
Vicki Fourie is doof. Hierdie beskrywing is egter ’n boksie waarin sy nooit geklim het of ander toegelaat het om haar in te druk nie.
Sy het van kleinsaf geleer om soos iemand wat kan hoor te praat, het haar
skoolloopbaan in ’n gewone skool voltooi en selfs in die skoolkoor gesing. Haar motto’s is: “Ek weet ek kan” en “Dapperheid is nie ’n gawe nie, dit is ’n keuse”. Vicki het weens ’n koors op 6 maande, 97% van haar gehoor verloor. Vandat sy twee jaar oud is, dra sy gehoorapparate en moes leer liplees en soos ’n horende persoon praat. Op sesjarige ou-derdom is sy na ’n gewone skool vir horende kinders…
As kind met ’n gehoorverlies
Toe ek vyf jaar oud was, het ek agtergekom dat my neefs en niggies nie gehoorapparate dra nie. Ek wou by my ouma weet hoekom. Sy was slim: “Vicki, ek dra ’n bril om beter te kan sien. Jy dra gehoorapparate om beter te kan hoor.” Ek het dadelik daarmee vrede gemaak.
My familie het my ook nooit laat voel ek is anders nie. Omdat ek spontaan is, het ek maklik vriende gemaak en het wonderlike laerskoolvriende gehad, maar op hoërskool het dinge soms swaar gegaan. My ma het my voortdurend herinner dat my naam ‘victorious’ beteken en dat ek nie ’n ‘victim’ is nie, maar ’n oorwinnaar.
Ouers van ’n gehoorgestremde kind
My ouers se ingesteldheid is dat enige kind – gehoorgestremd of nie – ’n skeppingsdoel het. Vertrou God om jou kind se potensiaal aan jou te openbaar; lei hom daarin, dan sal hy selfgemotiveerd wees en die wêreld sal vir hom oopgaan. Ek is so dankbaar dat my ouers my gedruk het om in die horende wêreld te kan funksioneer.
Nuwe lewe
Albei my ouers is pastore en ek het in die kerk grootgeword, maar ek het eers ’n werklike ontmoeting met God gehad toe ek 14 jaar oud was – kort nadat ek in ’n skietongeluk was wat my lewe amper beëindig het. In pleks daarvan het dit ‘nuwe lewe’ gebring! Depressie het ook ’n tydlank ’n houvas op my lewe gehad, maar ek het geleer dit maak nie saak hoe groot die probleem is nie, maar hoe groot God is. Wanneer ek by skole praat, is my groot fokus op wedergeboorte.
’n Gesindheid van oorwinning
Elkeen sukkel met uitdagings in die lewe. Dit kan wees om te vergewe of om te aanvaar hoe jy lyk. Daardie berge is daar om oorwin te word. My gehoorgestremdheid het my nog nooit teruggehou van enige iets nie. Dit het my net meer vasberade gemaak om hoër te klim. Hierdie gesindheid moet soos ’n spier geoefen word. Aan die begin is dit glad nie maklik nie, maar dit raak al hoe makliker. Later wonder jy: Hoekom het ek ooit so aan myself getwyfel?
Praktiese uitdagings
Ek kommunikeer per e-pos, Facebook, Twitter en met SMS’e. Ek kan nog nie oor die foon praat of radio luister nie, maar met my kogleêre inplanting sal ek binnekort oproepe kan maak en na RSG luister! Ek oefen elke dag saam om te luister. My brein, wat nie gewoond is om klanke in woorde om te sit nie, moet begin leer om te luister en woorde te onderskei. My ouers lees sinne uit ’n tydskrif terwyl ek wegkyk en lúíster sonder om te lip-lees. Dit is vermoeiend, maar dit raak al hoe makliker.
By lughawens is dit soms ’n uitdaging, veral met die aankondigings oor die luidsprekers. Ek hou die TV-skerm met al die vlugtye dop en maak seker ek sit by die regte instaphek. Ek vra ook gereeld wat aangaan, net om seker te maak dat ek by is met wat aangaan. Ek vra elke dag baie vrae: ‘He who asks, is a fool for a moment; he who does not ask, remains a fool forever.’
Kerk en gehoorverlies
Ek ontmoet wonderlike mense op my reis; ds. Jan-Harm Barkhuizen van Vredenburg is een van hulle. Hy is ’n horende predikant, maar gebruik gebaretaal wanneer hy preek sodat die dowes ook deel van die diens kan wees. Dirk Venter in Pretoria het onlangs ’n TV-program, ‘Deaf Friendly’, op Kruiskyk begin, waartydens daar vir dowes getolk word. Hul tema is: Laat die dowes die Evangelie sien.
Ek het van kleinsaf geleer hoe om te ‘praise en worship’. Ek kon net nooit my oë toemaak terwyl ons sing nie, want ek moes altyd bewus wees van waar die liedjie nou trek en wat die ritme is. Vandat ek my inplanting gekry het, kan ek my oë toemaak. Dit is wonderlik!
Die regte lewensmaat
Geduld speel ’n groot rol in die wag vir die lewensmaat wat God vir my het. ’n Mens is geneig om bang te wees jy bly agter wanneer vriende almal begin trou, maar elkeen stap sy eie pad; daar is nie ’n perfekte ‘resep’ nie. Wanneer ek angstig raak en voel ek word nou te ‘oud’ en ‘gaan nooit ’n man kry nie’, haal ek diep asem. Ek vra myself af: Waar kom al daardie stemme vandaan? Beslis nie van God af nie! Ek sluit daardie gedagtes uit en fokus op wat God van my dink.
Boodskap aan gehoorgestremdes
Ons kan leer om die beste van ons situasies te maak; om jouself te bejammer gaan jou nie ver bring nie. Hou jou fokus op God: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan onderskei wat die wil van God is…” Rom 12:2.
VICKI FOURIE is ’n motiveringspreker en bespreek onderwerpe soos: Ek weet ek kan; dapperheid is nie ’n geskenk nie, dit is ’n keuse. Haar boek, ‘Viva la Vicki’ is beskikbaar by: vickifourie@yahoo.com. Drie lesers kan elk haar boek wen. E-pos andre@juig.co.za met: die naam van die boek; jou naam en van; en jou posadres.