Trane van Bloed

Dit is iets waaroor nie baie gepraat word nie en wat goed verdoesel word deur diegene wat deur hierdie sielkundige siekte getraumatiseer is of nog steeds hierdeur geraak word. Dit kan moontlik jou kollega, jou vriendin by die kerk of selfs jou eie kind wees. Wat agter die ge¬slo¬te deure van hierdie mense wat hulself verwond se slaapkamers aangaan, is eintlik baie ont¬stellend. Wat sal jy doen indien iemand vir wie jy baie lief is en vir wie jy omgee, ’n mes of ’n skeermeslemmetjie gebruik om haarself herhaaldelik daarmee te sny – en dan die wonde vir ander wegsteek? Hierdie wonde is diep genoeg om baie te bloei, maar nie diep genoeg om die dood tot gevolg te hê nie. Dít is die skreiende wêreld van diegene wat hulself beseer om hul emosionele pyn uit te doof.

Wat is selfverwonding?
Selfverwonding (ook bekend as selfsken¬ding) is ’n doelbewuste aksie waardeur die eie liggaam beseer word deur ernstige weefselskade te veroorsaak ten einde ’n gemoedstoestand te verander. Dit kan deur snywerk, krapwerk, bytery, trek of pluk van die vel of selfs die herhaaldelike stamp van die kop gedoen word.

Volgens Kinderhulplyn is die algemeenste vorm van, of dit waarmee hulle die meeste te doen kry, skending deur snywerk. Sommige het egter ook al van die meer bizarre gevalle gehoor waar die hare uitgepluk word (trichotillomania), die vel gebrand word, of selfs waar ’n arm of been gebreek word. Dit is egter belangrik om te weet dat dit nie ’n geval is van poging tot selfmoord nie. Dit is bloot ’n meganisme om die lewe te kan hanteer.

Desperate roep om hulp
Mense wat dus tot hierdie uiterstes gaan, wil werklik lewe (selfmoord is al aangemeld, alhoewel dit nie doelbewus was nie). Selfverwonding is ’n desperate roep om hulp en ’n manier om emosionele pyn te hanteer. Daar bestaan selfs webblaaie wat aan hierdie saak gewy word en dit is rede tot kommer. Baie gevalle word nooit aangemeld nie en word ook nie behandel nie – en dit is juis waarom daar groot kommer hier¬oor heers. Dié wat dit doen, is gewoonlik deel van die middel- of hoër klas, intelligent en goed opgevoed en dit begin reeds in die vroeë adolessensie.

Waarom wil mense hulself verwond?
Deur selfverwonding kan woede of kommer tot uiting kom en dit kan ’n manier wees om na ander uit te roep. Vir sommige gee die aanskoue van hul eie bloed selfs ’n gevoel van krag of behaaglikheid; dieselfde gevoelens wat op een of ander stadium in die lewe van hul weggeneem is. Dr. Juan Schrönen, ’n psigiater van Bellville, Kaapstad, sê baie van dié wat hulself verwond, gebruik dit as hanteringsmeganisme.

“Selfverwonding word dikwels ’n verslawing en word as ’n soort ontvlugting gebruik. Diegene wat ’n traumatiese erva¬ring beleef het, mag moontlik begin met selfverwonding.” het hy bygevoeg. Hulle vervang emosionele pyn met fisieke pyn. “Hulle ervaar ’n adrenalieninspuiting en is vir ’n wyle eufories. Die emosionele pyn word ondraaglik en die fisieke pyn, hoewel onaangenaam, is iets wat hulle meer kan hanteer.”

Selfskending gee die persoon ’n gevoel van intense beheer in ’n wêreld waar hulle voel asof alles buite beheer is. Watter pyn hulle ook al innerlik ervaar, of dit nou ge-sinsprobleme, seksuele of fisieke mishandeling of selfs emosionele verwaarlosing is, word as ondraaglik ervaar en kan net vergeet word deur die pyn wat hulle deur selfskending ervaar.

