Jolige Gesinsaktiwiteite Vir Die Vakansie

Kan jy glo dat dit al weer daardie tyd van die jaar is? Die dae is langer, die weer is warmer, glimlagte breër en die lewe net beter. Dit is ‘n waardevolle seisoen om kwaliteittyd saam met die gesin deur te bring, en om prettige nuwe aktiwiteite te ontdek wat almal kan geniet! Of jy nou in ʼn branderplankmekka soos Durban woon, of die skoonheid van die berge en wynplase in Kaapstad kan geniet, of jou tuis voel in ʼn middestaduithangplek soos Johannesburg, sal jy in die volgende paar bladsye beslis ʼn paar goeie voorstelle teëkom om by jou om-te-doen-lysie vir die vakansie te voeg.
Avonture
Stranddag
As jy naby die see woon, is dit altyd ‘n heerlike gesinsavontuur om strand toe te gaan. Pak jou sonskerm en strandrakette en -balle in, trek daardie geliefde baaikostuum aan, en bring die dag in die son deur en baljaar in die water saam met jou gesin. Jy gaan nie net ‘n pragtige sonbruin lyf kry nie, maar julle skep ook herinneringe vir die hele gesin!
Piekniek
Dit was nog altyd een van my gunstelingdinge om te doen! Pak ‘n mandjie propvol eetgoed, lekkernye, en snoepgoed, grawe die ou piekniekkombers uit, en geniet die natuur en die buitelug. Dit is ‘n heerlike gesinsaktiwiteit by ‘n pragtige piekniekplek in ʼn park of reservaat; of sommer in die tuin by die huis.
Vat die langpad
Dit is altyd lekker om saam die langpad te vat. Tydens die lang rit kan julle ononderbroke gesels en tyd saam bestee. Die aktiwiteit is nie die eindbestemming nie, maar die reis. Geniet speletjies soos algemene kennis vasvrae, motorkrieket en “Ek sien iets met my kleine ogies…”
Besoek ʼn mark
Dit kan ‘n wonderlike avontuur vir die gesin wees, want daar is iets vir almal. Markte het gewoonlik speelplek vir die kinders, lewendige musiek vir die tieners, en ‘n ontspanne omgewing vir die volwassenes om terug te sit en heerlike buitengewone disse te beproef.
Kampeer
As julle gesin lief is vir die buitelug, kan julle gaan kamp vir ʼn avontuur, wat heerlike herinneringe sal skep! Pak die kamptoerusting, ry na ‘n pragtige kampterrein en geniet ‘n paar dae in die natuur en om eenvoudig te lewe!
Pretpark
As jy naby ‘n pretpark, soos Gold Reef City in Johannesburg, of Ratanga Junction in Kaapstad woon, kan julle ‘n jolige dag van pret en plesier saam geniet. Dit is nog ‘n aktiwiteit wat groot pret is vir die hele gesin, en jy kan ‘n paar goeie foto’s neem om te laat raam.
Lees die res van die artikel in die JUIG! Desember-uitgawe.