WOU JY ALTYD TONEELSPEEL?
Ek dink ek was nog maar altyd ‘n akteur sonder dat ek dit besef het. Toe ek jonger was, het ek ook modelwerk gedoen om my studies te finansier. Ek het sommer baie TV-advertensies gekry en het my ta¬lent ‘per toeval’ ontdek. Ek het besef dat ek passievol oor toneelspel was en dat ek moontlik ‘n bestaan daaruit sou kon maak. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis!
HOE HET ‘FAITH LIKE POTATOES’ OOR JOU PAD GEKOM – VERAL OMDAT DIT ‘N CHRISTELIKE VERHAAL IS?
Ons het op daardie stadium in LA gewoon. Ek het ‘n telefoonoproep van Global Creative Studios gekry wat my die rol van Angus aangebied het. Ek en Reghart v d Bergh het mekaar so bietjie geken en hy het gevoel ek was die regte persoon vir die rol. Op daardie stadium was ek vir 12 jaar in die vermaaklikheidswêreld en ek was toe reeds 15 jaar ‘n volgeling van Jesus. Hulle het vertroue in my toneelspel gehad en het geglo ek sou Angus se reis as gelowige verstaan. Nadat ek die draaiboek gelees het, het twee dinge my aandag getrek en my laat besluit om die film te doen.
Eerstens is dit ‘n ware verhaal en twee¬dens is dit ‘werklik’. Dit was dus nie net oor die wonderwerke wat God in ons lewens doen nie, maar daar was ook die werklikheid van dood, verlies en al die ander pynlike dinge wat ons in die lewe ervaar.
DEEL MET ONS JOU GETUIENIS – HOE EN WANNEER IS JY GERED?
Ek het, soos so baie Suid-Afrikaners, in ‘n Christenhuis grootgeword. Selfs al het ek in God geglo toe ek saam met my ouers kerk toe gegaan het, was daar geen sprake van enige verhouding met Jesus nie. Op agtienjarige ouderdom het my meisie my gelos. Dit klink so ‘vlak’ as ek dit nou sê, maar ek was gebroke en het net getroos gevoel as ek die Bybel gelees of gebid het.
‘n Jaar daarna (1992) het ek ‘n Bybelkollege in Londen bygewoon en dit het regtig gehelp om my geloof te vestig. Tot dusver is dit ‘n 18-jaar-lange reis met baie ‘op- en af-ervarings’.
Daar is tye wat ek ontsettend naby aan Hom voel en ander kere weer voel alles vir my soos ‘n misterie waarin niks regtig sin maak nie. Wat ek wel geleer het, is dat ek God nie net tydens die storms van die lewe wil vertrou nie, maar ook wanneer dinge presies volgens plan verloop.
HOE HET JOU LEWE VERANDER SEDERT JY JESUS AANGENEEM HET?
God het my gebroke hart oor baie jare heen stukkie vir stukkie geheel. Dit het tot so baie veranderinge in my leefstyl gelei. Een daarvan is dat ek baie minder ‘gedrewe’ is. Jy weet, so gedrewe is dat dit vernietigend is. Op skool was ek ongelooflik onseker van myself. ‘n Uitgaande persoonlikheid het so baie gedoen om hierdie onsekerheid weg te steek.
Ek was gewild, maar gewildheid doen egter niks aan ‘n onseker hart nie, dit steek dit net baie goed weg. Jy moet net lank genoeg leef, dan steek dit maar weer kop uit. In my volwasse lewe het dit gemanifesteer in my gedrewenheid – wanneer jy die heel beste, die suksesvolste móét wees. Paulus sê in Galasiërs 5:20 – ek haal uit die Message aan – “you see everything as cutthroat competition; all consuming-yet-never-satisfied wants, the vicious habit of depersonalizing everyone into a rival.” Op die ou end betaal jy ‘n prys en die simpel ding is, jy is dan selfs nog méér onseker van jouself! Vir my om te leer om nie te probeer om God of mense te beïndruk nie, is een van die grootste uitdagings wat ek tot nog toe moes hanteer. Dit verg baie geloof en vertroue in God. Ek is minder gedrewe, maar sowaar, vir my is dit ‘n daaglikse stryd.
HOEKOM HET JY BESLUIT OM LA TOE TE VERHUIS?
Ons het ‘n goeie lewe in Suid-Afrika gehad, maar ek het gevoel daar was vir my en Leigh baie meer om te ontdek. Ek het vir vier jaar baie op die stel van 7de Laan geleer, maar daar het ‘n punt gekom dat ek gevoel het ek stagneer in my werk.
Alles het net té bekend geword en as kunstenaar moet jy voortdurend uitgedaag word om kreatief en ‘vars’ te kan wees. Ek het nog altyd ‘n passie vir flieks, veral om daarin te speel, gehad. Rick Warren sê mos “you need to do a job that expresses your heart”.
