waar dit goed gaan en waar die Here kragdadig werk en mense opgewonde oor hulle kerk is. Tog is daar ook baie leraars wat vasgeval geraak en moedeloos in die woestyn beland het. Leraars en gemeentelede begin oor God en die gesag van die Bybel twyfel. Hulle probeer om in eie krag God se werk te doen. Daarom is die kenmerk van Jesus se Kerk dat mense daagliks tot bekering gekom het en tot die gemeente bygevoeg is. (Handelinge 2:47) Vandag is daar baie gemeentes wat maande lank van geen bekerings bewus is nie. As die Heilige Gees nie ’n leraar en ’n gemeente beheer nie, sal daar geen blywende geestelik vrug wees nie. Waar die Gees van die Here egter werk, is daar baie vrug en seën.
Jy neem eersdaags weer ’n toer na Israel. Wat is jou mening oor Israel en die Midde-Ooste?
Deur alles heen, bewaar God steeds hierdie land waar sy spore lê en bly dit steeds ’n wonderlike belewenis om daar te kan kom en dit wat in die Bybel staan, persoonlik te belewe. Die boodskap van Jesus verander steeds baie mense se lewens.
VINNIGE FEITE & MENTORS:
Dank die Here vir verskeie leraars wat ’n positiewe en opbouende invloed op my lewe gehad het en ook ’n sewetal manne wat oor die afgelope 20 jaar elke Vrydagoggend om 05:30 saamgekom het rondom God se Woord en op verskillende maniere inspraak in my lewe gehad het. En ek dank die Here vir my vrou wat altyd ’n eerlike en opregte opinie oor my lewe gehad het en my kinders by wie ek baie kon leer.
Boeke na aan die hart:
Daar is soveel boeke wat tydens elke lewensfase ’n bepaalde rol in my lewe gespeel het, maar op die oomblik lees ek die boek van Francis Chan, ‘Forgotten God’ wat handel oor die Heilige Gees wat vandag verwaarloos word. Die realiteit van die Heilige Gees bly áltyd aktueel in my lewe en is die kern van elke dag en van my bediening.
Vorige gemeentes:
Graaff Reinet, Pionierspark-gemeente, Windhoek, Harmonie-gemeente, Pretoria, en toe Arcadia en Moreletapark.
-onderhoud deur Toi Nell