Isak Burger Se Perspektief

Daar was ’n tyd in die geskiedenis van Israel toe die volk geestelik ’n allerlaagste punt bereik het. Só treurig het dit gegaan dat die profeet Elia gedink het dat hy alleen oorgebly het. Die Here het hom egter verseker dat daar ’n paar duisend oorblywende regverdiges is wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie.

Behou perspektief
Soos Elia kan ’n mens maklik in wanhoop en negatiwiteit verval deur te veralgemeen en die persepsie te hê dat dit nét sleg gaan – ook wat die geestelike toestand van ons nasie betref. Dit is belangrik dat ’n mens perspektief behou en nie in wanhoop verval nie.

Deur God regeer
’n Basiese verskil tussen antieke Israel en Suid-Afrika is dat die Israel van die Ou Verbond/Testament as geheel ‘Volk van die Here’ was. Hulle was ’n teokrasie (deur God regeer) en hulle geestelike leiers was vir ’n lang tydperk ook die politieke leiers – soos vandag in sommige Moslemlande. Daar was dus nie ’n onderskeid tussen die ‘kerk’ en die ‘staat’ nie. Die sosiale struktuur en kultuur van daardie era het ook meegebring dat dit geestelik met die volk goed gegaan het wanneer daar ’n goeie Godvresende koning was – en andersom. Daarom was dit moontlik en redelik maklik om ’n oordeel oor die ‘geestelike toestand van die nasie’ te fel.

Konflik tussen kerk en staat
Suid-Afrika bied ’n totaal ander scenario. Ons het ’n humanisties-sekulêre grondwet, die kerk en staat is twee aparte entiteite. Terwyl ons grondwet aan die een kant godsdiensvryheid vir almal belowe, bestaan die moontlikheid egter wel dat daar konflik tussen kerk en staat kan ontstaan, omdat ’n sekulêr-humanistiese grondwet soos ons s’n nie die Bybel as die hoogste maatstaf en riglyn van wat reg en verkeerd is, beskou nie.

Meerderheid nominale Christene
Ten spyte van die feit dat die oorgrote meerderheid van ons landsburgers nominale Christene is, is alle ander godsdiensgroepe gelykberegtig. Daarbenewens is daar ook ’n groeiende groep agnostici, ateïste asook talle ’nie-geaffilieerdes’ – mense wat hulle nie meer as lid van enige spesifieke godsdiensgroep beskou nie, alhoewel hulle hulleself steeds as ‘spiritueel’ en nie as ateïsties beskou nie. In ’n sekere mate sou mens hulle as New Age- mense kon beskou.

Diagnose nie goed nie
Wanneer ’n mens dan van die ‘geestelike toestand van ons nasie’ praat, moet jy duidelik onderskei tussen ’nasie/land’, (dus alle Suid-Afrikaners) en die Kerk. Alhoewel ons land ’n sterk Christelike tradisie het en daar eweneens ’n sterk Christelike teenwoordigheid is, is die diagnose van die geestelike (en ‘morele’) stand van ons nasie nie goed nie.
Terwyl baie ander lande ’n geringer Christelike teenwoordigheid as Suid-Afrika het, is feitlik elke denkbare sosiale euwel by ons in ’n oortreffende trap aanwesig – dink maar aan kwessies soos korrupsie, verslawing, moord, geweldsmisdaad, verkragting, ens. Dit is een van die grootste verleenthede en aantygings teen die Kerk, gegewe dat meer as driekwart Suid-Afrika-ners ’n Christelike affiliasie bely.

Beskaafd nie noodwendig Christelik nie
’n Mens sou verwag dat ’n land (en kontinent) met so ’n sterk Christelike inslag en teenwoordigheid meer ‘beskaafd’ sal wees. Alhoewel ek graag ‘beskaafdheid’ en ‘Christelikheid’ in direkte verband met mekaar sou wou bring, blyk dit nie noodwendig die geval te wees nie. Dink byvoorbeeld aan Japan wat ’n baie klein persentasie Christene het en tog hoogs beskaafd is en waar sosiale euwels soos hier by ons, kwalik voorkom.
Ek besef dat daar ook ander faktore ter sprake is, maar die feit is egter dat ons land, met soveel natuurlike skoonheid en so ryk bedeeld met natuurlike rykdomme en mense-potensiaal, nie vertoon soos een waar die lig van die Evangelie helder deurgedring het en die ‘sout’ van ons le-wens en getuienis die gewenste uitwerking het nie.

Ernstig siek in siel en wese
Ek wil daarteen waak om nie deur die baie negatiewe aspekte in ons land meegevoer te word nie. Natuurlik is daar wonderlike mense en wonderlike inisiatiewe en geleenthede. Ek kan egter nie anders as om te voel dat ons land, ons nasie, in sy siel en wese ernstig siek is nie. Materialisme, korrupsie, immoraliteit, wanfunksionerende gesinne, noem maar op, het weinig Suid-Afrikaners verbygegaan. Ja, Suid-Afrika is in vele opsigte ’n ‘siek’ land.

