Waar Is Die Bewyse?

Ek het al drie keer op my Facebook-blad (met meer as 215 000 volgelinge) openbare uitdagings aan ateïste gerig om spesifieke geldige bewyse vir Darwinse evolusie te verskaf (ek praat nie eens van al die uitdagings agter geslote deure nie). Telkens is my uitdaging met doodse stilte begroet. Tog, wanneer ek iets oor geloof in God of oor die wonder van Sy skepping sê, word ek met vyandiggesindheid, beledigings en bespotting begroet deur uitgesproke ateïste wat beweer dat ek onwetenskaplik en dwaas is. Miskien is ek oningelig…lig my dan in – beantwoord
my vraag!
Ek is my hele lewe lank in die Kerk, maar ek het nog nooit sulke dogmatisme en blinde geloof daar teëgekom as wat hierdie ateïste openbaar nie. Hulle herkou en herhaal ou, holruggeryde en weerlegde argumente met die oormatige selfvertroue van ’n swerm spotvoëls sodat hulle ’n bespotting van hulleself maak.

Waar is die bewyse?
As jy nog nie my uitdaging gesien het nie, rig ek dit weer. Ek vra vir een voorbeeld (net een) wat aan die volgende vyf maatstawwe voldoen:
1. Dit moes ’n toevallige mutasie wees wat spontaan voorgekom het
2. Dit moes waargeneem gewees het (d.w.s. wetenskap)
3. Dit moes NUWE inligting tot die genoom bygedra het
4. Die mutasie moet ook die gasheer tot voordeel strek
5. Moenie verspotte voorbeelde aanhaal soos E. coli of ander mikroörganismes nie.

Daar is ’n briljante ontwerper
Darwin se model vereis dat bogenoemde mutasies triljoene kere moet plaasvind. Ek vra vir net een voorbeeld daarvan. Om die waarheid te sê, ek kon verskeie van hierdie kriteria laat vaar en die drempel aansienlik verlaag, en die uitdaging sou steeds onbeantwoord bly. Die teorie is ongelooflik aanvegbaar, tog sal die ateïs dikwels met godsdienstige oortuiging sê: “Evolusie is bewys .”
Dit is ’n doelbewus misleidende stelling en ek staaf my stelling soos volg: Elke Christen, ongeag hoe konserwatief hy is, glo dat organismes wel aanpas en sodoende nuwe biologiese spesies ontwikkel (dit is deel van God se briljante ontwerp). As NASA ’n onbemande voertuig gebou het wat op ’n vreemde planeet kon rondry en by enige omgewingstoestande wat dit mag teëkom kon aanpas, is dit ’n voorbeeld van ’n meer vindingryke ontwerp, nie ’n minderwaardige ontwerp nie. Hoe kan ’n ateïs dan na die lewe se verbasende vermoë om aan te pas kyk en tot die slotsom kom dat daar nie ’n ontwerper is nie, eerder as om die briljante ontwerper daarvan te loof?

Variasie van spesies
Christene glo gevolglik weer eens in die tipe “evolusie” wat in die werklike wêreld aangetref word; naamlik, aanpasbaarheid en spesiëring (meganisme vir die vorming van nuwe spesies). Die Darwinistiese aanspraak, daarenteen, is dat organismes deur die byvoeging van nuwe genetiese inligting in kompleksiteit kan toeneem en sodoende in ’n ander “soort” kan ontwikkel (in teenstelling met ’n nuwe spesie), nog nooit waargeneem nie…nie eens een keer nie! (Laat ek verduidelik: wanneer ek die term “soorte” gebruik, verwys ek na Bybelse terminologie. Die Bybel praat van “soorte” wat groepering impliseer, soortgelyk aan wat ons hedendaags as ’n genus [meervoud ‘genera’] sou beskryf. Daar is dus ruimte vir groot variasie binne ’n “soort” – trouens, baie spesies. )

Komplekse ontwerpe
Elke mutasie waarvan ons weet, is ’n geval waar daar inligting uitgeruil is, gedupliseer is of verlore gegaan het. Byvoorbeeld, ateïste het al iemand met Down se sindroom aan my uitgewys as ’n voorbeeld van evolusie! Wie sou aanvoer dat Down se sindroom ’n voordelige mutasie is? Selfs as dit voordelig sou wees, is dit bloot die gevolg van ’n duplikasie van genetiese inligting (’n derde kopie van chromosoom-21). Daar is geen nuwe genetiese inligting wat bygevoeg is nie!
