Volgens Hal Lindsey, die Christen-spreker en -outeur, is die ‘laaste dae’ hier en Bybelse profesieë wat jare gelede voorspel is, skyn baie na aan vervul te wees.
“Die profete Sagaria, Esegiël en Jesaja het almal profeteer dat ’n herbore volk, Israel, hulle alleen en sonder vriende, met hul rug teen die see sal bevind. Hulle sal omring wees van vyande en sal nêrens heen kan draai nie,” het Lindsey in ’n onlangse verslag gesê. “Klink dit bekend?” wou hy weet. “Daardie dag het aangebreek.”
Terwyl die gevare feitlik daagliks toeneem, het Lindsey gemaan: “Ons het nog selde ’n nasie gesien wat tegelykertyd so baie dreigemente teen hulle bestaan moet hanteer.” Die aanval op die Israeliese ambassade in Kaïro was ’n slegte teken. Nadat hulle op Tahir-plein betoog het, het duisende Egiptenare na die Israeliese ambassade marsjeer.
“Honderde het die gebou aangeval, die konsulaat betree en kantore geplunder, lêers verwoes, die Israeliese vlag verbrand en amper die ses Israeliese veiligheidswagte, wat agtergebly het nadat die hele perso¬neel en hul gesinne na Israel afgevoer is, keelaf gesny. Lindsey is van mening dat die ommeswaai in Egipte se verhouding met Israel onmiskenbaar is. “Het ons ’n duideliker bewys nodig dat die militêre leiers in Egipte nie die wil of die moed het om teen die Moslem Broederskap op te staan en die 1979-Camp David- ooreenkoms met Israel te onderhou nie?” het hy gevra.
’n Wêreldwye politieke storm teen Israel is ook in die VN aan die opbou. Die Pa¬lestynse regering het die VN versoek om die Wesbank, Gaza en Oos-Jerusalem as deel van onafhanklike Palestina te erken, natuurlik gegrond op die grense van voor 1967. Die Algemene Vergadering word deesdae deur Arabiese en Moslem-meerderhede en hul simpatiseerders oorheers, maar ’n stem in die AV dra geen wetlike gewig tensy dit deur die Veiligheidsraad bekragtig word nie. Alhoewel Obama aangedui het dat sy administrasie hierdie besluit sal veto, hoop hy dat dit nie dié punt sal bereik nie omdat hy die Palestyne ’n staat beloof het en hy die Moslem-wêreld verseker het dat hy dit sou kon bewerkstellig. Hulle het hom geglo en gebruik nou openlik sy woorde as wapens teen hom.
Israel sal in groot gevaar wees indien die VN aan die Palestynse eise toegee. Israel sal dan op een belangrike plek slegs nege myl breed wees. Dit sal inhou dat terroriste Tel-Aviv van die heuwels van die Wesbank kan sien. Vuurpyle en missiele kan dan baie maklik op Israel afgevuur word. Israel sal verder ook die reg verloor om Samaria of Judea (Wesbank) of Oos-Jerusalem te betree om Joodse setlaars of toeriste, of enige ander toeriste by te staan, of om heilige plekke te besoek.
Hulle sal nie langer meer dié gebiede of Gaza kan betree om missiellanseerbasisse wat deur die Palestyne beman word, te vernietig nie. Dit sal dan as inval van soewereine gebied beskou word en die Palestynse bondgenote rede gee om hulle tot hulp te kom. Lindsey het ook uitgewys dat Abba Eban eens na hierdie spesifieke onverdedigbare grense as ‘Auschwitz-grense’ verwys het omdat dit so ’n groot gevaar vir Israel inhou.
Selfs Turkye, wat eens ’n vriend van Israel was, het ook teen hom gedraai. Israel se ambassadeur is uit Turkye verban en sy eie ambassadeur uit Tel Aviv teruggeroep. Turkye het ook gedreig om Turkse oorlogskepe te stuur om Israel se vlootteenwoordigheid buite die 12-myl-gebiedswaters uit te daag. Sy eerste minister, Erdogan, se uiteindelike doelwit is om Turkye te herstel tot sy status van voor die Eerste Wêreldoorlog, nl. as leier van die Islamitiese wêreld en die dominante mag in die Midde-Ooste.
Hy sien homself ook as die opkomende magspersoon van die streek – om hierdie rede is hy stadig maar seker besig om Turkye se sekulêre regering af te takel en Turkye weer as Islamitiese staat te vestig. Turkye is ook in toenemende mate besig om van die Weste te onttrek. Gesien in die lig van hierdie wêreld¬omstandighede, is die profesieë van die ou profete nader aan vervulling as wat die Weste wil toegee. +