Christelike gesindheid

Ek wil JUIG! bedank vir ’n inspirerende en relevante tydskrif. Een wat werklik interkerklik probeer wees en nie skroom om die ander kant van ’n omstrede mening ook te publiseer nie. Die gesindheid van baie Christene teenoor dié wat nie aan húlle kerkgenootskap behoort nie, breek egter my hart! Bybelinterpretasie mag verskil, maar waarom so krities, onverdraagsaam en onchristelik optree? Ek bly in ’n woonstelkompleks waar ek verwerp en bespreek word omdat ek nie aan die meerderheid se kerk behoort nie. Ek is altyd vriendelik, behulpsaam en het nog nooit my siening van die Skrif op ander probeer afdwing nie. Tog lyk dit of die meerderheid in suurlemoensap gedoop is. Ek dank God egter dat ek só kan leer om te vergewe en te probeer goed doen aan dié wat my verwerp. Mag God ons vergewe waar ons Sy Naam deur die modder sleep, in stede van die lieflike Evangelie van Jesus uit te dra. Mag JUIG! in 2020 van krag tot krag gaan. 

Anonieme plattelander