Dit beteken dat die tipe mutasies wat ons waargeneem het, nie organismes in ander of meer komplekse soorte kan verander nie. Die organismes sal aanpas, maar hulle sal nooit iets anders word as wat hulle is nie:
• ’n Hond se gene kan gemanipuleer word om verskillende honderasse te teel, maar hulle sal altyd honde bly
• Vrugtevlieë mag ’n tweede paar vlerke ontwikkel, maar hulle sal steeds vrugtevlieë wees
• Vinke kan langer snawels groei, maar hulle bly steeds vinke.
• Bakterieë mag nuwe voedselbronne vind om te metaboliseer, maar hulle sal steeds bakterieë wees
Hierdie aanpassings dien as bewys van ’n feit wat niemand bevraagteken nie, naamlik dat organismes telkens by hulle omgewing kan aanpas. Daar is egter nie ’n greintjie van bewys wat daarop dui dat bakterieë besig is om in honde te ontwikkel en dat vrugtevlieë besig is om vinke te word nie. Dit beteken dat Darwin se kultus ’n geloofsaak is en nie wetenskap nie. Glo wat jy wil, maar moenie skynheilig wees en ’n ander standaard vir Christene daarstel nie.

Moenie jou Skepper ontken nie
Die waarheid is, ek glo nie in ateïste nie. Hulle is in ’n oorlog betrokke, nie met God nie, maar met hulleself. Hulle voer ’n innerlike tweestryd soos ’n kind wat sy moeder ontken. Dit is hoekom hulle teenkanting so pynlik en vurig is – nie juis wat jy sou verwag van iemand wat ’n “feëverhaal” ontken nie. Hulle verwerp die innerlike getuienis van hulle eie siel; die ge-tuienis van die natuur; en die oortuiging van die Heilige Gees.
Dit moet ’n uiters ongemaklike bestaan wees om “teen die prikkels te skop”. My hart breek vir die ateïs. Ek bid vandag vir jou (opreg). Ek bid nie dat jy enige godsdiens moet aanvaar nie (ek haat godsdiens net soveel soos jy). Ek bid egter dat jy God se liefde deur Jesus Christus sal leer ken.


Keer Terug Na God

Elza Meyer is die stigter van Turn2God Bedieninge, NG Kerkpredikant, ’n outeur en baie gewilde spreker by konferensies landswyd. Wie is Elza en wat lê in haar hart?
Elza het op ’n plaas in Lindley in die Riemland grootgeword. Dié Oos-Vrystaatse dorpie aan die oewer van die Valsrivier, is na Daniel Lindley genoem, die Amerikaanse sendeling wat die eerste predikant vir die Voortrekkers in Natal was. Heel gepas dat Elza afkomstig is van ’n plek met so ’n geestelike erfenis, want wat jou van haar opval, is die oop hart vir, en erns met die dinge van die Here.
Elza het aan die Universiteit van Pretoria in die onderwys gaan studeer waar sy ook haar man ontmoet het. Sy is reeds vir 36 jaar lank getroud met Thys, wat sy beskryf as “standvastig soos ’n rots, onwrikbaar in sy geloof, onaan-getas deur sukses, en onbedreig deur mense.”
Hoe het jy en Thys ontmoet?
Ons was saam by Sendingkring by Universi-teitsoord en het in een van daardie ou busse met die pyprelings bo die sitplekke na Eerste-rus toe gery. Hy wou ’n geselsie aanknoop en het besluit om my lang hare aan die pyp vas te maak. Ek het niks agtergekom nie, want dit was somer en die vensters was oop en die wind het deur my hare gewaai. Toe ek opstaan, het ek weer met ’n slag gaan sit. Hy het gedink dit is snaaks; ek natuurlik glad nie! Hy moes saam met my koshuis toe stap om ons onstuimige ontmoeting uit te sorteer…
Hoe het jy tot bekering gekom?
