Op die voorblad van die eerste JUIG! pryk die artikel, “Evolusie: die Groot Leuen”. Dis nog steeds presies dieselfde leuen wat deur sommige opregte Christene geglo word wat glo evolusie is wetenskap. Soos spesifiek deur dr. Alberts gestel: “In teïstiese evolusionisme word die wetenskap van evolusie aanvaar net soos dit in daardie stadium ontwikkel het”. Dis presies die “aanvaar”-stelling wat die antitese is van werklik wetenskaplike metodiek en die basis vorm van pseudowetenskap.
Indien die wetenskaplike metodiek – wat berus op (1) Observasie, (2) Eksperimentering, (3) Hipotese – op enige fondasie van evolusie toegepas word, misluk dit 100%. Homologie beweer dat ontwerpte stelsels soos bv. rugwerwels wat by verskillende Genera voorkom, bewys is van ontwikkeling van laer ordes na meer gesofistikeerde ordes. Dit berus egter op geen logies wetenskaplike grondslag nie. Die analogie is dat die gebruik van vier wiele op ’n klein stadsmotortjie sowel as ’n dubbelkajuitbakkie bewys is dat die bakkie eers ’n motortjie was wat self per toeval in ’n bakkie verander het. Die wetenskaplike werklikheid is egter dat die ontwerpingenieur dieselfde basiese funksionele ontwerpmeganismes met beide gebruik het. Wetenskap ondersteun dus gemeenskaplike ontwerp en verwerp homologie.
Verder berus evolusie op die foutiewelike en wetenskaplik teenstrydige voorveronderstelling dat vermeerdering in tydsverloop verhoging in kompleksiteit meebring. Die werklikheid is egter alomwaarneembare toenemende verval of entropie, vanaf die kosmos tot op selvlak, perfek in lyn met die Entropiese beginsel volgens die tweede wet van Termodinamika.
Die voorgestelde meganisme van evolusie, nl. mutasies ( korrupsie van inligtingoordrag waaronder kankergewasse) plus natuurlike seleksie (behoud van bestaande genetika), het nog nooit enige verhoogde kompleksiteit, soos benodig deur evolusie, voortgebring nie. Wêreldwyd is wetenskaplikes, selfs ateïste, deeglik hiervan bewus en is die “dissent from Darwin”-veldtog van stapel gestuur wat reeds deur meer as ’n duisend prominente wetenskaplikes van verskeie godsdienste, ook ateïste, onderskryf word en daagliks toeneem.
Die rede waarom sommige Christene steeds in evolusie glo, berus geensins op wetenskaplike verdedigbaarheid nie, waarskynlik wel op die feit dat sekere prominente Christene van goeie karakter dit onderskryf en hulle nie die verskriklike gevolg besef nie. Denkende jongmense besef evolusie en skeppingsleer is teenstellend en verlaat die kerk in groot getalle. Teïstiese evolusie beweer in wese God is wispelturig deurdat Hy nie altyd bedoel wat Hy sê en sê wat Hy bedoel nie.
Evolusie is ’n verbeeldingsvlug, gebaseer op absurditeit en in teenstelling met wetenskaplike werklikheid is dit gefokus op die intellek van mense wat deur die passiwiteit van die Kerk kwesbaar gelaat is. Evolusie gebruik pseudowetenskap, gebore in die hart van die hel, met die vernietiging van God se Bruid as oogmerk, in ’n patetiese poging om verantwoording teenoor God te probeer ontkom.
Die kanker van evolusieleer het ’n groter vernietigende effek op die menslike siel as kanker van die fisieke liggaam. Duisende, selfs miljoene mense glo hierdie leuen, versaak hul geloof in die enigste Lewende God van die Bybel en is op pad na die hel, tensy die Kerk die volle wapenrusting aantrek, God weer met hart, siel en verstand liefhet en veg vir die bevryding van Sy geliefde kinders, ons broers en susters.
Wees wys en sien in dat die skeppingswaarheid, vanaf die eerste woord in Genesis tot die laaste woord in Openbaring waar is, teenoor die evolusieteorie se ongegronde hersenskim. Daar is niks nuut wat genoem is om die evolusieteorie enige legitimiteit te gee nie en ek verwerp dit met die minagting wat dit verdien omdat julle en Christus se mense vir my ook kosbaar is.
Albie de Villiers