Ons sit almal hiermee opgeskeep…Ek praat van stereotipes. Stereotipes is onjuiste, oorvereenvoudigde idees oor ander mense. Party mans huldig byvoorbeeld die stereotipe opvatting vrouens praat meer as hulle, of vrouens is swakker motorbestuurders as mans.
Baie volwassenes glo die jeug van vandag is buite beheer. Soortgelyk maak allerlei stereotipes rondom ras en statusverskille ook gedurig nes in ons kop. As ons dit nie hokslaan nie, verander dit uiteindelik in agterdog, vrees en haat.
Skokkende statistiek oor onderlinge vertroue
Van die uitwerking van stereotipes gepraat – dit lyk nie of Suid-Afrikaners se geloof enige verandering teweeg bring oor daardie diepgewortelde stereotipes oor mekaar nie.
’n Navorsingstudie deur Ipsos se Global Advisory in 2010 het bevind, slegs 52% Suid-Afrikaners vertrou hulle direkte gesinslede, terwyl net 12% ander mense buite hulle familie vertrou. In ’n 2014-studie van die Gauteng City-Region Observatory (GCRO) wat die Universiteit van die Witwatersrand; die Universiteit van Johannesburg; en die Suid-Afrikaanse
Local Government Association onder 25 000 mense onderneem het, is daar bevind dat rasseverhoudings jaar na jaar verswak.
In 2009 het 68% swart mense gesê hulle kan wit mense glad nie vertrou nie, maar teen 2013 dit het tot 73% gestyg. In dieselfde tydperk het wit mense se vertroue in swart mense darem ietwat toegeneem, van 40% tot 44%. Gegewe die feit dat meer as 70% mense in Suid-Afrika hulleself as Christene beskou, is dit skokkende statistiek.
Wat beteken “moet op prinse nie vertrou nie”?
Ons samelewing is deurtrek van die wantrouevirus. Almal is deesdae agterdogtig. Dalk sal jy self ook ’n handvol goeie redes kon opnoem hoekom dit die geval is – misdaad, korrupsie, die politiek. Dalk sal jy jou selfs op ’n Bybelteks soos Jeremia 17:5 of Johannes 2:24 kon beroep, of op Psalm 33 of Psalm 146 – dat ons nie op mense moet vertrou nie.
Kom ons sê sommer vanuit die staanspoor wanneer die Bybel ons beveel om nie op prinse te vertrou nie, moet ons weet sulke tekste niks te make het met daardie diepgewortelde wantroue teen-oor mekaar wat tans soos ’n veldbrand versprei nie.
Wanneer die Bybel sê ons moenie ons hoop op die magtiges en die sterkes plaas nie, word dit meestal in reddingskontekste gebruik. Of sulke uitsprake word in
kontekste gebruik waar ’n misplaaste vertroue in die krag en vermoëns van ander indiwidue hulle tot sogenaamde messiaanse figure verhef. Die Bybel verbied ons om ander mense in plaas van God, as ons redders te beskou. Net God is ons Redder, geen mens nie!
Lees die res van die artikel in JUIG! Desember-uitawe