In my standerd 7-jaar het ’n jong proponent een Sondag in die pragtige ou klipkerk op Lindley kom preek. Hy het oor die skape en die bokke gepreek en dat ons tot bekering moet kom as ons die Ewige lewe begeer. Ek het radikaal tot bekering gekom en onmiddellik na ’n dieper verhouding met die Heilige Gees begin verlang. Die volgende dag het ek in juffrou Griessel se Afrikaansklas ’n buitengewone ontmoeting met die Heilige Gees gehad. Daarná het verskeie van die ander kinders, wat saam met my in die koshuis was, ook tot bekering gekom. Sedertdien is ek uitverkoop aan ’n lewe saam met Jesus! My Bybel het lewend geword en ek kon nie wag vir Bybelstudie, biduur of erediens-te nie! Dit was die hoogtepunte van my week.
Wanneer het jy by Moreletapark Gemeente aangesluit?
Toe Susan, ons jongste, skool toe is, is ek terug universiteit toe om teologie te studeer. Daarna was ek vyf en ’n half jaar lank in Kempton Park-Wes. Ons het herlewing beleef.
Ek het ook wyer begin werk in die gemeenskap en ’n forum van meer as 100 gemeentes gelei, wat saamgewerk het om ons stad aan die Here toe te wy. Moreleta Park het my in daardie tyd beroep om ’n beradingsentrum tot stand te bring, en verantwoordelikheid vir gemeenskapsdienste en die vrouebediening te neem.
Die Here het die bediening aan vroue geseën en daaruit het die Hadassa- en Ester-konferensies ontwikkel. Ons het duisende vroue bereik. Dit was jare van buitengewone salwing en ons het wonders beleef. Die manne wou ook hieraan deel hê en die Daniël-konferensies het begin.
Wat is jou gunstelingonderwerpe om oor te preek?
Ek preek feitlik elke week oor ’n ander onderwerp aangesien ek binne Turn2God Bedieninge, waarmee ek sedert 2010 voltyds besig is, oral in Suid-Afrika op uitnodiging bedien. Elke gemeente of gemeenskap wat my uitnooi, het ’n ander behoefte wat hulle graag wil aanspreek. My gunstelingonderwerp is dus een wat ek nog nie gepreek het nie.
Ek sukkel om dieselfde preek meer as eenkeer te preek. Ek geniet dit om voortdurend te groei in kennis van die Woord en my verhouding met die Here. Daarom is nuwe
navorsing vir my baie lekker. Dit maak egter nie saak watter faset van die lewe tydens ’n preek belig word nie, uiteindelik kom dit maar daarop neer dat ons ook dáárin na God toe moet draai, nie waar nie?
Wat is op jou hart vir Suid-Afrika?
Ons het nie politici met persoonlike agendas nodig nie; ons het volksleiers nodig wat die belange van álle mense in ons land op die hart dra! Moenie jouself skuldig maak aan korrupsie en diefstal nie; werk hard en geniet dit om ’n produktiewe bydrae te lewer! Bly weg van geweld, misdaad en moord; skep lewe deur jou gedagtes, woorde en dade! Draai terug na God toe! Suid-Afrika is ’n pragtige land met wonderlike potensiaal. Daar is miljoene mense in ons land wat in vrede wil woon en werk. Kom ons dien mekaar met God se liefde!
Wat is tans volgens jou, die Kerk se grootste uitdaging en hoe kan die Kerk dit die hoof bied?
Gelowiges kan wonderlike geestelike lering via internet en televisie bekom. Plaaslike leraars kan miskien nie op daardie vlak lering aanbied nie, maar slegs die plaaslike kerk kan gelowiges suksesvol individueel bedien.
Samekomste bly steeds ’n geleentheid waar ons ons verhouding met God en mekaar vier. Laat ons daarop fokus om lidmate aktief te laat deelneem aan byeenkomste en eredienste en na mekaar om te sien. Sodoende hou ons die Handelinge-model van kerk-wees lewend.
