
Baie van ons verstaan dat ons mekaar met liefde en deernis moet dien, maar die vraag is: is die politiek ook ’n terrein waarin ons ander mense moet dien? Baie Christene sal sê dat Jesus nie in die politiek betrokke geraak het nie. Hy het ook nie Sy volgelinge aangesê om by enige spesifieke politieke party of beweging aan te sluit nie. As ons egter na die standpunt kyk wat Jesus tydens Sy leeftyd op aarde ingeneem het, sal ons sien dat Hy ’n taamlik ekstremistiese politieke standpunt gehuldig het. Hy het in wese die bestaande bestel uitgedaag deur ’n nuwe regering aan te kondig – die koninkryk van God – met Jesus self aan die hoof daarvan.
Bedreiging vir die staat
In Jesus se leeftyd het die Jode onder die regering van die Romeinse Ryk geleef. Mense kon gode van hulle keuse aanbid, solank hulle die Romeinse keiser ook aanbid het – hy is as die Romeine se god beskou. Om te weier om ‘Caeser’ (die keiser) te aanbid, is as verraad beskou en was strafbaar met die dood. Dit is waarom daar so baie van die vroeë Christene deur die Romeinse staat vervolg is. Weliswaar nie omdat hulle verskeie godsdienste be-oefen het nie, maar die Christelike godsdiens, wat die Romeinse owerhede as ’n bedreiging vir die staat beskou het. As gelowiges weet ons hoekom: Omdat geloof in Jesus Christus en om vir Hom te leef, tot ware vryheid lei – vryheid wat geen ‘leier’ van ons kan wegneem nie.
Aanbidding van die keiser
Keiseraanbidding was die amptelike godsdiens van daardie era Dit het beteken dat dit ’n politieke oortreding was om nie die Romeinse staat te aanbid nie. Christene is aan die folterpaal soos fakkels verbrand, en deur wilde diere laat verskeur weens aanklagtes van verraad teen hulle.
Ons moet God gehoorsaam
Jesus Christus het verklaar dat alle outoriteit in die Hemel en op aarde aan Hom behoort, en nie Caeser nie. Sy dissipels het verstaan dat God se wette voorrang bo Caeser se wette het. Met ander woorde, Jesus het die politieke en geestelike outoriteit van die magtigste regering in die wêreld van daardie tydperk uitgedaag.
Jesus het ons beveel om aan die keiser te gee wat aan die keiser behoort en aan God die dinge wat aan God behoort. Die Bybel is duidelik dat wanneer die mens se wette inbreuk maak op God se Wet, moet ons God bo die mens gehoorsaam. En ons sien dat die dissipels dit in Handeling 5 gedoen het.
Politieke leiers uitgedaag
Ons weet dat Jesus se dissipels nie in die politiek betrokke ge-raak het nie. Maar dit was omdat die Romeinse Ryk nie ’n demokrasie was nie. Politieke betrokkenheid, soos ons dit vandag ken, het nie bestaan nie. Ons weet dat Jesus Christus ’n hoër Wet en ’n nuwe Koning, Hyself, aangekondig het en ons weet dat daardie Christene bereid was om hulle lewens vir Hom op te offer.
Baie mense dink dat die vroeë Kerk ‘net die Evangelie verkondig het’, en hulle dink dit is baie prysenswaardig en nie polities nie. Dit behoort voor die hand liggend te wees dat Jesus en die vroeë Kerk die politieke en godsdienstige mense van daardie tyd uitgedaag het.
Uitvoering aan God se Woord
Die vraag bly egter steeds of God van ons verwag om in die politiek betrokke te raak. Oorweeg eerstens die woord, ‘politiek’. Binne die moderne konteks sien ons dit as die praktyk van regering in die burgerlike arena; ‘politiek’ verwys gewoonlik na betrokkenheid by en beïnvloeding van diegene wat regeer.
As ons God se doelwit gaan vervul om iets te doen aan mense se behoeftes, beteken dit sekerlik tog dat ons met sosiale uitdagings te doen moet hê. Hoe kan ons uitvoering aan God se Woord gee en liefde aan die armes betuig as ons nie in politiek betrokke raak nie? Hoe versorg ons die armes, die weduwees en die wese sonder om in die politiek betrokke te wees?
Oefen invloed uit
Ten minste speel ons ’n indirekte rol in ons betrokkenheid by politiek wanneer ons tydens die nasionale en plaaslike verkiesings stem.
Dit is baie belangrik om invloed op regeringsbeamptes uit te oefen omdat die armes dikwels eerste deur verandering in die ekonomie geraak word en hierdie verande-ringe word gewoonlik te weeg gebring deur nuwe wette en beleid wat deur die regering deurgevoer word.
Vryheid of verdrukking
God het ons beveel om die verdruktes te bevry. Ons vind dikwels dat die grootste bewerkers van verdrukking in die wêreld die sekulêre humaniste en outoritêre regerings is. Sal dit nie ’n doeltreffende manier wees om die onderdruktes te bevry deur invloed op daardie regerings uit te oefen om wette aan te neem wat die verdruktes kan help, eerder as om hulle uit te buit nie?
Regeringsbeleid kan ’n rol speel om ongebore babas teen aborsie te beskerm. Deur politieke wette kan vrouens en kinders in ’n land teen die uitbuitende bedryf van pornografie en mensehandel beskerm word.
Die deurvoer van Godvresende wette kan seks en geweld op televisie, vroue wat as seks-objekte beskou word en mishandel en verkrag word, regstel.
