
Ons word in hierdie 21ste eeu oorspoel deur liberale denke wat toenemend as die norm voorgehou word. Kwessies soos aborsie, alternatiewe seksuele oriëntasies, ewolusie, ens. word toenemend as algemeen aanvaarbaar voorgestel. Die samelewing word al hoe meer sekulêr-liberaal, met humanisme as die standaard. Die Bybel word net as ’n voorstel en mening beskou en word ondergeskik aan menseregte gestel.
Liberalisme klink goed, maar is verwronge
Die toonaangewende Human Rights Associ-ation of America se leuse spel dit uit: “Good without God.” Duidelik is dit anti-Christelik, oftewel in opposisie teen God en Christenskap. Liberale denke is die dryfveer agter sekulêre humanisme. David Boaz het geskryf: “Libertarianism is the view that each person has the right to live his life in any way he chooses so long as he respects the equal rights of others.” Dit klink ‘goed’, maar wat dit impliseer, is dat die mensdom sy eie god is. Hierdie ‘vryheid’ is mensgesentreerd, terwyl God se vryheid Jesus Christus gesentreer is.
Die vrug van ’n vervalle samelewing
Paradoksaal van ons tyd is hoe liberaler mense word, hoe meer ingehok voel hulle, en dring hulle spoedig aan op groter vryheid (rebellie). Soos enige pornografie-verslaafde en dagga-verslaafde onder andere kan getuig, behels meer vryheid groter gebondenheid.
Die vryheid wat die wêreld bied, is ’n leuen. Tog bepaal dít die aanvaarbare norme in die samelewing. As ons as Christene dit bevraag-teken, word ons summier uitgekryt as ‘haters’ en ‘diskrimineerders’. Politieke korrektheid word met gietyster-regsinnigheid uitgevoer en alle weerstand word met mag en mening uit die pad gevee. Dít is die vrug van ’n vervalle samelewing. Hoe is dit byvoorbeeld moontlik dat kinders op skool soos matrose mag vloek en niemand gee om nie, maar as daar gebid word, is daar ’n groot teenreaksie?
Lees die res van die artikel in die Oktober-uitgawe van JUIG! (2016)