Sophie se verhaal
Sophie Scott het haar verhaal neergeskryf en dit is in boekvorm uitgegee (Crying Scarlet Tears). Sy was ’n gemiddelde tiener toe sy begin het om haarself te verwond en volgens haar het sy geen rede gehad om dit te doen nie. Sy het wonderlike ouers gehad en was ’n Christen van agtjarige ouderdom. Sy was selfs ’n aanbiddingsleier in die jeuggroep. Die eerste dag wat sy haarself verwond het, was ’n redelike normale dag. Sy het met ’n vriendin by die skool baklei, maar hulle het tog al hulle probleme uitsorteer. Haar ouers het die betrokke aand uitgegaan en sy was alleen tuis toe sy die snaakse drang gehad het om haarself te slaan. Sy het ’n klerehanger geneem en haarself teen die been geslaan. Sy sê sy het geen pyn gevoel nie, maar was heimlik trots op die merk op haar been.

Daardie aand het sy haarself herhaaldelik met die klerehanger geslaan. Sy het later selfs haar pa se leergordel geneem en haarself met die gordeldeel daarmee teen die been, arms, rug en maag geslaan. Dit was die eerste keer wat sy pyn ervaar het en dit het haar ietwat bang gemaak. Sy het die gordel weggepak en gaan slaap. Dit was die begin van ’n verskriklike en verslawende gedragspatroon wat net in erns en gevaar toegeneem het en vir ’n hele aantal jare aangehou het.

’n Gevaarlike verslawing
In Sophie se eie woorde: “Dit het nie gevoel asof ek myself vir enigiets straf nie. Ek was ook nie ontsteld of kwaad nie. Ek het niks gevoel nie. Terwyl ek myself geslaan het, was die enigste ding waaraan ek gedink het, die feit dat ek myself slaan. Daar was geen skuldgevoel of blaam nie, geen emosie hoegenaamd nie.”

Die volgende dag het sy met ’n kompas op haar arm begin eksperimenteer en het haarself ook uit die klaskamer verskoon en haarself in die toilet herhaaldelik in die gesig geklap. Hierdie onmiddellike endorfieninspuiting het baie vinnig verslawend ge¬raak. Oor die volgende paar weke het sy van slaan tot sny met skeermeslemmetjies en glasstukke gevorder.

Verdoeseling van die bewyse
Sophie is gedwing om haar beserings weg te steek en het dit gedoen met lang moue en lamlendige verskonings oor dié bese¬rings wat sy nie kon wegsteek nie. Eindelik het haar vriende by die kerk gesien dat iets fout is en met haar daaroor praat. Sy het hulle met ’n storietjie mislei en toe begin vermy. Sy het selfs haar ouers begin vermy. Hoewel sy innerlik na hulp gesmag het, kon sy dit net nie aangryp toe dit aangebied word nie.

Op sestienjarige ouderdom, ongeveer ’n jaar nadat hierdie selfskending begin het, het sy dit ten minste een keer per dag gedoen. Sy het verskriklik skuldig begin voel, veral omdat sy ’n Christen was. Sy het elke nag na God uitgeroep en Sy vergifnis gevra, maar die drang om haarself seer te maak was so intens dat sy gevoel het sy sou dit glad nie kon staak nie.

God sien jou pyn en jou seer
Een aand, terwyl sy gebid en na Christelike musiek geluister het, het sy ’n stem gehoor en onmiddellik geweet dat dit die Here is. Hy het gesê dat Hy vir haar, Sophie, lief is. Sy het besef dat sy nie waardig genoeg vir Hom gevoel het nie en hoewel sy die woorde probeer herhaal het, kon sy nie. In haar hart het sy nie geglo dat Hy haar lief het en dat Hy vir haar omgee nie. Sy het daardie nag na Hom uitgeroep en ge¬smeek dat Hy haar sou genees. Uiteindelik kon sy haarself sover kry om hardop te sê dat God haar liefhet, dit te glo en ’n groot vrede het oor haar gedaal. Hoewel sy nader aan God gevoel het, het die drang om haarself te skend nie verdwyn nie. Vir die daaropvolgende paar jaar het sy desperaat probeer om dit wat sy besef het verkeerd in God se oë is, te staak.

