Wegraping en die eindtyd

Ek het pas die artikel oor die koronavirus en die eindtye in die Junie-uitgawe van JUIG! gelees. Hierdie berig is 100% reg. Baie dankie dat julle hierdie artikel gepubliseer het. Ek verstaan nie hoekom nie, maar ons kerke is baie traag om enigsins oor die eindtye en wegraping te praat. Ek glo die wegraping is die volgende groot gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom. Alles wat in die Bybel voorspel word oor die eindtyd, is nou gereed, maar ons kerke swyg hieroor asof dit nie gaan gebeur nie. Hierdie artikel in julle tydskrif is daarom van kritieke belang, aangesien dit dalk die enigste wyse is waarop baie mense hierdie belangrike boodskap sal ontvang. Interessant is die langtermyn voorspellings van ’n paar mense oor die eindtye. Ek is seker julle is bewus van die Joodse rabbi wat in 1517 reeds presies voorspel het oor gebeure rakende Israel. Ons is nou in die laaste deel van sy voorspelling. Wanneer ’n mens dit lees, tesame met wat in die Bybel staan, is dit baie insiggewend. Julle is sekerlik ook bewus van die akkurate voorspelling oor elkeen van die Rooms-Katolieke pouse; die huidige pous asook die laaste een? Die Amerikaanse pastoor Jimmy Evans se boek, Tipping point: The end is here”, word in Julie 2020 in Amerika bekendgestel. Hy is een van die grootste hedendaagse kenners oor die eindtye en hierdie boek sal baie insiggewend wees – veral vir dié wat nie oor die werklikheid van die eindtye en die wegraping in hulle eie kerke hoor nie. Ons geniet die tydskrif baie en bid die seën van God oor julle.

Theuns Prinsloo