Staan Christen-Ouers In God Se Pad?

Wayne Cordeiro, pastoor en outeur, is ’n paar jaar gelede gevra om ’n konferensie vir Amerikaanse kerkleiers toe te spreek. Op die tweede dag vra die organiseerders toe ’n vraag wat die leiers onkant betrap het: “Wat is jou grootste vrees?” Volgens Cordeiro het die trane begin loop soos die een leier na die ander hulle beurt gekry het om hierdie vraag te beantwoord. Een leier het gebieg dat hy nie weet hoe lank sy huwelik nog onder die druk van sy werk gaan oorleef nie. Dit was egter die antwoord van ’n ander leier wat Cordeiro se ore laat spits het. Die man se grootste vrees? “Ek wil net nie hê dat my kinders grootword en God as gevolg van my haat nie.”

Ouers se grootste vrees
My hart het vir die man gebloei toe ek oor sy woorde nadink, nie net vir hom as ’n kerkleier nie, maar grotendeels vir hom as ’n ouer. Hy kon een uit so veel ander vrese genoem het wat met sy werk verband hou: dat sy kerk nie sal floreer nie, of dat die boufonds nie genoeg geld gaan hê nie, maar dit wat voorop in sy gedagtes was, was sy kinders.
Waarom is hy bang dat sy kinders God as gevolg van hom sal haat? Was hy ’n monster by die huis? Ek is seker dat hy nie was nie. Het hy sy kinders nie liefgehad nie? Ek is seker dat hy sy eie lewe vir hulle sou opoffer. Ek dink ek verstaan die rede waarom so baie ouers hierdie vrees al ervaar het, want dieselfde drogbeeld het my eie hart ook al geterroriseer. Hierdie vrees is dat jou kind se ervaring in die plaaslike kerk – waarby hy diepgaande betrokke is en al die gepaardgaande druk en moeilikhede waarneem – die saadjies van geloof in sy hart kan verdring. Ons vrees is dat die blootstelling wat hulle aan Christenskap kry, sal veroorsaak dat hulle as volwassenes min liefde vir God of Christene sal hê.

Kinders wat die spoor byster geraak het
Wêreldwyd ontmoet ek ouers wat pyn ly oor hulle kinders. Met die eerste oogopslag is dit moeilik om te verstaan waarom die ouers so voel. Die kinders mag uitstekende beroepe en ’n goeie vriendekring hê; mag selfs gelukkig getroud wees met ’n gesin van hulle eie. Dan is hulle bowendien ook nog liefdevolle seuns en dogters vir hulle ouers. Waarom ly die ouers dan smart? Dit is omdat hulle kinders se harte verhard het en die deur vir geloof dig gesluit is, al het hulle in ’n Christelike huis grootgeword en vir die grootste gedeelte van hulle jeug kerk toe gegaan. Dit is asof hulle teen Christenskap ingeënt is en nou negatiewe reaksie toon wanneer hulle daarmee in aanraking kom.

Berou oor besluite van die verlede
Bykans elke ouer besef dat hulle foute begaan het en tog is dit waar dat elke ouer die beste na hulle vermoë doen. Ons weet daar is ’n honderd dinge wat ons anders sou aanpak as ons net nog ’n kans kon kry – alhoewel ons die vae vermoede het dat ons maar net nuwe foute sal begaan.

50% vrees, 50% skuld
’n Ou man wat oor bykans 75 jaar van vaderskap teruggekyk het, het gesê: “Ouerskap is vyftig persent vrees en vyftig persent skuld.” Ek stem met hom saam – behalwe dat ek dink dat die skuld kant van die skaal lig daarvan af kom. So baie van ons ouers leef met skuldgevoelens. Somtyds versmoor dit ons, maak dit slawe van ons en verteer ons op die ou end. Ons voel geheel en al verantwoordelik vir ons kinders se houding en optrede en sukkel om hulle keuses te aanvaar.

Bid vir jou kinders
Vra God, wanneer jy vir jou kinders bid, om hulle teen die valstrikke wat nog in die lewe vir hulle voorlê, te beskerm: gierigheid, seksuele losbandigheid, dwelms, alkoholmisbruik, en nog vele meer slaggate. Vra Hom om jou kinders te help wanneer hulle diegene moet trotseer wat die spot met hulle geloof dryf. As hulle vervolg word, bid dat hulle die moed sal hê om dit in die gesig te staar. Maar, wanneer jy dit alles gedoen het, bid ook oor ’n ander gevaar – daardie ‘iets’ wat die saad van geloof in duisende jong mense vernietig: vra dat jou kinders deur hulle vroeë ervarings van Christenskap sal kom sonder dat hulle God op die ou end haat.

God hoor ons gebede
Ek besef dat dit nie juis na ’n baie ambisieuse gebed klink nie. Natuurlik verstaan ek dat jou innige gebed is dat jou kinders God sal liefhê, daar is egter baie ouers wat net bly sal wees as ’n volwasse kind steeds ’n hart het wat ten minste nog ontvanklik vir God is.
Oor die afgelope 10 jaar het ek regoor die wêreld duisende mense by ‘Bringing Home the prodigals’ byeenkomste toegespreek. Hier het ek ontdek dat vele van die ‘verlore’ kinders nooit werklik hulle rûe op God gedraai het nie – hulle het iets heeltemal anders verwerp. Dit het daartoe gelei dat ek wou uitvind wat daardie ‘iets’ is. As ons kan vasstel wat daardie ‘iets’ is, kan ons miskien verhoed dat nog kinders dieselfde paadjie volg. Miskien sal ons selfs besef dat baie van ons sogenaamde ‘verlore seuns’ nie so ver van God af is as wat ons dink nie.
Ek moedig ouers aan om hulle kinders as individue te hanteer. Maak tyd vir jou kinders, wees ’n goeie voorbeeld vir hulle en deel jou geloof en waardes met hulle op ’n manier wat hulle aanmoedig om te probeer eerder as om hulle te veroordeel vir foute.

Nota van JUIG!
Vir ouers wat verder inligting oor hierdie onderwerp wil hê, gaan na www.focusonthefamily.com. Dit is webblad met goeie inligting oor ouerskap vanuit ‘n Christelike perspektief. ‘Focus on the Family’ gee 5 eksemplare van Rob Parson se boek, ‘How to get your kids through church without them ending up hating God’, weg. Stuur jou naam en kontakbesonderhede aan julia@joymag.co.za.