Ek lees vanoggend Maleagi en daar gaan ’n lig vir my op. Hoekom is ons almal so vreesbevange? Mense is siek en gaan dood, ons ekonomie is afgegradeer na Rommelstatus. As ons vanuit die wêreldling se oogpunt na die wêreld kyk, is dit vreesaanjaend. Is dit nie miskien die probleem nie? Soos Maleagi se mense vra ons ook: “Waar is God? Gee God nie meer om nie? Staan God by die onregverdige uitbuiter met wie dit so goed gaan?”
God gee ontsettend baie om. Juis omdat Hy ons so oneindig liefhet, het Hy het dit aan die Kruis bewys. Hy het alles opgeoffer ter wille van ons, wat die offer nie waardig is nie – sondaars wat die ewige dood verdien. Miskien verstaan ons nie die offer mooi nie. Miskien kyk ons na God uit die oog van ’n wêreldling? Dalk dien ons God om die verkeerde rede.
Ons moet Hom dien omdat Hy ons eerste liefgehad het. Ons diens aan Hom is maar ’n spikkel in vergelyking met Sy offer aan ons – Hy het vir ons die Ewige Lewe gegee! As ons besef wat God vir ons gedoen het, sal ons nie meer vra waar is God nie, maar vra: “Here wat kan ons nog vir U doen en gee om dankie te sê vir dit wat ons reeds ontvang het?” Dan sal dit nie meer saak maak dat misdadigers in mooi huise woon en ongestraf bly nie, dat dit met hul goed gaan nie, want ons weet die oordeel kom God toe en God sal oordeel eendag as hy terug kom aarde toe met die oordeelsdag. Dis daarvoor wat ons lewe: Om daardie dag die kroon te dra en deel van die oorwinnaarspan te wees. Dis die wete wat ons die krag gee om in alle omstandighede gelukkig te wees, en dis dan wat ons die vrede wat alle verstand te bowe gaan sal kry. Dit het alles ewigheidswaarde. Dit is die moeite werd om daarvoor te volhard. Omdat God vir ons so wonderlik goed is en omdat Hy ons so liefgehad het dat Hy Sy eniggebore Seun gestuur het om in ons plek te sterf. Al ons tyd, toewyding en geld moet aan God gaan om Hom te eer. Ware geluk lê daarin om toegewyd aan God te lewe. Dan sal geen vrees ons oorweldig nie. Het ek en jy die regte soort geloof?
Sandra Kruger Fairland JHB