Dit is natuurlik so dat ons nie alles van die Here weet, of al Sy gedagtes of aksies kan verklaar nie. As dit die geval was, was Hy nie God en in beheer nie en kon ons met ons verstand en begrip dinge beheer. Ons sou die Here kon ontleed en Sy wil deur ons denke tot een van die natuurverskynsels verlaag; sou ons Sy denkpatrone soos die weer kon voorspel.
Tot in ewigheid dieselfde
Ons bely ook op grond van wat ons van Hom uit die Bybel weet, dat die Here net goed is. Al kan jy nie alles van die Here verstaan of voorspel nie; Hy is goed. Hy blý goed omdat Hy nie verander of aan verandering onderworpe is nie. Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde.
Die stabiliteit van God
Ons sing saam met Romeine 11:33: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë!” Die feit dat God altyd dieselfde is, is ’n noodsaaklikheid vir ons omdat ons aan gedurige druk, verandering en nuwe idees onderworpe is. Die stabiliteit van die God van ons geloof – dat ons weet wat ons aan Hom het – is ons redding.
Alles is van Hom afhanklik
Wat ons ook uit byvoorbeeld, Psalm 104 weet, is dat alles op aarde van die Here afhanklik is. Of, volgens Romeine 11:36: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.” Dit beteken egter ook dat Sy wil allesomvattend is. Prontuit gesê: niks gebeur buite die wil van die Here nie; selfs nie die haartjie wat jy verloor nie.
Waar kom gebrokenheid dan vandaan?
God is altyd dieselfde. Hy is ’n bron van goedheid, genade en redding, daarom kan ons Hom elke dag loof. Maar, as die Here goed is en alles beheer, waar kom die gebrokenheid met haat, onrus, venyn, groot menslike foute en ongelukke, moord, roof en verkragtings, droogtes en onverwagse en verpletterende vloede dan vandaan?
Wanneer mense bloei, breek en kneus
Hoe moet jy die Here loof as die droogte jou, en jou hoop op ’n beter finansiële toekoms, plattrek? Wanneer jy, saam met alles om jou, wegspoel? Hoe kan jy die Here wat regeer en beheer, vanuit jou hart loof, as mense bloei, breek en kneus in ’n sinnelose motorongeluk? Is God nog in beheer waar daar op die oog af geen beheer is nie?
Hy is deel van elke situasie
Dit is hier waar die bestendigheid en grootheid van God inkom. Hy verander nie saam met rampe en ongehoorsame mense nie. Moet Hom nie soek in die dinge wat skeef-loop nie, maar in Sy onveranderlike goedheid; in Sy standvastige goedheid wat deel is van elke droewige, neerdrukkende situasie wat jy waarneem. Geen prentjie van ’n lewensituasie is volledig sonder die lewende, goeie God nie.
U is daar
Jy sal moontlik nie alles wat skeefloop kan verklaar nie, maar jy is nooit sonder God nie. Jy moet dít weet: jy bly in Sy hand. Psalm 139:8-10 sê uitdruklik: “Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U regterhand my vas.”
Intussen is dit ’n kwessie van ‘U wil geskied’. Al verstaan ons nie alles nie. Die wil van die goeie, wyse God geskied. Om te bid: “Laat u wil geskied…” beteken ook om God te loof en Sy goedheid te erken. Jy kan Hom loof, want Hy laat jou lewe, hier en in die Hiernamaals.
Wat sluit Sy wil in?
Om te sê dat God se wil alles omvat, is eintlik om te sê dat Hy in alles die finale sê het. Dit is ons groot troos. Dít en die feit dat ’n verloste mens in Sy goeie hande is. Goeie hande wat nie verhoed dat ek seerkry of sterf nie, maar wat my vir hierdie lewe en die lewe hierna in God veranker.
As Sy wil alles insluit, sluit dit ook my gebede, inisiatiewe, positiewe ingesteldheid en bydraes in. Die feit dat my kant van die saak in Sy wil ingesluit is, lê op my die verantwoordelikheid om Sy positiewe wil, waarvan die Tien Gebooie ’n opsomming is, uit te lewe. Die feit dat ek in die gebed na antwoorde soek, is Sy wil.
Ek moet eintlik bid: Laat U wil ook deur my geskied. Mag my gehoorsaamheid, geloof en liefde van hierdie wêreld reeds U koninkryk maak. Laat U wil deur my geskied en U koninkryk nou reeds deur my kom. Here ek sal U loof, U weldade roem! Want U is in beheer!
PROF. PIET STRAUSS, voormalige mo¬derator van die NGK se Algemene Sinode, professor in die dept. kerkge¬skiedenis aan die UV. www.uovs.ac.za