Genesingspad volg
Sy kon selfs met haar jeugleier daaroor praat en hulle het die pad na ge¬nesing saam begin stap. Soos wat die skending afgeneem het, het Sophie ’n ander vorm van skending begin toepas: Bulimie. Sy het groot hoe¬veelhede purgeermiddels gebruik. Toe sy dit aan haar berader erken, het die snyery as selfskending weer teruggekeer en was baie gevaarliker as die eerste keer. Sy het haarself begin brand, groot hoeveelhede pille gedrink en selfs doelbewus alleen in gevaarlike plekke rondgehang.
Sy is universiteit toe om haar as Christen-jeugwerker te bekwaam. Gedurende dié tyd is sy self deur intense berading. In van dié sessies het dit uiteindelik uitgekom dat sy as baie jong meisietjie gemolesteer is. Sy het geleidelik begin om al haar pyn en seerkry te hanteer – deur baie trane en gebede heen. Stadig, maar seker, het sy gesond begin word en die skending het afgeneem.

’n Lig aan die einde van die tonnel
Nadat sy gegradueer het, het sy by ’n plaaslike kerk as jeugwerker begin werk. Sy het geleer om haar pyn en emosies op gesonder maniere uit te druk.

Toe sy gevra is waarom dit haar so lank geneem het om uiteindelik dié punt te bereik, was haar antwoord: “Ek het geleer dat ek God en Sy tydsberekening moes vertrou. Ek wou kitsgenesing hê en ek wou hê God moes my help om onmiddellik met hierdie skending op te hou. Die waarheid is dat God wel genees, maar Hy doen dit wanneer Hy weet die tyd daarvoor is reg.”

Wie is God werklik?
“Ek vind nog dat ek soms ontken dat hierdie dinge ooit met my gebeur het omdat dit makliker is en ek wens ek kan met se¬kerheid sê dat dit nooit weer sal gebeur nie. Die waarheid is egter dat hierdie begeerte om myself seer te maak nog steeds somtyds in my brand. Indien ek begin twyfel aan God se liefde, of as ek die dag sommer bietjie ‘af’ voel, lees ek uit die Psalmboek en dit is regtig baie bemoedigend. Ek is baie lief vir Ps 121, want dit herinner my telkens aan Wie God regtig is.” Sophie is vandag ’n lewende getuie van die krag van God se liefde.

Hoe om uit te reik na iemand wat haarself verwond
• Probeer om nie te vra waarom hulle voortgaan met hierdie ‘sondige handeling’ nie. Dit verhoog skuldgevoelens en laat hulle nog verder veroordeel voel. Moedig hulle egter aan om hul Bybels te lees en te bid wanneer hulle die snellers voel kom.
• Moenie probeer voorgee alles is in orde as dit duidelik nie die geval is nie. Mense toon verskillende reaksies op selfverwonding – sommige vind dit verwarrend, verfoeilik, verontrustend en moeilik om te hanteer. En die reaksies is te verstane. Indien dit is hoe jy voel, gesels gerus met iemand daaroor.
• Probeer om die ‘skender’ nie skuldig te laat voel nie. Dinge soos: ‘As jy vir my lief is, sal jy dit nie doen nie,’ of ‘Moenie dit doen nie – vir my asseblief?’ is woorde wat enige selfskender dikwels hoor. Die enigste manier waarop hulle werklik kan ophou met hierdie dade, is deur God se hulp en self te wíl. Hierdie verslawing het absoluut niks met hulle liefde vir jou te doen nie.
• Wees sensitief, maar laat hulle tog ook goed verstaan dat jy daar is om te help wanneer hulle jou hulp nodig het.
• Moenie bang of huiwerig wees om professionele hulp voor te stel nie. Jy kan selfs aanbied om saam te gaan indien hulle nie die moed het om alleen te gaan nie.

Waar kan jy om hulp aanklop:
Kinderhulplyn: www.childline.org.za of skakel 08000 55 555. Opgeleide beraders is 24 uur per dag beskikbaar
Lifeline: Tolvrye nommer: 0861 322 322
Die SA Depressie- en Angssteungroep – Nasionale tel. nr: 011 783 1474
Selfmoordhulplyn: 0800 567 567
SMS-krisislyn: 31393 en SMS jou pro¬bleem en hulle sal onmiddellik reageer.

deur Sophie Scott


Quo Vadis, Afrikaner? Waarheen Nou?

Is daar ’n toekoms vir die Afrikaner, of is hy besig om stadig maar seker aan die vergetelheid te emigreer? Miskien moet daar net ’n voëlvlug oor die verlede geneem word om te besin oor sy toekoms. As jy wil weet waarheen jy op pad is, moet jy tog kyk na waar jy vandaan kom.

