Grendeltyd en gebed: ’n getuienis

Hierdie inperking het meegebring dat ek en my man, Casper, se inkomste so gekrimp het dat ons net ons selfoonrekening en motorversekering kon betaal. Die selfoon – om in kontak met die buitewêreld te bly en die versekering – sodat ons motor nie terug-geneem word nie. Ons nood was groot! Ek begin bid. My man is ’n epilepsielyer en ek ’n tipe 1-diabeet. Ek vertel vir Hemelvader hoe die stres my suikersiekte beïnvloed. Ons moet oorleef en Hy is ons enigste hoop! Nadat ek alles vertel het, verklaar ek dat ek nou alles in Sy hande gaan los. Die volgende oggend wil my man weet hoe ek so kalm kan wees en ek vertel van my hulproep en sê: “Jy moet bid my man.” Hy doen dit toe ook. Twee dae later stuur my sussie, Tanya, vir my R1 500. Sy verdien nie ’n salaris nie. Ek bel haar om te hoor waarvoor die geld is en sy sê dat haar kêrel dit vir haar gegee en gesê het, sy kan daarmee doen wat sy wil. Sy het dit vir my gegee omdat ek altyd ’n oop hand vir ander het. (Sy was onbewus van ons probleme!) ’n Week later bel my vriendin en sê ek moet na haar toe kom, want sy het ’n verassing vir my. Die verassing? Kruideniersware; meer as ’n maand se voorraad! Nog ’n week later stuur Tanya weer R1 500. Ons kon begin rekeninge betaal. Maar, ons mediese fonds van R6 000 per maand is nog nie betaal nie. (My kroniese medikasie alleen kos elke maand R6 000. Dan kom my man s’n nog by.) Ek bid weer: “Vader ek kom weer, en nou is my probleem nog groter.” My man gaan apteek toe om ons medikasie vir die maand te kry; miskien het die mediese fonds ons rekening nog nie opgeskort nie. My man bel my en sê hy kon alles kry, en dít sonder die gewone bybetaling van R400! Twee dae later ontvang ons ’n skenking. Die bedrag? R8 600 en kon ons die mediese fonds betaal! Twee dae later stuur my sus weer R1 700. Elke keer as hierdie wonderlike dinge met ons gebeur, sak ek in trane op my knieë neer en dank my Verlosser. Sedert Januarie is ek en my man besig met ernstige
Bybelstudie. Ons verhouding met God het so verdiep. Ek is bereid om alles aan Hom oor te gee. Die verhouding wat ek met my aardse vader het, het ek nou ook met my hemelse Vader. Al val die duiwel my hoe aan, ek is nie bang nie. God is aan my kant. Ek weet wie gaan wen! Ek het vrede.                                              

Yolandi