Opstandingsondag

Ons het onlangs tydens Paasfees in die Wes-Kaap ons eerste winterreëns van 2020 gekry. Die volgende oggend, toe ons die opstanding van ons Here Jesus herdenk, is alles skoongewas en vars. Dit is vir my so simbolies van die kruisiging en alles wat daarop gevolg het. Reën bring groei en nuwe lewe. Die Seun se opstanding bring nuwe lewe, en dit in oorvloed! In hierdie tydperk van ’n dodelike virus, wat al meer as 112 000 mense se lewens wêreldwyd geëis het en met meer as 1,7 miljoen mense wat siek is, het ons as Christene hoop om aan vas te hou. ’n Nuwe ewige lewe wag op ons, al sou ons ook sterf. Ons in Suid-Afrika is ook gegrendel, in ons huise vasgekeer, soos die dissipels wat ná Sy kruisiging agter geslote deure weggekruip het. En toe verskyn Hy tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle.” Ek kan my goed voorstel hoe verbaas hulle was, maar ook hoe verheug! Hy sê ook vir ons: “Vrede vir julle,” en “Moenie bang wees nie,” soos Hy aan die vroue in Matteus 28 gesê het. Hy is saam met ons in ons alleenhuise, in ons onsekerheid oor die onsigbare vyand wat derduisende mense laat sterf. Hy het ook belowe dat Hy ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie, Hy bly getrou.

Ronelle van Loggerenberg