Daar is ’n hele polemiek in die kerke oor die wegraping. Die woord “wegraping” kom nie in die Afrikaanse Bybelvertaling voor nie. As jy glo dat jy as Christen ’n verdrukking gaan misloop, verkondig jy ’n goedkoop Evangelie. Die Evangelie van Jesus Christus is nie goedkoop nie – dit kos iets! Dit is seker ’n wonderlike gedagte om te dink dat jy in die Hemel saam met Jesus partytjie hou terwyl al die goddelose mense en sondaars op aarde onder die Antichris ly. As ek egter my gesonde verstand gebruik, maak iets nie sin nie. Hoe kan die martelare die bruilofsmaaltyd van die Lam misloop? Hulle is dan deel van die Bruid! Ek weet mense haal sekere verse aan om die wegraping te regverdig. Onder meer: “Henog het met God gewandel en toe was hy nie meer daar nie” en “Dit wat die Antichris teëhou moet eers uit die weg geruim word”, maar hierdie verse is nou nie hier ter sprake nie.
Matteus 24:21-22 sê in daardie tyd kom ’n Groot Verdrukking soos wat daar nog nooit was nie, maar ter wille van die uitverkorenes, gaan die Here die tyd ínkort. Dit beteken die uitverkorenes is die kinders van die Here en ter wille van hulle gaan die tydsverloop kort wees. Hulle gaan deur die verdrukking. Matteus 24:29 sê ná die verdrukking – nie vóór die verdrukking nie – gaan die son verduister en die engele kom en die getal uitverkorenes versamel oor die hele aarde. Die uitverkorenes is die kinders van God wat in daardie tyd nog gaan lewe en op die aarde gaan wees. Geen wegraping nie! Kyk wat het in die geskiedenis gebeur! Kyk hoe is Christene vir hulle geloof gemartel en gemoor! Kyk wat gebeur in kommunistiese tronke! As dít in die vroeë geskiedenis gebeur het en ook vandag gebeur, hoe kan sommige gelowiges beweer dat ons nie deur ’n verdrukking sal gaan nie en dat ons “weggeraap” gaan word? As jy nie in die Woord gegrondves is en in die Wynstok ingeplant is nie, gaan jy die mas nie opkom nie. Mag God ons genadig wees! Die bloed van die martelare is die saad van die kerk.
Retha Nothnagel