Interessante volksverskynsel
Die Afrikaner is ’n interessante volksverskynsel: die naam en ’n groot deel van sy identiteit is te danke aan die taal wat hy praat. Onder die benaming ‘Afrikaans’ het mense van veral Nederland, Duitsland en Frankryk gaandeweg ’n nuwe volksverband gevorm. Wat hulle aanmekaar gebind het, was ’n taal wat in Afrika ontkiem het. Maar daar was ook ’n ander, baie belangrike gemene deler in hierdie nuwe volk aan die suidpunt van Afrika: hulle het ’n gemeenskaplike godsdienstige erfenis gehad. Hulle het hulle geloof in gemeen gehad – ’n Christelike geloof.

Dit geld vir sowel Van Riebeeck (1652) as die Franse Hugenote (1678). Trouens, laasgenoemde het juis omrede hulle geloof na die suidpunt van Afrika gevlug. Die Groot Trek het ook ’n belangrike rol in die vormingsjare van hierdie nuwe volk gespeel. Gedurende hierdie trek was die Bybel die volk se handboek. Daarmee saam is Christelike waardes diep ingegroef in die psige van die Afrika¬ner. Vir baie jare was die Bybel onteenseglik die norm vir leer en lewe.

Verengelsingsbeleid vestig kultuur
Ironies genoeg het die Britse verengelsingsbeleid (sedert 1795) ook grootliks bygedra tot die vestiging van ’n Afrikaanse kultuur. Die aankoms van 11 gereformeerde predikante uit Skotland, onder leiding van ds. Andrew Murray senior, het presies die teen¬oorgestelde uitwerking gehad: hulle het Hollands en Afrikaans aangeleer en onder ds. Andrew Murray jnr. het daar in 1860 ’n herlewing uitgebreek wat die aangesig van Suid-Afrika ingrypend verander het. Dit het ook ’n beduidende en langdurige impak op Afrikaners as mense gehad. Tot nou toe word die Pinksterdienste wat in 1862 in die Paarl begin het, steeds in baie gemeentes gehou.

Die herlewing het meegewerk dat Afrikaans in 1925 as amptelike kerktaal sowel as ’n landstaal met gelyke status erken is. In 1933 het die eerste Afrikaanse Bybel verskyn. Dit het meegewerk tot ’n self-persepsie dat die Afrikaner ’n Christen-volk is.

Het ons die spoor byster geraak?
Die moderne Afrikaner het nog in ’n groot mate sy taalidentiteit, maar met die geloof van baie het daar ’n groot skroef losgeraak. ’n Mens kan dit nou maklik toeskryf aan li¬berale teologie – wat veral van Duitse kant die Kerk ingesypel het – maar daar was ook ander omstandighede wat meegehelp het om die Afrikaner se geloof te ondermyn.

Ons pragtige kultuur-historiese erfenis het hom vasgeloop teen die materialisme van die goudstormloop en die magstryd om politieke en militêre oorheersing en die Anglo-Boereoorlog het onder andere sy merk op meer as een manier op die Afrikaner gelaat. Industrialisasie en afwykende teologie het ook meegewerk om ons geestelike sekerhede te ondermyn. Die sug na politieke oorheersing het selfs in die Kerk neerslag gevind.

Afrikaans ’n vloekwoord
Die Kerk het gaandeweg die teologiese onderbou vir Apartheid verskaf. So het ‘Afrikaner’ ’n simboliese verandering ondergaan – van soeker na vryheid, tot oorheerser oor ander. ‘Afrikaans’ het in die proses vir baie ’n vloekwoord geword. Politieke oorheersing was die raamwerk waarbinne mag vergestalt was.

Wetgewing is aangepas om in ’n mags¬posisie te bly. En die Kerk het ’n godsdiens¬tige en kulturele enklawe geword. Ander was nie in die Kerk welkom nie, want dit is, in die stuiptrekkings van Apartheid, gesien as die laaste vesting.

Bly daar iets oor?
Die Afrikaner is nou gestroop van politieke mag, maar ook in ’n groot mate van kulturele hoogmoed. Ook van teologiese meerderwaardigheid. Die Afrikaner moet weer die waardes van sy godsdienstige erfenis herontdek. Hy kan, en mag, ánders wees, maar hy mag nie eenkant staan nie. Hy is geroep om sout en lig te wees in die samelewing waarvan hy deel is. Sy eerste en vernaamste lojaliteit is nie teenoor sy kultuur nie, maar aan die Kerk van ons Here Jesus Christus.

