Hardus Zevenster is die hoof-uitvoerende beampte van Radio Tygerberg. Onder sy charisma-tiese leiding het dit tot die grootste Christelike radiostasie in Suid-Afrika gegroei. Ons wou meer uitvind oor hierdie dinamiese en uitgesproke leidsman.
Hardus, jy het ’n dramatiese getuienis, kan jy ons daarvan vertel?
Ek het in ’n pastorie grootgeword en op ’n jong ouderdom my hart aan Jesus gegee. Ná universiteit het ek my hart verhard en my rug op die Kerk gekeer.
Ek het roekeloos begin leef en my nie veel aan God en Sy liefde gesteur nie. Ek het toe begin om aan rubberbootresiese in die Kaap deel te neem. Gedurende Augustus 2004 het ek en my vriend ’n stormagtige see by Struisbaai aangedurf. Die deinings was tot 6 m hoog. Omtrent 4 km die see in het ’n reusegolf ons van die boot afge-slinger. Die ‘kill switch’ was nie gekoppel nie en die boot het sonder ons weggery.
Op daardie oomblik het ek geweet dit is die Here wat my agter die nek vat en wakker skud. Die situasie was benard! Die NSRI kon nie in die rowwe see na ons kom soek nie. Ná bykans drie uur in die water het ’n vistreiler ons opgepik.
Ek het intens bewus geword van die Here se liefde en geduld met my. Ek het my lewe radikaal verander en weer in ’n verhouding met Hom begin leef. Wanneer Jesus sê: “Ek sal jou nooit los of verlaat nie,” bedoel Hy dit. My lewe was hierna nooit weer dieselfde nie. Nie net is ek geestelik herstel nie, die Here het ook Sy roeping in my lewe bevestig en my die wonderlike vrou gegee wat vandag aan my sy staan – ek praat nie eers van ons twee wonderlike kinders nie!
Hoe het jy ‘geweet’ dit was God wat jou vir die bediening roep?
Die Here praat op verskillende maniere met verskillende mense. Hy het my reeds op universiteit geroep; ek het toe nie vir die bediening kans gesien nie.
Die wete dat God my vir Sy diens roep, het egter nooit weggegaan nie. Die oggend ná die bootinsident het ek lank met die Here gepraat. Ek was weer oortuig dat Hy my roep. Ek het Hom om ’n teken gevra. My boot was weg, en kon nie gevind word nie. Ek het gevra dat die Here as ’n teken, my boot vir my moes teruggee.
Die volgende dag het ek het ’n oproep gekry – my boot is 128 km verder op Jakkalsfontein gevind, ’n rotsagtige plek. Die boer wat die boot gekry het, het gesien hoe ’n groot brander die boot oplig en bo-op die rotse ‘neersit’ sonder dat daar ’n skrapie op die romp was. Toe ek dit sien, het ek bang geword en besef, God laat nie met Hom speel nie.
Die insident was op die voorblad van Die Burger, ek kon dit nie ignoreer nie. Die Here het my geantwoord. Hard en duidelik!
Jy kom van ’n suksesvolle sake-agtergrond voordat jy
Radio Tygerberg oorgeneem het. Vertel ons so ’n bietjie meer?
In die sakewêreld het ek sukses, sowel as terugslae beleef. Ek glo die Here was besig om my karakter te vorm en gereed te maak vir die taak wat sou voorlê. Toe ek genader is om by Radio Tygerberg oor te neem, het dit uitermate goed gegaan met die twee besighede waarby ek in daardie stadium betrokke was.
Met die uitnodiging om Radio Tygerberg te bestuur het ek geweet dit is presies wat die Here vir my in gedagte gehad het en dat Hy my toets oor die keuse wat ek sou maak. Ek het nog nie een oomblik getwyfel dat ek die regte besluit geneem het nie.
Hoe lank is jy nou al aan die stuur van Radio Tygerberg? Vertel ons van die stasie se geskiedenis.