’n Tweede uitdaging wat die Kerk moet raaksien, is dat ons maklik in ons pogings om relevant te wees, in humanisme kan verval. Mense, hulle behoeftes en leefwêreld kan só maklik die sentrum van ons bediening word, in plaas van die Lewende God, Bybelse waardes en ’n oomblik vir oomblik lewe in afhanklikheid van Jesus en Heilige Gees. Dan raak bediening vlak en kragteloos en help ons nie meer mense nie, ons sus hulle net.
Jy vertel dat God jou gewys het hoe ons land in die nabye toekoms sal lyk, as ons nie die kwessie van wesies aanspreek nie. Vertel ons meer hieroor?
Voor my geestesoog het ek het ’n groot groep jongmense in die strate gesien. Hulle was kwaad en verbitterd. Niemand het saans hul ruggies toegemaak toe hulle klein was nie. Daar was nie ’n pa wat hulle die waardes van die lewe geleer het nie. Daar was nie ’n ma wat omgegee het en hulle aan die Here voorgestel het of seker gemaak het dat hulle skool toe gaan nie. Hulle het geleer om na hulleself om te sien en dit het geweld en misdaad ingesluit.
Armoede was vir hulle ’n werklikheid en koud gaan slaap nie onbekend nie. Anargie het ’n lewenswyse geword. En toe het ek die stem van die Here in my binneste hoor sê: “Wees ’n moeder vir hulle!” (‘Mother them’). Ons roep gemeenskappe op om verantwoordelikheid vir hul weeskinders te neem en hulle vir die Here groot te maak. Dan kan ons land vol wees van mense wat ’n positiewe verskil maak en léwe verseker!
Wat is dit wat Turn2God wil bereik? Wat is julle mandaat?
Ons wil dwarsoor ons land mense sien wat die Here met hart, verstand en hand in alle sfere van bestaan dien! Ons begeer dat Suid-Afrika se konglomeraat van volke na God toe draai! Hierdie mandaat spruit uit gebeure in 2002. Ek het een Sondagaand nog-eens vir ons land gepleit. Laataand het ek die Here in ’n hoorbare stem met my hoor praat. Hy het vir my gesê: “Sê vir Suid-Afrika: ‘Draai terug na God toe!’ ” Ek het geantwoord dat niemand my sou hoor nie, aangesien my stem te sag is. Hy het weer met my gepraat – hierdie keer dringend: “Sê vir Suid-Afrika: Draai terug na God toe!” Voor my geestesoog kon ek die boodskap in klankgolwe oor die land sien spoel. Ek kon sien hoe mense gaan stilstaan en die boodskap hóór! Ek het toe God se bevel aan ons land oorgedra om na Hom toe terug te draai.
Ná hierdie gesig het ek weer ’n stem hoor sê: “2008”. Die be-diening het sy gang gegaan en in 2008 is Turn2God by die Ester- en Daniël-konferensies geloods. Daar was ’n geweldige energie by konferensiegangers en al die produkte waarmee die boodskap uitgedra kon word, was binne ’n halfuur uitverkoop. Eers later het die destydse voorsitter van die kerkraad in Moreleta Park my daaraan herinner dat die datum vooraf aangekondig is. Ek was in verwondering. Sedert 2011 is Turn2God Bedieninge ’n geregistreerde artikel-21-maatskappy en ’n geloofsgebaseerde organisasie.
Wat is jou lewensdroom?
Om landswye herlewing te beleef en God se Gees te sien werk in mense se lewens, ten minste soos in die tyd van Andrew Murray!
ELZA MEYER is die stigter en hoof-uitvoerende beampte van Turn2God Ministries. Vir meer inligting: www.turn2god.co.za; elza@turn2god.co.za of skakel 012 997 5601.


Is Dit Uit Die Mode?

Gesag is deesdae so skaars soos hoendertande omdat respek blykbaar nie meer mode is nie. Ouers en onderwysers kla dat hulle nie meer gesag het nie. Die grondwet en die postmoderne kultuur het hulle van hulle gesag ontneem – of so lyk dit.