Hy is nie beter as ander Christene nie, net anders. Hy moet help om, saam met die res van die Kerk van Christus, Christelike waardes te vestig, uit te reik na dié in nood en hande te vat met almal wat Koninkryks¬werk doen. Hy is hier om te dien, nie om te oorheers nie. En daardie dienswerk moet op alle vlakke van die samelewing plaasvind: in die onderwys, gesondheidsorg, politiek, ekonomie – oral en altyd.

Dra vrugte van die Gees
Hy mag nooit weer van ander afgesonder word op die basis van meerderwaardigheid of hoogmoed nie. Hy moet eerder poog om Christelike waardes op alle terreine te vestig. Die vrug van die Gees moet sy lewe kenmerk: krag, liefde, selfbeheer¬sing, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, eerlikheid, opregtheid, betroubaarheid en hardwerkendheid. Die boom word aan sy vrugte geken.

As hierdie dinge weer deel van die Afrikaner se lewe word, sal ander nie meer met agterdog en haat na Afrikaners kyk en hoef hy hom nie vir sy andersheid te skaam nie. Dan dien hy die Koninkryk en help hy die land bou. Kom bid volhardend dat God hierdie land weer sal besoek soos in 1860.

deur Johan Kriel


Hoe die Apostels gesterf het

Moontlik herinner dit ons daaraan dat ons eie swaarkry en opofferings niks is in vergelyking met die intense vervolging en wreedheid wat die Apostels en Evangeliste ná Christus se Hemelvaart moes deurmaak nie. Laat ons aan ons broers en susters in Christus dink wat steeds hieronder gebuk gaan en die dood daagliks weens hul geloof in die gesig moet staar. “Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat sal volhou tot die einde toe, sal gered word.” Matt 22:6

Matteus: Hy was ’n belastinggaarder wat ’n evangelis geword het. Hy was ’n martelaar in Etiopië en is uiteindelik met die swaard gedood.

Lukas: Hy was ’n Griekssprekende mediese dokter en is in Griekeland gehang juis omdat hy so dikwels vir die verlorenes gepreek het.

Petrus: Hy is onderstebo gekruisig. Volgens tradisie het hy dit só versoek aangesien hy homself onwaardig beskou het om op dieselfde manier as sy Meester te sterf.

Markus: Hy was die stigter van die kerk in Alexandrië in Egipte. Hy het toe ook daar gesterf nadat hy met perde deur die strate gesleep is.

Johannes: Hy is in olie gekook, maar het wonderbaarlik aan die dood ontkom. Hy het in vrede gesterf op die eiland Patmos, waar hy die Openbaring-boek geskryf het.

Jakobus die Regverdige: Hy het geweier om sy geloof te ontken, is by die Tempelmuur afgegooi, het oorleef en is met ’n knuppel doodgeslaan.

Paulus: Paulus het gedurende sy leeftyd gevangenisskap, afranselings en skipbreuk deurgemaak. Hy is gemartel en toe deur Keiser Nero van Rome in 67 n.C. onthoof.

Andreas: Hy is in Griekeland gekruisig. Nadat hy gegesel is, is sy liggaam aan ’n kruis vasgemaak. Hy het vir sy martelaars bly preek totdat hy na twee dae gesterf het.

Jakobus die Grote: Hy was bekend as Seun van die Donder. Hy het Spanje evangeliseer en is die Beskermheilige van Spanje. Hy is deur Herodus Agrippa onthoof.

Bartolomeus: Hy het ook as Nataniël bekend gestaan en was ’n sendeling in Asië (waar Turkye vandag is). Hy is in Armenië gemartel en tot die dood toe gegesel.

Thomas: Hy is ook bekend as die Ongelowige Thomas. Hy is met ’n spies op een van sy sendingreise na Indië doodgesteek. Hy het daar ’n kerk gevestig.

Mattias: Hy is in die plek van Judas Iskariot gekies. Hy het onder die kannibale gewerk en die verslae oor sy dood wissel van steni¬ging en kruisiging tot onthoofding. +


Die Bekeringsdoop – Wat sê die Bybel

Daar word toenemend in die sekulêre pers berig oor die groeiende ongemak, onsekerheid en ongelukkigheid onder sekere kerklidmate oor die hele kwessie van die doop. JUIG! het besluit om hierdie belangrike stap van gehoorsaamheid in die lewe van ’n gelowige in die lig van die Skrif te ondersoek.