Ek is reeds sewe jaar aan die stuur van sake. Die radiostasie is in 1993 gestig toe my pa ’n visie gehad het om alle mense in die Wes-Kaap met die Evangelie te bereik. Na jare se aansoeke het hy oornag gehoor dat hy mag uitsaai. Hulle het daar vanuit die kerk se Sondagskool-kamers begin uitsaai. Die stasie was uiters gewild in die gemeenskap en het van krag tot krag gegaan.
Ná my pa afgetree het, is ek die pos aangebied. Ek kon die sake-aspek van die radiostasie verder ontwikkel met ’n dinamiese span wat passievol oor Jesus is. Radio Tygerberg het al verskeie toekennings ontvang, waarvan die ‘Stasie van die Jaar’ by die MTN Radio Toekennings in 2012, ’n hoogtepunt was. Vir ons bly dié hoogtepunt egter om te sien hoe mense se le-wens aangeraak word en hoe ons projekte en programme prakties op gemeenskappe inwerk en deur die liefde van Jesus veran-dering te weeg bring.
Hoe kan Christene en kerke die kultuur bereik sonder om liberaal en ‘sag’ oor kwessies te raak?
Dit is baie eenvoudig. Leef Jesus, en die waardes waarvoor Hy gesterf het, prakties uit. Mense kom baie gou agter wanneer dít waaroor ons as Christene praat, nie eg is nie. Die ‘kultuur’ waarvan ons praat, is moeg vir ‘voorgee-Christenskap’. Kom ons los ons eie agendas en leef die agenda van Jesus uit.
Die mense wat Jesus uitgenooi het, sal in baie kerke heel moontlik nie welkom wees nie. Hy het hulle met liefde bedien sonder om ooit ’n kompromis aan te gaan. Sy opregtheid het mense egter bly trek. Dit is waarna mense vandag steeds opsoek is – opregte Christene sonder enige bymotiewe of agendas.
Jy is ’n uitgesproke en vasberade leier. Wat is jou mening oor die toekoms van ons land?
Hieroor is ek baie passievol. Ek glo met my hele hart dat die Here ons met ’n doel hier in Afrika bymekaar gebring het. Hoewel daar baie uitdagings is, is dít juis wat my motiveer. Uitdagings bring groot geleent-hede mee.
Ek dink Suid-Afrika was nog nooit so gereed vir goeie leierskap en entrepreneurskap soos nou nie; nog nooit so ryp om die ware liefde en genade van Jesus te beleef nie. Ek glo die Here het groot planne vir Suid-Afrika en dat Christene ’n groot rol te speel het in die positiewe ontwikkeling van ons gemeenskappe en die res van Afrika.
Jy is onlangs deur die radiostasie, ‘Rippel’ in Pretoria genader om die bestuur oor te neem. Wat is jou visie vir hierdie stasie?
Ons vertrou die Here reeds lank dat Hy ons grondgebied moet vergroot. Hy bly ons altyd verras met die manier waarop Hy dit doen. Ons het ’n geleentheid gesien om iets uniek vir Pretoria te ontwikkel.
Daar is ’n geweldige behoefte aan ’n goeie Afrikaanse radiostasie wat tot die hart en siel van die Afrikaners kan spreek, en op diep Christelike waardes gebou is.
Ons gaan ook prakties in die gemeenskap betrokke wees met projekte wat die Afrikaanssprekende gemeenskap na aan die hart lê. Die naam van die radiostasie is GROOTfm 90.5 en dit gaan inspireer, inlig en vermaak met net die beste Afrikaanse en internasionale musiek. Natuurlik gebeur dit alles in die taal waarvoor ons lief is.
Baie Afrikaanse mense voel gemarginaliseer en dat die Afrikaanse identiteit en kultuur aan die verswak is. Wat is jou mening hieromtrent?
Dat Afrikaners gemarginaliseer voel, is ’n werklikheid. Dat dit die kultuur verswak, is egter ’n mite. Daar is ’n reuse-‘Renaissance’ onder Afrikaners, met veral musiek en die kunste wat floreer.
