Dis Altyd Te Gou Om Tou Op Te Gooi…

Een van die grootste organisasies ter wêreld is die Quitter’s Club. Jy het nog nooit van hulle gehoor nie omdat hulle hulle byeenkomste laat vaar het – die lede het nie opgedaag nie. Daar is geen ledegeld nie – die lede het opgehou om hulle ledegeld te betaal. Die Quitter’s Club bestaan â��â��uit mense wat ‘n moeilike taak in die gesig staar, ‘n moeilike huwelik, ‘n ernstige siekte, of ‘n slegte mislukking – en toe tou opgegooi het. “When the going gets tough, the tough gets going”, maar “when the going gets tough, the quitters get going…away. Wat ons in die wêreld en die Kerk nodig het, is aanhouers met uithouvermoë en vasberadenheid.
Moenie moed opgee nie!
Daar is baie talentvolle mense wat nog nooit bo die gemiddelde uitgestyg het nie, bloot omdat hulle tou opgegooi en hulle drome laat vaar het.
Jare gelede het ‘n sekere mnr. Darby, ‘n ryk versekeringsmakelaar, by die goudstormloop in Colorado betrokke geraak. Hy het ‘n bietjie geprospekteer en ‘n baie ryk goudrif in die Rockies ontdek. Hy het na sy huis aan die Ooskus teruggekeer en al sy vriende oortuig om hulle geld in ‘n mynonderneming te belê. Hulle het ’n korporasie gestig, ‘n groot klomp toerusting aangekoop, en hierdie baie ryk rif gouderts in Colorado ontgin.
Teen die tyd dat die korporasie al sy skuld afbetaal het, was daar nie meer gouderts in die rif te vinde nie. Die beleggers het aanhou myn totdat hulle weer diep in die skuld was. Uiteindelik het ’n moedelose mnr. Darby eendag opdrag gegee dat die mynery gestaak moet word. Hy het die myn toegemaak en die myn en die toerusting in Denver aan ‘n rommelhandelaar vir ‘n paar honderd dollar verkoop.
Net voor die deurbraak
Die rommelhandelaar het ‘n geoloog gehuur om die myn en die omgewing te ondersoek. Die geoloog het met die volgende verslag teruggekom: “As jy drie voet verby die punt grawe waar mnr. Darby opgehou het, tref jy weer dieselfde goudrif aan.” Die rommelhandelaar het die rykste myneienaar in die staat van Colorado geword. Dink net! Net drie voet verder! Ek wonder hoeveel keer ons ook net drie voet voor die deurbraak stop?
Norman Vincent Peale het die konsep van positiewe denke gewild gemaak en een van sy beroemde aanhalings was: “Dit is altyd te vroeg om op te hou.” Paulus het dieselfde idee gehad toe hy geskryf het: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” Gal 6:9.
Wanneer ons in die versoeking kom om minder as ons beste te lewer, of dalk heeltemal tou op te gooi, moet ons die waarheid van hierdie vers onthou. Hier praat Paulus oor ‘n voorreg, ‘n gevaar, en ‘n belofte.
Die voorreg om goed te doen
Paulus praat oor die voorreg om “goed te doen”. Dit is waarom die Christelike lewe en diens draai. “Laat jou lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” Matt 5:16. Ons is nie net gelowiges nie, ons doen die wil van God, en die werk van God, ter verheerliking van God.
In 1953 het verslaggewers by ‘n Chicago-stasie gewag om die wenner van die 1952-
Nobelvredesprys te ontmoet. Hy was ‘n groot man, meer as ses voet lank, met ’n ruie bos hare en ‘n wilde snor.
Die verslaggewers was opgewonde om hom te sien en dit was vir hulle ’n groot eer om hom te kon ontmoet. Die kameras het geflits, en hy is met komplimente oorval, toe die besoeker ‘n bejaarde swart vrou buite die kring van die heldeverering opmerk wat sukkel om haar twee groot tasse te dra.
“Verskoon my,” sê hy en snel die vrou te hulp. Hy tel haar tasse op en begelei haar na haar bus en vra toe die verslaggewers om verskoning omdat hy hulle laat wag het.
Dié man was dr. Albert Schweitzer, die beroemde sendelingdokter wat sy lewe daaraan gewy het om arm en siek mense in Afrika te help.
’n Lid van die ontvangskomitee het teen-oor een van die verslaggewers opgemerk:
“Dit is die eerste keer dat ek ’n wandelende preek sien.” Die maatstaf van ’n man of ’n vrou is nie die naam wat hulle gemaak het, of hulle roem nie, dit is nie wat hulle sê nie, maar wat hulle doen.
Laat jou dade spreek
Jesus “het rondgegaan, [en] oral goeie werke gedoen…” Handelinge 10:38. Wanneer ons betrokke is by die doen van goeie werke, volg ons in die voetstappe van die Meester.
Jakobus moedig ons aan: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Jak 1:22.
Hoewel ons beslis nie deur goeie werke gered word nie, word die werklikheid van ons verlossing bewys deur ons lewens aan goeie werke te wy.
Soms is gelowiges, veral diegene wat ’n amp in die kerk beklee, geneig om diensbaarheid as ‘n las of ‘n lastige taak te beskou. Christelike bediening is nie maklik nie; dit verg energie, tyd en inspanning. Ons moet egter besef dat bediening ‘n voorreg is, anders sal ons bitter en krities word en dan rus God se seën nie meer op ons werke nie. Ongeag van hoeveel opoffering God van ons vereis, moet ons onthou dit is ’n wonderlike voorreg om Jesus in enige hoedanigheid te kan dien.
Lees die res van die artikel in JUIG! se November-uitgawe