Die woordbetekenis
Die Engelse woord vir doop, ‘baptism’ is van die Griekse woord ‘baptizo’ afgelei en beteken letterlik om ‘onder die water ingedruk’ te wees, of selfs ‘deur die water oorweldig’ te wees.

Die Afrikaanse woord ‘doop’ kan makliker na die Engelse woord ‘dip’ herlei word, wat op sy beurt ‘insteek, indruk, laat sak’ beteken. Dit is dus baie duidelik as daar van ‘doop’ gepraat word, dit ’n ‘indruk in’ of ‘laat sak in’ water beteken.

Waarom moet ek gedoop word?
Indien ons ooit wonder wat ons as Christene te doen staan, behoort ons net na Jesus as voorbeeld te kyk en dan daarvolgens te handel. Hy het in alles vir ons die perfekte voorbeeld gelaat en ons behoort in Sy voetspore te volg. Waarom? In Matt 10:24-25(a) lees ons: “’n Leerling is nie verhewe bo sy onderwyser nie. ’n Slaaf ook nie bo sy baas nie. ’n Leerling behoort daarmee tevrede te wees as dit met hom gaan soos met sy onderwy¬ser, en die slaaf soos met sy baas.” Christene, volgelinge van Jesus Christus, behoort dus te doen wat Hy gedoen het.

Jesus is gedoop – die hele verhaal kan in Matt 3:13-17 gelees word. In vers 16 van die betrokke gedeelte lees ons: “Na Jesus se doop, het Hy dadelik uit die water geklim.” Om ‘uit die water’ te kon klim, moes Hy tog sekerlik eers heeltemal ingeklim het. Eers nadat Jesus gehoorsaam was aan die Vader se Wil (kyk v.17), is Hy met die Heilige Gees gesalf. Die tweede rede waarom ons gedoop behoort te word, is omdat dit ’n opdrag van God is. Daar staan baie duidelik in Mark 16:16 die volgende: “Elkeen wat glo en gedoop word, sal gered word.” Die orde waarin dinge genoem word, is baie duidelik: glo, word gedoop en dan is jy gered.

Geestelike betekenis van die waterdoop
In Rom 6:3-6 verduidelik Paulus hierdie hele simboliek van die doop aan die Romeine. Wanneer ons gedoop word, moet ons wéét dat die ingaan in die water die afsterf van die ou mens, die kruisiging van die ou sondige natuur saam met Christus, simboliseer. Wanneer ons onder die water uitkom nadat ons in die Naam van die Drie-enige God gedoop is, word die geboorte van die nuwe mens in Jesus gesimboliseer.

Ons staan dus saam met Jesus op uit die dood van die sonde en is ’n nuwe mens in Hom. Kol 2:12 lees: “…julle geloof in die krag van God het dit moontlik gemaak.” Sonder geloof in God beteken die doop niks nie. Ons moet God loof en prys vir die werklikheid van Sy belofte – die belofte dat ons ’n nuwe mens in Hom is – selfs nog voordat dit tot vervulling kom. En juis dít is die grootste en hoogste uitdrukking van geloof.

Wat moet ek doen voordat ek gedoop word?
Ons lees ook in Rom 10:9 wat gedoen behoort te word voordat ons gedoop kan word: “Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” Sodra jy glo in Jesus, is jy gereed om gedoop te word.

Daar is geen ander geestelike hoogte wat bereik moet word alvorens jy gedoop kan word nie. Geloof in Jesus Christus en ’n mondelinge belydenis van jou geloof kwalifiseer jou vir hierdie stap van gehoorsaamheid. ’n Baie goeie en praktiese voorbeeld is opge¬sluit in die verhaal van die Ethiopiër wat die Evangelie by Filippus gehoor het (Hand 8:26-40) en wat gedoop is.