Vergesog soos wat dit mag klink, dit is makliker om ‘n bestaan uit films in LA te maak as wat dit in Suid-Afrika is. In LA kompeteer jy met die res van die wêreld en die insette is baie groter, maar die belonings ook! Wie nie waag nie, sal nie wen nie!
IS DIT ‘N UITDAGING OM ‘N CHRISTEN IN DIE FILMBEDRYF TE WEES?
Ja, maar nie om voor-die-hand-liggende redes nie. Dinge soos dwelms en sedeloosheid steek maar oral kop uit, nie net in die filmbedryf nie. Mense is net baie meer ingelig oor akteurs se vuil wasgoed omdat die media so baie blootstelling aan hul lewens gee.
Jy sal dus oral uitdagings as Christen ervaar. Ek vind egter dat die lang wagperiodes tussen verskillende werkopdragte vir my geloof ‘n groter uitdaging is as sommige van die ander vanselfsprekende uit¬dagings van die filmbedryf.
MET JOU VOL SKEDULE, HOE MAAK JULLE TYD VIR MEKAAR?
Leigh is ‘n fotograaf en ons het ‘n klein onderneminkie wat net mooi niks met die filmbedryf te doen het nie. Die filmbedryf is baie anders as om ‘n rol in ‘n TV-reeks te hê – die ‘af-tye’ tussen flieks kan soms baie lank wees. Wanneer ek egter onmenslike ure werk om ‘n film te skiet, is dit net vir ‘n paar maande. Gelukkig het ek en sy baie tyd om saam te spandeer tydens die ‘af-seisoen’.
AAN WATTER PROJEKTE WERK JY OP DIE OOMBLIK?
Ek en Leigh het ‘n klein DVD-verspreidings¬onderneming in LA. Wat films betref – my volgende film, The Bang Bang Club, word in Januarie 2010 tydens die Sundance-filmfees vrygestel.
Nog ‘n film, The Film Maker’s Son, wat in Engeland geskiet is, word in Junie 2010 tydens die Edinburgh-filmfees in Skotland vrygestel. In Oktober/November is ek ook bespreek vir die skiet van die film, A Taste Of Rain in Namibië. Dit lyk asof ons tot tyd en wyl nog in die VSA gaan wees.
JUIG! het ook met Frans Cronjé van Global Creative Studios gesels om uit te vind presies waarom Frank hul keuse vir ‘Faith Like Potatoes’ sowel as ‘Hansie’ was. Ons wou ook weet of hulle verdere planne het om in die toekoms van hom gebruik te maak.
Volgens Frans: “Ons het baie goeie akteurs gehad wat oudisies vir ‘Angus’ in ‘Faith Like Potatoes’ afgelê het, maar ek en Regardt v.d. Bergh (die regisseur), het gevoel dat nie een van hulle regtig ‘Angus’ was nie. Regardt het vroeër aan my genoem dat ek ‘n akteur wat in Sewende Laan gespeel het, (Frank) moet bel. Na vele rondbellery het ons Frank in Los Angeles opgespoor. Hy het die draaiboek gelees en onmiddellik ingestem. ‘n Paar weke later was hy in Suid-Afrika en ons het met die verfilming begin.
Dit was wonderlik om saam met hom te werk. Hy is uiters talentvol, het feitlik dieselfde geaardheid as Angus Buchan en hy is bereid om baie hard te werk. Ek het sommer binne die eerste paar weke van die verfilming goeie vriende met hom en sy vrou, Leigh, geword en soos ‘n broer teenoor hom gevoel. Tydens die verfilming van ‘Faith’ het ek reeds oor ‘Hansie’ begin dink en gewonder of Frank as ‘Hansie’ sou werk.
René, my vrou, is ‘n goeie mensekenner en sy help ook met die rolverdeling van ons volgende film. Nadat ek dit met haar en Regardt bespreek het en hul albei gevoel het dat dit kan werk, het ek dit aan Frank genoem. Hy was onmiddellik opgewonde. Alhoewel Frank nie die ewebeeld van Hansie is nie, kon dit met die regte grimering werk. Vir my was dit belangriker dat hy ‘n baie goeie sportman is, hard kan werk, fiks lyk, in ‘n seun¬skool was en ‘n Christen is. Hy het maande aan die voorbereiding vir die rol spandeer en dit uiters goed gedoen. Hy het dit reggekry om ‘Hansie’ in die film te wees.
Ek sal definitief in die toekoms weer van Frank gebruik maak. As ek ‘n keuse het, sal ek hom graag in ‘n komedie wil gebruik omdat hy so ‘n goeie humorsin het en baie ondeund is. Miskien sal die regisseur dan net sy hande vol hê om hom altyd op stel in toom te hou…”.