Hoe om jou Huwelik te red

Pierre sê hy’t my nie meer lief nie,” het Julia reguit gesê. “Wanneer ek met hom probeer praat daaroor, of wil hê hy na my moet luister, sluit hy my dood-eenvoudig uit. Die naaste wat ons aan ’n gesprek gekom het, was sy verduideliking van hoeveel beter dit vir my en die kinders sal wees indien ek nie die egskeiding teenstaan nie.” Sy het stilgebly, weggekyk asof sy probeer het om die regte woorde te vind om iets te beskryf wat nie werklik kon bestaan nie, en het toe voortgegaan.
“Hy het my gevra of ek die finansiële en sosiale nadele wat in werking sou tree indien ek die saak sou teenstaan of my eie regspan sou kry, besef. Ek sou nie eers met my vriende hieroor kon praat nie of hy sou dit vir my moeilik maak. Hy het ook geskimp dat hy gaan probeer om volle toesig oor die kinders te kry indien ek nie sou doen wat hy sê nie.”

Niemand is perfek nie
“Jy mag moontlik dink ek is dwaas, maar ek is nog steeds lief vir hom; selfs al weet ek in my hart dat daar iemand anders in sy lewe is. Ek weet wie sy is. Toe ek hom vra of hy by haar betrokke is, het hy eers op my geskree, toe baie kalm geword en daarna gesê ek moet my kop laat lees.”
“Ek is bang om enigiets te doen wat hom nog meer antagonisties gaan maak. Die enigste ding wat ons huwelik nou kan red, is ’n wonderwerk. Ek bid dat God in sy hart sal werk en hom sal verander in die man wat hy voorheen was.”
Ek het geantwoord dat, sou ek in haar situasie wees, ek vir iets heel anders sou bid. Eerder as om te vra dat God hóm moet verander, moet sy eerder hulp vra om dit vir haar moontlik te maak om sekere dinge te verander.

Blameer iemand
Sy het regop geruk, my aangegluur en toe uiting aan haar pyn en frustrasie gegee. Hoe durf ek dit waag om te impliseer dat dit háár fout was! Hoe kon ek dink dat sý die een is wat moet verander! Dink ek vir een oomblik dat Pierre reg was om haar vir iemand anders te verlaat?
Ek het verduidelik dat ek haar nie vir haar man se affair blameer nie. Wat hy gedoen het, was verkeerd. Selfs al was sy nie die perfekte huweliksmaat nie (indien daar iets soos die perfekte huweliksmaat is) sal dit nie sy owerspel regverdig nie; niks wat ek gesê het, was as ’n beskuldiging teen haar gemik nie.

Bring hom tot sy sinne
Sy kon hom nie verander nie. Die enigste persoon wat sy kon verander, was haarself. Sekere veranderinge wat sy kon maak, sou hom laat verander. Die veranderinge wat ek voorgestel het, was nie om haar te blameer of te korrigeer nie – dit was bloot om hom tot sy sinne te probeer bring.
In verhoudings is dit dikwels ons emosies en aksies wat die ander persoon positief, neutraal of negatief stem. Postief: dit trek hulle na ons aan. Negatief: dit stoot hulle van ons af weg. Brand hierdie woorde in jou geheue in: positief trek aan; negatief stoot weg!

Positiewe aantrekking
“Pierre onttrek uit sy verhouding met jou en gaan voort met sy nuwe verhouding. Indien jy egter sekere veranderinge kan aanbring, mag jy moontlik positiewe reaksies teweegbring wat hom weer na jou sal aantrek. Dit mag dalk help om só daaroor na te dink: Wat maak jou aantreklik? Wat maak jou onaantreklik? Dit wat ek voorstel, mag moontlik werk, of moontlik nie. My ervaring met vele huwelike het my oortuig dat dit die beste kans is wat jy het.”
Julia het dít wat ek voorgestel het sy moes verander, gedoen. Pierre het woedend daarop gereageer en verskriklike dreigemente gemaak.

Staan vas
Ek het haar gewaarsku dat die veranderinge aanvanklik negatiewe reaksie kon ontlok en hom tydelik nog verder kon wegstoot. Ek het ook verduidelik dat, juis omdat hy so graag uit die huwelik wou loskom, hy negatief sou reageer op enig-iets wat sy sou doen wat hom sou verhoed om dit te kon doen.
Sy moes dus verwag dat sy emosionele mishandeling sou toeneem ten einde haar te forseer om sy planne te laat slaag. Toe dit wél gebeur, het sy ietwat gehuiwer, maar vas bly staan. Sy het haarself forseer om op die langtermyn uitwerking van haar pogings te fokus en geweier om toe te laat dat sy korttermynreaksies haar mismoedig stem. Sy het geweet hy mag moontlik nooit terugkom nie, maar het begryp dat die veranderinge haar beste kans en hoop was.
Moontlik die heel belangrikste: sy het verstaan wat die belangrike rol is wat die veranderinge tot haar eie persoonlike voordeel sou speel – of hy weer na haar sou terugkeer, of nie.