Wat nou van die kinderdoop?
Kinders van gelowige ouers behoort aan die Here toegewy te word. Die gebruik waar babas gebring en met water besprinkel word, is dus inderwaarheid ‘n belofte wat voor God en die gemeente gemaak word om die baba in die vrees van die Here groot te maak. Babas het geen besef van geloof in Jesus of van sonde nie, hulle kan ook nie hul geloof met hul mond bely of verstaan dat die ou mens deur die doop afgelê en die nuwe mens saam met Christus uit die water opstaan nie. Babas het nog geen sonde gepleeg nie; dus gaan hulle Hemel toe sou hulle sterf. Dit lees ons in Matt 19:14 waar Jesus sê die kindertjies moet na Hom toe kom, “want God se Koninkryk is juis bedoel vir almal wat soos hulle is.”

Onder watter gesag word ek gedoop?
Weereens kan ons teruggaan na die Skrif om die antwoord op hierdie vraag te kry. ’n Volgeling van Jesus Christus volg Hom dus ook in die doopwater in en word in die ge¬sag van Jesus in die Naam van Vader, Seun en Gees gedoop.

Verdere Skrifverwysings
Joh 14:15 – “As julle My liefhet, sal julle My opdragte gehoorsaam.” Hand 2:38, 41 – “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang. Die wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en het lede van die kerk geword.” Hand 10:47-48(a) – “Petrus het toe gesê: ‘Wat kan verhinder dat julle met die water gedoop word noudat julle, net soos ons, die Heilige Gees ontvang het?’ Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word.” +

saamgestel deur Toi Nell


Carel du Plessis: Die Prins van Rugbyvleuels

Praat jy vandag nog van ‘die prins van vleuels in Suid-Afrikaanse rugby’, dan weet alle rugbykenners net een persoon kan hierdie titel verdien – Carel Johan du Plessis. Carel het by 12 geleenthede as vleuel vir die Springbokke uitgedraf, maar sy internasionale loopbaan is gekniehalter deur die sportboikot teen Suid-Afrika in die tagtigerjare van die vorige eeu.
Carel was veral bekend vir daardie 19 individuele drieë wat hy in 1989 vir die Westelike Provinsie gedruk het. Gedurende 1997 word hy in die plek van André Markgraaff as die nuwe breier van die Springbok -rugbyspan aangestel. Maar dit is nie net hierdie prestasies wat Carel ‘n uitsonderlike man maak nie. Praat jy met sy vrou, kinders, familie en vriende, kom jy gou agter hierdie man is uit een stuk. ‘n Man met integriteit, liefde, nederigheid en goddelikheid!

Met die naderende Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland het JUIG! dit goedgedink om so ‘n bietjie met hierdie oud-Springbok te gesels.
Carel, wanneer en hoe het Jesus Christus ‘n werklikheid in jou lewe geword?
In 1989, net nadat ek ophou speel het, het my persoonlike verhouding met Jesus begin. Deur die jare met baie genade, liefde, insig en wysheid, wat deur Hom openbaar is, is ek nou in ’n posisie waar ek daagliks beter verstaan hoe om dit elke dag te beleef en uit te leef.
Rugby is soos ‘n godsdiens in Suid-Afrika. Hoe het jy perspektief behou en so nederig gebly?
Vir my gaan dit tog nie oor ’n spesifieke eienskap of verandering daarvan nie, maar om eerder ’n vol lewe te lei wat gebaseer is op die Waarheid van Jesus Christus en wat uiteindelik vir God tot eer sal wees. Goeie Christen-vriende speel ook ’n groot rol om balans en perspektief te behou.

As ‘n voormalige Springbok-afrigter: wat is die grootste uitdagings van só ‘n posisie waarvan die publiek nie aldag bewus is nie?
Ondanks uitslae wat wissel en emosies aanvuur, moet jy bereid wees om innoverend te bly. Jy moet aanpassings aan die span en die speelstyl onder hoë druk en verwagting, met beperkte tyd tot jou beskikking, kan maak, sonder om die spandinamika te ontwrig. Jy moet ook voortdurend daaraan werk om ’n omgewing van sekerheid en vertroue te skep.
Watter waardesisteme behoort deel van ‘n goeie sportman te wees?
Daar rus tog ’n onus op ‘n speler om sy ta¬lente optimaal te benut, om topfiks te wees, standvastigheid en ne¬derigheid te openbaar en te alle tye ‘n voorbeeld te wees.
Sonder ’n goeie waardesisteem is dit maklik om perspektief te verloor en die pad byster te raak. Dit bied ’n sterk grondslag en goeie verwysingsriglyn in tye van teleurstellings en druk sowel as in tye van sukses en roem. Integriteit en respek is twee waardes wat die sportman voortdurend toets in terme van sy gesindheid, eerlikheid teenoor homself en die talent waarmee hy bedeeld is, toewyding, rol van die opponent en hantering van sy profiel in die groter prentjie van sy sport.