Regerings regeer mense
Regerings regeer mense. Hulle sal besluit of ons as vrye mense of verdrukte mense gaan leef. Deur die wette wat hulle aanneem, sal hulle besluit hoe ons God gaan aanbid – vrylik of onder vervolging. Hulle stel die standaarde van sedelikheid vas deur die wette wat hulle afdwing. Die vraag is – volgens watter standaard gaan hulle regeer?
God se verwagtinge van ’n regering
Die volgende vier verse help ons om te verstaan wat God van ’n regering verwag:
• “’n Brullende leeu, ’n beer wat wil rondstorm, so is ’n goddelose regeerder oor ’n weerlose volk.” Spreuke 28:15
• “’n Volk juig as ’n regverdige mense die mag kry; ’n volk sug as ’n goddelose mens regeer.” Spreuke 29:2
• “As goddelose mense regeer, regeer die sonde ook, maar die mense wat die wil van die Here doen, sal sien hoe die goddeloses ondergaan.” Spreuke 29:16
• “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk; dit gaan goed met elkeen wat die wet van die Here onderhou.“ Spreuke 29:18
Regeer volgens God se oogmerke
Hoewel die instelling van regering deur God verorden is, is dit vanselfsprekend dat God nie alle regerings goedkeur nie. Dit behoort duidelik te wees dat God nie die regerings van Hitler, Stalin, Mao of Idi Amin of enige ander bloeddorstige diktator goedgekeur het nie.
Regerings moet volgens God se oogmerke leef en regeer; hulle moet die onskuldiges beskerm, die skuldiges straf en die vrede bewaar sodat ons in vrede godvrugtig in ons land kan leef.
Wanneer God se Wet in konflik kom met die mens se wette, moet ons as Christene God se Wet bó die wet van die mens gehoorsaam. En dit mag beteken dat ons die goddelose fisiek moet weerstaan wanneer hulle die Wet weerstaan wat God aan ons gegee het.
Bid vir ons leiers
In 1 Timoteus 2:1-4 word ons beveel om vir God se wysheid en leiding vir ons leiers te bid sodat ons “’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Ons weet dat die funksie wat God vir die regering bepaal het, is om reg te laat geskied en die bose te beheer. Rom 13:1-4.
God gebruik Godvresende manne en vroue wat Sy wil doen om Sy regverdigheid in die regering te demonstreer. “Slegte mense het geen begrip van wat reg is nie; dié wat na die wil van die Here vra, het ’n goeie begrip van alles.” Spreuke 28:5. “’n Regverdige mens is besorg oor die reg van arm mense, ’n goddelose mens het nie begrip vir die besorgdheid nie.” Spreuke 29:7.
Neem verantwoordelikheid op
Ons het Godvresende manne en vroue in gesagsposisies nodig sodat ons ’n rustige, regverdige en sedelike samelewing kan wees. As die sedelike, regverdige mense van ons land nie hulle verantwoordelikheid in die regering opneem nie, maak ons die deure oop vir die goddelose en onsedelike om oor ons te regeer.
Ons moet diegene beskerm wat hulleself nie kan beskerm nie. Spreuke 31:8. Ons moet regverdige uitspraak aan die armes, die wat ly, en aan die wese gee. Hoe kan dit gedoen word wanneer Christene buite die politieke en ge-regtelike arena staan?
Korrupte regstel wankel
Die Apostels het Christene gemaan om mekaar nie in sekulêre howe te dagvaar nie, maar dat hulle na die ouderlinge in die Kerk moet gaan om hulle siviele geskille te skik. Die Romeinse goewerneurs van daardie tyd het begin om die vroeë kerklike biskoppe as regters aan te stel omdat hulle ’n reputasie gehad het van inte-griteit en ’n hoë morele etiek.
Die Romeinse Ryk het begin wankel omdat hulle regstelsel korrup geword het en die enigste wyse om dit reg te stel, was vir die Romeinse owerhede om Godvresende manne as die administrateurs van die reg aan te stel.
Christelike invloed in die samelewing
In Engeland was daar staatsmanne soos William Wilberforce – wat die stryd teen slawerny geloods het. Christene, soos lord Shaftsbury, was ook betrokke by die regstelling van kinderarbeidsvergrype. Christene het hervor-ming van gestigte te weeg gebring, hulle het in gevangenisse werk verrig, en het in elke vlak van die samelewing ’n groot uitwerking gehad.
Christene het wêreldwyd duisende sendingstasies gevestig, asook weeshuise, skole, hospitale en mediese klinieke. Christene het die pad gebaan om wêreldwyd geletterheid en moderne sanitasie na miljoene mense te bring. Al hierdie hervormings is te weeg gebring deur die sosiale aksie en betrokkenheid van Godvresende Christene. Baie Afrika-leiers het hulle basiese opleiding van sendelinge en kerkskole ontvang.
Raak betrokke
As Christene moet ons in die regering verteenwoordig wees. Hier is ’n paar eenvoudige maniere om in die proses betrokke te raak:
• Bid elke dag vir Suid-Afrika en sy leiers
• Registreer om te stem
• Wees ingelig oor die onderskeie partye se standpunte oor sedelike/Bybelse kwessies
• Kies, verkies, en ondersteun aktief Godvresende manne en vroue wat bereid is om in openbare belang te dien
• Stem tydens elke verkiesing – hetsy munisipaal of nasionaal
CHARL VAN WYK is ’n sendeling van Frontline Fellowship, betrokke in Africa Christian Action en ook outeur en radio-omroeper. Vir meer inligting besoek: www.frontline.org.za