Hoe het ons kultuur daarin geslaag om ge-sagsfigure belaglik en ongewild te maak? Hoe het oneerbiedigheid so aanvaarbaar geword? Daar is talle skuldiges, maar ek glo dat drie van hulle tot verantwoording geroep moet word: die massamedia, die humanis…en ons.
Massamedia se aanval op gesag
Een middag het ek televisie gekyk om die nuutste kinderprogramme te evalueer. Ek het op ’n program afgekom waarin kinders ’n gesagsfiguur van hulle keuse tot ’n kompetisie voor ’n gehoor kon uitdaag. As die kind wen, kan die pa, onderwyser, oom of afrigter in ’n vat vol jellie gegooi word; kan die kind hulle met ’n roomkoek of meelbomme bestook, of op enige ander manier verkleineer tot vermaak van die gehoor en kykers by die huis. Die dogtertjie was soos ’n gladiator aangetrek, terwyl haar pa, in ’n spinnekopkostuum, hulpeloos van die plafon gehang het. Natuurlik het sy gewen. Nadat sy haar pa vol room gespuit het, het sy die gehoor meegedeel waarom sy hom uitgedaag het: “Hy dwing my altyd om my kamer aan die kant te maak voordat ek mag televisie kyk!” Die gehoor het die pa uitgejou: “Sies! Skaam jou! Skaam jou!”
Op ’n volgende kanaal het ek ’n animasieprogram gesien: ‘Fairly odd parents: Join the haphazard adventures of Tommy, a clever kid at the mercy of his boring parents and evil babysitter – until he wishes himself a set of fairy godparents’. Tommy jok vir sy ouers, lag agter hulle rug en rol sy oë vir hulle. Tommy is in beheer van die huis terwyl sy ma buite beheer is en sy pa onder sy ma se duim is. Wat ’n gemors! Wat neem ons kinders elke dag in wanneer hulle ure voor die televisie sit en identifiseer met karakters wat so ‘n onaanvaarbare ingesteldheid het? Dink maar aan van die bekende gesinskomedies. In bykans elkeen is die pa ’n ruggraatlose pateet, die ma ’n selfgesentreerde heks en die slim, verstandige kinders hulle ouers in so ’n mate manipuleer dat jy amper die marionettoutjies na hulle pa se beursie kan sien.
Die humanistiese klem op regte ten koste van verantwoordelikheid
Pomp ’n hamster vol steroïde en jy sal ’n wollerige diertjie hê wat soos ’n uitgevrete rot optree. Dit is die uitwerking wat humanisme op ons kinders het. In plaas daarvan om hulle na verantwoordelike volwassenheid te begelei, maak dit hulle opgeblase deur hulle regte te oorbeklemtoon. Hulle word geleer waarop hulle kan aandring, en hoekom die lewe hulle meer skuld. Hulle hoef niemand se nonsens te verdra nie – soos byvoorbeeld ouers wat eise aan hulle stel of onderwysers wat perke stel.
Wie vorm ons denke oor gesag?
Voorstanders dat outoriteit verdag en ongewens is, het ons denke gevorm. Die filosoof Jean-Jacques Rousseau se oom het hom op ’n dieet van Franse liefdesverhale grootgemaak, wat Jean-Jacques self erken het, nie gepas was nie. Hy het nie in die huwelik geglo nie en het vyf buite-egtelike kinders gehad wat hy in ’n weeshuis geplaas het sonder om eers uit te vind wat hulle geslag of geboortedatums is, of om hulle name te gee. Tog volg ons sy opvoedkundige raad! Hy het geglo dat ouers ’n destruktiewe invloed op hulle kinders het weens hulle emosionele betrokkenheid. Hy was oortuig dat die staat kinders beter kan grootmaak. Sy werk word steeds vandag wêreldwyd in sielkundige en opvoedkundige instellings voorgeskryf.