Soveel sportmanne swig voor die versoekings van buite-egtelike verhou¬dings. Waarom is dit so algemeen in die sportwêreld?
Die moderne omgewing/wêreld het ’n geneigheid om onverskillig te staan teenoor die verantwoordelikheid wat ’n rolmodel meebring. Dis moontlik ook gerieflik en maklik om so ’n lewenstyl te regverdig.

Jy en Lisa is reeds 18 jaar gelukkig getroud. Wat is julle geheim vir so ‘n standvastige huwelik?
Dit is gebaseer op ´n sterk liefdesband tussen mekaar. Ons het ’n sterk interne behoefte om beste vriende te bly; die ‘dik en dun’-tye te gebruik om nader aan mekaar te groei; daar is humor en ’n sterk verhou¬ding met God. Ek spandeer tyd met en in Sy Woord en is daagliks ingestel op my verhouding met Hom.

Deesdae is jy ‘n besigheidsman – vertel ons wat jy presies doen.
Ek is betrokke by ’n onderneming wat sagteware beskikbaar maak en ontwerp vir die bestuur van sport en sportspanne. Hierdie sagteware analiseer o.a. spelpatrone, algemene bestuur van sport en individue en doen meting van werksla¬ding op die atleet.

Het jy enige raad aan Christen-sakemanne?
Daar is ’n fyn lyn tussen edelheid en ydelheid! Waak daarteen dat dit ’n ‘lewenstyl’-aangeleentheid word – hiermee word Christus op die agterbaan geplaas, ego betree die arena en selfregverdiging is ’n maklike uitweg onder baie omstandighede. Vertroetel jou dag- tot- dag- wandel met God, weet dat dit mense in jou werkplek sal raak en sien met afwagting uit na hoe God jou sake-omgewing se gestalte verander.

Watter raad sou jy en Lisa aan ouers gee t.o.v. ‘n wenresep vir tieneropvoeding?
Alhoewel daar baie handleidings beskikbaar is, is daar geen spesifieke bloudruk hiervoor nie. Dit verg baie gebed, geduld en ’n goeie humorsin! Tieneropvoeding bring groei op meer as een gebied mee en dit is noodsaaklik dat ouers die Waarheid wat die waarde¬stelsel onderlê, oordra en die pret-gesinstye saam met die kinders geniet terwyl hulle toegelaat word om hul eie persoonlikheid te ontwikkel. Ons gesinstye is altyd ’n hoogtepunt!

Lisa, wat maak Carel vir jou so ‘n besondere mens?
Carel is ’n lojale vriend en ’n baie sterk, maar nederige persoon. Hy is die geestelike leier in ons huis en God het my werklik geseën met ’n wonderlike lewensmaat en fantastiese pa vir ons kinders. Sy integriteit en eerlikheid is onbesproke. Hy bring kalmte en ’n wonderlike humorsin in enige situasie en dit het al menigmaal dinge ontlont en die gesin glimlaggend gehou.

Wat maak julle pa vir julle ’n pa-duisend?
Jean-Luc: Pappa is spesiaal, want hy is baie sorgsaam en liefdevol en ’n uitstekende voorbeeld en rolmodel – ek sien in alle opsigte na hom op. Hy bedink dinge deeglik en bly altyd kalm. Hy’s geduldig, ondersteunend en verstaan my. Hy moedig my ook aan om myself te wees. Hy is baie hardwerkend en vrygewig – hy gee maklik aan die gemeenskap.
Lara: Ek is lief vir hom en bewonder hom omdat hy God en sy gesin baie liefhet. Hy is liefdevol en ondersteunend en gee altyd baie goeie raad. Hy is ook pret, vertel grappe en ons lag baie. Hy is nederig en stel ander altyd eerste. Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie en ek kan maar net daarna streef om soos hy te wees.
Carel is beskikbaar vir motiverings-praatjies – kontak hom op careldps@iafrica.com
deur Ymile Kennedy+