Versoek vir artikel oor die Dorothea Sending

Weens die COVID-pestilensie is die April-uitgawe van JUIG! nou eers afgelewer. Ek is gefassineer deur die artikel, “Ilse Barlow: My stap van gehoorsaamheid”. Mag God haar seën vir hierdie groot stap wat sy geneem het. Christus se opdrag van die bekeringsdoop is so duidelik in die Bybel dat enige persoon dit kan verstaan, selfs kinders. Ja, heeltemal verstaanbaar vir amper almal, behalwe sommige geleerde teoloë. Ek is so dankbaar dat daar sommige dominees is soos Marcel Vosloo en Ernie Rex wat bereid is om hierdie Bybelse waarheid te aanvaar en uit te leef. Ek het nooit geweet dat Ilse Barlow die dogter van die stigter van Dorothea Sending is nie. My oorlede pa was ’n groot ondersteuner van hierdie sending en het baie van hul boekies en traktaatjies uitgegee. Kan julle en Ilse nie asseblief ’n berig skryf oor die Dorothea Sending nie? Bestaan hulle nog? Ek is seker daar is baie van JUIG! se lesers wat groot inspirasie sal put om die volle verhaal van die Dorothea Sending te hoor. 

Bernhard Ficker (Kaapstad)