Henry David Thoreau (’n filosoof van die 19de eeu) en Arnold Gesell (stigter van die beroemde Yale Clinic of Child Development) het geglo dat kinders se slegte gedrag bloot ’n normale fase van ontwikkeling is. As ouers net die negatiewe gedrag stilweg toelaat, sal die kind dit op ’n natuurlike manier ontgroei. As ouers die gedrag weerstaan, vererger dit net die gedrag. Dit weerklink steeds in boeke oor ouerskap: kinders is stout omdat hulle ouers hulle nie verstaan nie. As ouers beter insig het en verdraagsaam is, sal hulle kinders vanself beter optree.
Die humanistiese koor
Rudolf Dreikurs het beklemtoon dat alle mense absoluut gelyk is. ’n Kleuter is gelyk aan haar pa – sy is net kleiner. Hy stel dit dat straf, sowel as beloning, onvanpas is. ’n Mens kan op stuk van sake net ’n ondergeskikte straf. Hy glo dat ouers geen reg het om enigiets van die kind te vereis nie. Die kind het die reg om self te besluit wat goeie gedrag is. Wangedrag is volgens hom net die kind se poging om in beheer te wees in reaksie op die ouers se poging om hulle gesag op die kind af te dwing.
My vraag is: hoe kan ’n benadering wat die kind nooit dwing om iets te doen wat hy nie wil doen nie, hom vir volwassenheid voorberei waar ons daagliks dinge moet doen wat ons nie wil doen nie? Baie ander stemme sing saam in die humanistiese koor. Artikels ontmoedig ouers om die woord “nee” te gebruik en dat konflik vermy moet word. Die artikel, ‘“No” is not for children: Three principles of respectful discipline’ deur Dawn Fry is ‘n kwellende artikel. Ek is bekommerd dat ouers haar sal glo omdat dit so aanloklik klink om nooit “nee” te se nie. Ek verberg soms my “nee”, maar ek sal dit nooit uit my woordeskat verwyder nie. Sê die lewe ooit “nee” vir ons kinders? Natuurlik – gedurig. Daarom moet ons hulle leer sodat hulle “nee” vir ’n antwoord kan aanvaar.
Volwasse leiding noodsaaklik
’n Ouer se plig is om die kind te begelei weg van wat sleg is na wat goed is, juis omdat dit nie ’n maklike pad is nie. Dit verg dissipline, wat bemoediging, onderrig, ’n rolmodel, vermaning en beloning insluit, maar soms ook tug. En dit is alles harde werk!
Ons kan nie met ’n benadering saamstem wat die “regte” van die kind eerste stel nie (wat sou impliseer dat die kind toegelaat moet word om sy keuse uit te oefen, selfs as dit tot sy eie nadeel is). Ons benadering moet wees om te erken dat die kind nie die beste keuse kan uitoefen of die beste weergawe van hom-/haarself kan word sonder volwasse leiding nie.
Toegerus met God se Woord
Dit is ons eie skuld wanneer ons nie weet wat God se Woord oor gesag en ouerskap sê nie, en dan deur die massamedia en heersende populêre kultuur aan die neus rondgelei word. Dit moet ons dan nie verbaas dat ons gesag vol gate is nie.
Laat ons onsself toerus met beginsels van gesonde gesag. Dit skep ’n liefdevolle en veilige omgewing waarbinne ons kinders kan leer om binne daargestelde perke te kan funksioneer, grense te respekteer en met die vryheid te leef van dié wat die “ja’s” en die “nee’s” van die lewe kan hanteer.


Hannelie Vertel Haar Gesin Se Verhaal

Drie gewapende Taliban-rebelle het verlede jaar ’n gebou in Kaboel binne-gebars en drie Suid-Afrikaners en twee Afgaanse burgers in die Afgaanse hoofstad vermoor.
Dr. Hannelie Groenewald se man, Werner, en hulle twee tienerkinders, Jean-Pierre (17) en Rode (15), is doodgeskiet in die gebou wat as hulle kantoor en woning gedien het.
Hannelie het die Saterdagmiddag laat vanaf haar werk by ’n mediese kliniek by die huis aangekom, en is nie toegelaat om naby die toneel te kom nie. Christen-medewerkers het haar kom haal en ingelig oor wat met haar gesin gebeur het en na hulle huis geneem vir die nag.
