Tonge Wat Vernietig

In ’n oomblik van woede is dit dikwels asof Christene soms hulle redding en vrug verloor! Baie paartjies en kinders leef met die seer van woorde wat agter toe deure geuiter word en hulle verhouding laat bloei – kinders van die Here ten spyt. Dit is hartseer dit word dikwels as normaal beskou met die verskonings dat onbesonne dinge soms in oomblikke van frustrasie gesê word, en niemand is volmaak nie.
Te veel huwelike is vasgevang in die bose kringloop van skerp tongaanvalle net om weer daarna om verskoning te vra. “Ek weet ek het lelik gepraat of dinge gesê wat seermaak, maar ek het dit nie bedoel nie,” word die verskoning sodat ons maar in die vlees kan wandel.
’n Fontein met brakwater én met varswater?
Net een kykie op sosiale media laat jou verstom oor kinders van die Here se kommentaar op ’n foto of ’n nuusberig. Dieselfde mense wat daardie negatiewe, sarkastiese kommentaar skryf en ander afbreek en slegsê, se persoonlike Facebook-blad is vol mooi Christelike boodskappies en basuin uit hulle is ’n gelowige. Sê God se Woord dan nie duidelik ’n fontein kan nie brak én goeie water gee nie? Of ’n boom kan nie verskillende vrugte voortbring nie?
Hoe is dit dan dat ons Christene soms so klaaglik misluk? Ons loof God in die kerk, maar sê sleg, kraak af en verwoes met dieselfde tong. Die ware bewys van ons redding is die vrug wat ons dra waar ander mense ons nie kan sien nie, maar ons huismense daarvan kan getuig. Die beste bewys van ons geestelike groei is hoe ons konflik hanteer en optree wanneer ons seergemaak, kwaad of gefrustreerd is, of wanneer ons met ons rug teen die muur staan.
Die redes vir ’n skerp tong:
Duisende mense kon tydens hulle grootwordjare nooit hulle mening lug nie. Hulle is onderdruk, stilgemaak (ook deur broers en susters) en afgelag as hulle probeer om hulle man te staan. Ander getuig weer hulle is fisiek afgeknou, maar hulle het geleer die tong is ’n magtige wapen wat ewe veel skade kan aanrig as ’n vuis. Ons moet bedag wees daarop hoe ons ons kinders hanteer en besin hoe ons die boeties en sussies wat
mekaar boelie, gaan opvoed, want in die huwelik word ons kind se huweliksmaat die slagoffer van daardie einste gedrag of onderdrukte innerlike pyn.
Soms sukkel mense dalk om te hoor hulle is verkeerd of om die ander wang te draai. Hulle tong is goed geoefen om iemand anders plat te vee met sarkasme, persoonlike aanvalle en om terug te kap deur die ander een se foute uit te lig. Enigiets solank hulle nie hoef te luister of te hoor hulle is verkeerd nie.
Lees die res van die artikel in JUIG! se November-uitgawe.