Is Ek Eerlik?

As daar ’n JUIG-leser is wat ná die openbare beskermer (OB), Thuli Madonsela, se verslag oor president Zuma se ‘landgoed’ by Nkandla, positief voel oor korrupsie en sy tweelingboetie, bedrog, op alle vlakke binne en buite die staatsdiens in Suid-Afrika, laat hy/sy die hand opsteek. By die skryf hiervan is ek nog nie bewus van een argument in die openbare media die afgelope tyd wat ten gunste van korrupsie of die toe-smeer van ongerymdhede is nie.

Korrupsie is onaanvaarbaar
Selfs die ANC se pogings tot skadebeheer ten opsigte van die beeld van Zuma, bevat nie propaganda vír korrupsie nie.
Ek het ook niemand gesien wat die argument ernstig opneem nl. dat die openbare beskermer haar verslag bekend gemaak het om die ANC by die verkiesing in April te knou nie. Korrupsie – die aanklag in haar verslag – is korrupsie, voor of ná ’n verkiesing.
Onoortuigende toesmeerdery
Die statuur en inhoud van die OB se verslag vereis dat dit ernstig opgeneem word en dat ewe ernstige optrede daaruit sal voortspruit: optrede deur die owerheid, wat die vermoë het om ongerymdhede aan die kaak te stel, en wat weer vertroue in sy integriteit moet inboesem. Die staat se onoortuigende toe-smeerdery gee eenvoudig net nog ’n hupstoot en ’n bedekte “ja” vir die klimaat van korrupsie en bedrog wat in Suid-Afrika heers. ’n Klimaat wat vanaf staatsweë nie geloofwaardig en ernstig bekamp word nie.

Interne korrupsie
Die feit dat daar – na bewe-ring – soveel interne gevalle van korrupsie is, en dat mense wat self agter die deur staan, ongerymdhede nie wíl of kán vasvat nie, bemoeilik interne korrupsiebekamping deur die staat. Madonsela en diegene wat haar optrede steun, is klaarblyklik die uitsondering op die reël. Sy is ’n vrou wat met kalmte, vasberadenheid en volharding haar geloofwaardigheid versterk.
Madonsela se verslag is ’n omvattende getuienis van nog ’n geval waar hierdie epidemie moontlik weer toegeslaan het. Nie op ’n nie-nuuswaardige, algemene grondvlak nie, maar aan die spits van die regering: by die president. En ons weet, die leier gee die toon aan.

Die Kerk se rol
Natuurlik kan ons kerke weer aanspreek: wat doen julle in hierdie situasie? Hoekom tree julle nie ’n slag beslissend op nie? Waarom is julle stil? Is dit die ou kwaal van buig voor die bewindhebbers? Die vraag hierop is egter: hoe effektief kan die Kerk wees as almal in elkgeval van die Kerk verwag om korrupsie en bedrog aan te spreek? Ek het ’n jaar of twee gelede die ervaring gehad dat kerke dit omvattend en met voorbeelde aangespreek het – sonder sigbare resultate.
Is ons nie lankal by praat – die instrument van die Kerk – verby nie? Die president het al beweer dat die ANC God se ‘gestuurde’ is, by implikasie met God se seën optree en dat kritiek dus onvanpas is.

Wat doen die gemeenskap?
Miskien is ’n meer relevante vraag wat elkeen van ons as gelowiges aan die situasie doen. Dit is kommerwekkend dat hoewel 80% of meer van die bevolking in Suid-Afrika gelowiges is, korrupsie, bedrog en ander misdaad aan die orde van die dag is. Waarom is daar nie in die gemeenskap ’n sterk, sigbare weerstand teen korrupsie nie?
Bewerings van korrupsie deur amptelike verslae, soos dié van die OB, maak dit nie vir politici onmoontlik om met hulle ongeloofwaardige leierskap voort te gaan nie – soos in ander demokratiese lande. Dit blyk dat korrupsie so algemeen in hierdie land is dat dit nie meer as ’n ergerlike sonde (in die NG Kerk ’n term vir ’n tugwaardige sonde) beskou word nie.

Begin by jouself
Ons verwerp korrupsie en bedrog, maar…
Elke gelowige moet by homself begin. “Is ek eerlik en onomkoopbaar? Bly ek by dit wat reg en eerlik is? Is ek ’n faktor teen korrupsie en bedrog – selfs al sou dit my geldelik of wat my aansien betref, benadeel?”
Ons maak ’n saak daarvoor uit dat die Tien Gebooie elke faset van die lewe raak. Boonop is deursigtigheid in ons huidige grondwetlike bedeling ’n eis vir alle burgers; nie net vir die man op straat of die gewone sakeman of algemene opvoeder nie, maar ook vir die regering.

Hou jou woord
Korrupsie en bedrog val onder die Negende Gebod: Jy mag nie valse getuienis lewer nie! Die positiewe kant hiervan word in Efesiërs 4:29 gestel. “Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede.” Of, in maklike taal, laat jou “ja” jou “ja” wees en jou “nee” jou “nee”. Voordat jy met mense praat, dink eers in liefde en in waarheid aan hulle. Bou aan jou goeie en betroubare naam onder die mense, maar veral onder hulle vir wie jy versorg, lei of regeer.
Doeltreffende leierskap en bestuur in enige demokrasie verg vertroue en goeie verhoudinge. Jy moet kiesers wat self ook ’n sê het, oortuig en betrek, nie manipuleer of intimideer nie. Om vertroue in te boesem is ’n roeping van die Here aan elkeen van ons. ’n Gesonde gemeenskap wat vooruitstrewend is bou op onderlinge vertroue en aanspreekbaarheid op wat reg is. Wantroue as gevolg van negatiewe ervarings word ’n kanker wat aan ’n gemeenskap vreet.
Groot en klein misdade spruit uit dieselfde geestelike teelaarde. Waar korrupsie en bedrog aan die orde van die dag is, word integriteit by die deur uitgegooi. Sonder die geestelike boustene van vertroue en integriteit kan ’n gemeenskap nie gebou word nie en steier jy om die wankelrige samelewing staande te hou. Dit geld vir alle gemeenskappe ongeag of dit ’n geloofs-, staats-, sport-, sosiale of bedryfsgemeenskap is.
Nkandla is een van die simptome van ’n geestelik steierende staatsgemeenskap en is nie iets waarin Christene hulle moet verlekker nie, dit is ’n alarm wat dringend lui.

Deur Prof Piet Strauss