Die gebou het aan die brand geslaan nadat die Afgaanse polisie ’n RPG 7 na die huis afgevuur het om te verseker dat al die aanvallers dood is. In die brand is al die gesinsdokumente en besittings verbrand wat Hannelie met slegs die klere aan haar lyf gestrand gelaat het.
Ek het die voorreg gehad om Hannelie ’n paar maande ná hierdie tragedie te ontmoet. Ek is geraak deur haar kalmte en vasberadenheid om voort te gaan met haar werk vir die Here. Hier volg ’n uittreksel van ons gesprek…
Wat het in Kaboel gebeur?
Die inligting wat in koerante gepubliseer is direk ná die aanval, is nie feitelik korrek nie. Werner is onder in die kelder van die huis (konferen-siekamer) doodgeskiet waar hy met ‘n opleidingsessie besig was. Een van die aanvallers het na die kelder beweeg waar Werner en verskeie Afgane was en twee aanvallers het boontoe na ons wooneenheid gegaan en die kinders met AK-47’s en 9 mm pistole in my seun se kamer afgemaai. Werner se aorta en femorale arterie is raakgeskiet. Hy het nooit die geleentheid gehad om boontoe te gaan en ons kinders te probeer beskerm nie. Die kinders se liggame is deur ‘n wonderwerk van God bewaar, omdat die hele wooneenheid tot as verbrand het. Die vlamme het egter geen skade in my seun se kamer aangerig nie. Die vuur en vlamme het sy kamerdeur tot as verbrand, maar het net daar gestop.
Het die Afgaanse polisie of weermag jou bygestaan? Is iemand al in hegtenis geneem?
Ek het geen hulp van die Afgaanse polisie ontvang nie. Hulle het my nie eens tydens die ondervraging op die aand van die aanval ingelig dat my hele gesin uitgewis is nie.
Die liggame is eers vier dae ná die aanval verwyder en na die forensiese departement geneem. Die yskaste daar was baie swak, en ek moes veg om hulle liggame gedeeltelik gebalsem te kry. Niemand wou my help nie. Een Afgaanse dokter het ná ure se wag, aangebied om te help, indien ek hom sou bystaan om my mense se liggame te balsem. Dit was ‘n skok, maar ook helend omdat ek tydens die balseming besef het dat al drie my geliefdes genadig nie gely het nie. Hulle liggame was stukkend…Terwyl ek daar gestaan het, het ek die voorreg gehad om die Boodskap van redding en verlossing deur geloof in Jesus, aan my Amerikaanse medewerker te deel, asook aan die Afgaanse dokters wat teenwoordig was.
Die Afgaanse inligtingsdienste het my gevolg totdat ek Kaboel verlaat het. Die Suid-Afrikaanse polisie het ’n moorddossier oopgemaak, maar nadat ek my verklaring afgelê het, het daar niks van gekom nie. Niemand is in hegtenis geneem nie en ek twyfel of dit ooit in die toekoms sal gebeur.
Wat het julle in Afganistan gaan doen?
Ons het in 2002 ’n roeping van die Here ontvang om Sy hande en voete in Afganistan te wees. Werner was die nasionale direkteur van Partnership in Academic Development (PAD) en was onder meer betrokke by die leierskaps- en gemeenskapsopleidingskursusse en Engels-as-tweede-taal-klasse (ESL).
My eerste verantwoordelikheid was teen-oor Werner en ons kinders. Ek het die kinders tuis onderrig en Werner in sy bediening ondersteun. Ek was ook by die gemeenskaps-ontwikkeling vir Afgane betrokke sowel as oriënteringskursusse vir nuwe Christen-werkers van die buiteland. Ek was altyd gereed met ’n bord kos of ’n koppie koffie en koek vir buitelandse besoekers.
Dit was ’n uitdaging om die balans te behou tussen my pligte by die huis en die groot aanvraag na die dienste van ’n Westerse dokter. Ek het ’n klein kantoortjie by die huis gehad waar ek pasiënte behandel het nadat die dag se skoolwerk afgehandel is. Ek het voorskrifte uitgereik, en soms is ’n pasiënt wat nie die medikasie kon bekostig nie, ’n geldjie in die hand gestop. Twee tot drie keer per week het ek by ’n Afgaanse kliniek gewerk wat op Wes-terse pasiënte gefokus het. Die salaris wat ek daar verdien het, was genoeg om ons Afgaanse kantoorwerkers te betaal.