Waar is die lig?
Wanneer daar egter oor die geestelike toestand van ons nasie gevra word, is dit be-langriker om by die Kerk uit te kom. Die Kerk is immers die liggaam van Christus, God se instrument, om die wêreld te seën en te beïnvloed met die boodskap van Sy koninkryk, om ‘siek’ mense en ‘siek’ gemeenskappe aan te raak en te genees. Daar is al gesê dat donkerte slegs gedefinieer kan word as ‘die afwesigheid van lig’. As dit dan ‘donker’ in ons samelewing is, kan daar met reg vrae aan die Kerk gevra word, aan ons as Christengelowiges – die lig van die wêreld.
Jesus se woorde aan Sy volgelinge was nog nooit meer van toepassing nie: “Julle is die sout vir die aarde… Julle is die lig vir die wêreld…” (Matt 5:13-14). Is God se probleem met Suid-Afrika regtig die ongelowige, geestelik-dooie menigtes, of is dit die vele Christene wat nie ’n ware Jesus-gelykvormige, Heilige Gees-beheerde koninkrykslewe lei nie?

Beskaafd maar ongered
Wanneer ons praat van die ‘Kerk’, moet ons natuurlik onthou dat ’n groot deel van diegene wat hulleself in ’n sensus as ‘Christene’ sal identifiseer, nog nooit tot bekering gekom het nie en dus eintlik net in naam ’n Christen is. Sulke mense is nog geestelik ‘dood’ (Kol 2:13) en daar kan beswaarlik iets meer oor hulle geestelike toestand gesê word. Sulke mense mag (soos totale ongelowige buitestanders en selfs godloënaars) goeie mense wees, beskaafd, met selfs hoë morele waardes, maar om ’n goeie mens te wees, beteken nog nie jy is ’n kind van God nie.

Waarlike kinders van God
Indien ongelowiges, asook ongeredde, nominale Christene se geestelike toestand eintlik net as ‘dood’ beskryf kan word, skuif die fokus dus na diegene wat waarlik gelowiges, kinders van die Here is. Dit is hulle waarvan Joh 1:12 praat: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.” Dit is mense wat Jesus as hulle Verlosser aanvaar het en glo dat Hy alles reeds aan die Kruis volbring het sodat ons hier vir Hom kan lewe en hierna vir altyd by Hom kan wees.
Hierdie ‘ware’ Kerk van die Here is versprei oor alle denominasies wat Jesus as die verrese Seun van God bely. En nie net in denominasies nie – een van die interessante verskynsels van ons tyd is die talle onverbonde gemeentes (groot en klein) wat in groot getalle oral in ons land ontstaan. Hieronder tel ek ook die groot getal huisgemeentes.

Kommerwekkende tendense
Ek dink egter dit is haas onmoontlik om ’n enkele geldende uitspraak oor die geestelike toestand van die Kerk in die algemeen te maak. Ja, daar is sekerlik tendense wat kommerwekkend is. ’n Mens verwag byvoorbeeld dat ware kinders van die Here goeie en beskaafde mense met hoë morele waardes sal wees, maar dit is ongelukkig nie altyd die geval nie.
Die wêreldgesindheid waarteen Jak 4:4 waarsku, het beslis ook baie gelowiges se oorgawe en toewyding aan die Here geaffekteer. Paulus sê immers dat mense in die laaste dae ‘meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God’ sal wees (2 Tim 3:4). Wêreldgesindheid was nog altyd ’n groter vyand van die Kerk as vervolging. So onaangenaam en onwelkom as wat vervolging van die Kerk nog altyd was, het dit as ’n reël ’n heilsame en heiligende effek tot gevolg gehad.

Groei van gemeentes
’n Tendens wat in die meer Westers-georiënteerde segment van die kerk voorkom, is dat die groei van sommige gemeentes grotendeels nie deur nuwe bekerings geskied nie, maar wel uit die migrasie van lidmate. Die meeste groeiende gemeentes sal erken dat hulle groei nie soseer koninkryksgroei is nie, maar ten koste van ander gemeentes. Hierdie groei is gewoonlik aan persoonlikhede gekoppel, iets wat nie altyd op die lange duur volhoubaar is nie.

Ware dissipelskap ’n behoefte
In ons arm, agtergeblewe gemeenskappe, vind ons vrugbare grond vir die Evangelie. Groot getalle mense reageer op die uitnodigings van evangeliste. Daar is egter twee groot struikelblokke. Die een is die sterk houvas van die animisties-kulturele agtergrond waaruit hierdie mense kom. Heelwat van die groot onafhanklike kerke wat in hulle geledere ontstaan het, het ook ’n sterk sinkretistiese geloof [vermenging van verskillende godsdienstige en sektariese opvattings] en praktyk. Geloof in die rol van voorvadergeeste asook ander praktyke wat daarmee verband hou, is dikwels aanwesig.
’n Algemene tekortkoming wat hier, en eintlik ook in die breë Kerk voorkom, is ware dissipelskap. Soos dikwels die geval is tydens evangelisasie-veldtogte oral in Afrika, kom mense herhaaldelik tot bekering, maar groei nie tot geestelike volwassenheid nie. Daarom is daar so ’n vatbaarheid vir vreemde en onBybelse leringe en praktyke.

Ons benodig Sy Gees
Te midde van alles moet ons egter nie die wonderlike tekens miskyk dat die lig van Sy koninkryk telkens deurbreek nie. Voorbeelde is legio. Terwyl die vuur van God in die Kerk in Suid-Afrika ver van geblus is, het ons onteenseglik behoefte, nee, ’n nood daaraan, dat die wind van God se Gees soewerein en eg oor ons waai. Sy vlam moet warmer en hoër brand!

Dr. Isak BURGER: President van die AGS van SA. Kontak hom afmgs@mweb.co.za of besoek www.afm-ags.org