Het julle veilig gevoel in Afghanistan?
Omdat ons ’n duidelike roeping van God ontvang het, het ons geweet dat ons ’n mandaat het om in Afganistan te woon en te werk. Ons het geweet dat ons gekies het om in ’n gevaarlike land te gaan werk en mense moet beslis nie met hulle gesinne in Afganistan gaan werk en woon, tensy hulle ’n duidelike roeping van God ontvang het nie. Ons het geweet dat ons gehoorsaamheid ons duur te staan kon kom. Ons moes bereid wees om ons lewens neer te lê. Ons moes bereid wees om aan ons “selflewe” en ons menslike behoeftes te sterf en Jesus te volg. Die lewe daar was moeilik, dit was nie ’n vakansie nie. Omdat ons geweet het dat ons daar moet wees, het ons nie in vrees geleef nie. Ons lewens en veiligheid was in God se hand en ons het geweet as iets met ons gebeur, sal dit wees omdat God ’n groter doel daarmee het. [Werner het gesê: “Ons sterf net een keer…dit kan net so wel vir Jesus wees.”] Ons het so normaal moontlik probeer leef. Ek het my eie kar besit en het gaan inkopies doen. Werner en Jean-Pierre het vroeg in die oggende gaan fietsry om fiks te bly vir fietsrykampioenskappe in Suid-Afrika. Die lewe was egter baie meer beperk vir my en Rode omdat ons vroue in ’n Moslem-land was. Vir ’n tienermeisie was haar lewe en fisieke vryheid erg ontwrig en dit het baie vrae in my gemoed laat ontstaan.
Dit is ’n verskriklike ervaring wat die meeste mense sou vernietig. Wat het jou gehelp om jou geloof te behou?
In Afganistan het ek juis weens die uiters moeilike omstandighede geleer hoe om sonder voorbehoud op God te vertrou. Ek moes leer om met my hele hart op Hom te vertrou – in Sy liefde vir ons. Die lewe dáár het my vir hierdie vurige beproewing voorberei.
Ek het nie antwoorde vir al die moeilike kwessies van die lewe nie, maar ek vertrou 100% op die Here. Hy het die antwoorde, Hy sien die groter prentjie. Terwyl ek in Afganistan gewoon het, het ek ’n diep, intieme liefdesverhouding met God ontwikkel wat ek vir niks sal verruil nie.
My diep geloof, kinderlike vertroue en ervaring van God se grootheid, goedheid en wonderbaarlike ingryping deur die jare heen in talle situasies in ons lewens, het my gehelp om uit die as op te staan. Dit is asof God my ’n kykie in Sy perspektief oor die gebeure gegee het; ek het geleer om nie te fokus op dit wat ek om my sien nie, maar om na Christus te kyk. Hy is altyd in beheer. Hy is nie onverhoeds deur die aanval betrap nie.
My verhouding met Christus het ingrypend verdiep oor die laaste ses maande. Ek het die krag en vertroosting van die Heilige Gees in my lewe ervaar. Ek ervaar hom as ’n God wat waarlik Sy beloftes nakom, ’n God wat voorsien en ’n Vader van liefde.
Wat is jou planne vir die toekoms?
God het my gelei om nie na die sekulêre mediese sektor terug te keer nie. Ek bly in Sy diens. Of dit in die toekoms geneeskunde sal insluit, en of dit weer buite die grense van Suid-Afrika sal wees, weet ek nie. Hy sal my lei wanneer die tyd reg is. Voorlopig weet ek dat ek ’n getuienis het om in die wêreld uit te dra. Mense wat louwarm in hulle geloof geword het, moet hulle harte weer na die Here keer, want daar is baie min tyd oor voor Sy wederkoms. Mense moet gereed wees vir die uitdagendste tye ooit wat voorlê, swaarkry wag op die mensdom.