In Suid-Afrika word daar meer Afrikaanse musiek verkoop as van internasionale kunstenaars. Ons het dit ook beleef toe ons Gospel Skouspel begin het. Dit is ’n Afrikaanse produksie met plaaslike kunstenaars en een uitsluitlike doel – om die naam van Jesus te verheerlik.
Daar is met elke vertoning meer as 10 000 kaartjies verkoop en nog meer DVD’s en CD’s – ’n verdere bewys dat mense die Here in die taal waarvoor hulle lief is, wil dien en loof. Die geskiedenis het al bewys – probeer ’n kultuur of nasie marginaliseer en dit het net mooi die teenoorgestelde uitwerking.
Wat is jou boodskap aan Christene wat voel dat dit moeilik is om standpunt vir Goddelike waardes in te neem?
As ons dink dat dit vandag moeilik is, dink net aan Paulus; hy was in die tronk, gemartel en doodgemaak vir sy geloof. Wanneer ons tyd maak om stil te gaan sit en dink oor hoe onbegryplik groot die liefde en genade van God is, dan is geen prys te duur om te betaal nie. Om dan standpunt vir Goddelike waardes in te neem, is die maklikste ding in die wêreld. Ek roep saam met Paulus uit: “Ek skaam my nie vir die Evangelie van Christus nie, want dit bly die krag van God tot redding van elkeen wat glo”.
Cheryl, vertel ons van jouself.
Ek het in die Noordelike voorstede van die Wes-Kaap grootgeword en ná skool 20 jaar in die beleggingsindus-trie gewerk. Op 7-jarige ouderdom het ek my hart vir die Here gegee en is op 13-jarige ouderdom gedoop, maar het in my laat twintigs van die reguit pad begin afdwaal. Ongeveer twee jaar voordat ek vir Hardus ontmoet het, het God my weer na Hom toe teruggebring.
Hoe het jy geweet dat hy die man is wat God vir jou het?
Hardus was my buurman in die kompleks waar ek gewoon het. In daardie stadium was ek van vooraf smoorverlief op Jesus, en het gebid vir ’n man wat ’n hart van oorgawe vir God het en Hom net so lief soos ek het. Min het ek geweet dat daardie einste man langs my bly.
Twee jaar later was ek mev. Zevenster en drie maande daarna was ek swanger met ons eerste kind – op 39! Hardus het al die eienskappe gehad waarvoor ek gebid het.
Julle is nou ses jaar getroud. Wat is die geheim om julle huwelik te laat werk?
Om eerlik te wees, aan die begin was dit nie maklik nie. Ons het altwee baie sterk persoonlikhede en ons was ook gewoond daaraan om dinge op ons eie manier te doen. Deur doeltreffende kommunikasie, wedersydse respek, en saambid, kon ons die klippe uit die pad rol.
Hardus is baie besig en moet dikwels reis. Hoe hanteer jy dit om so baie alleen te wees?
God het Hardus geroep om deur media in die bediening te wees, en die dag toe ek die ja-woord gegee het, het ek geweet dat my lewe nie heeltemal ‘normaal’ gaan wees nie. Dit verg baie opoffering en dit is verseker nie maklik nie. Ek het uit die staanspoor besluit om terug te staan en te aanvaar dat God deur Hardus besig is met ’n groot werk. Goeie ondersteuning tuis, familie, en vriende, staan my by wanneer ek alleen tuis is.
Tydens Hardus se onlangse hartaanval het ek besef hoe belangrik hierdie ondersteuning is. God het hom wonderbaarlik herstel en ons is met geweldig baie ondersteuning en gebed deurgedra.
Watter advies het jy vir vrouens wat tuisbly om na hulle kinders te kyk, en mag voel hulle is nie in voeling met wat hulle mans doen nie.
Hardus is by heelwat projekte betrokke en ons kry nie altyd tyd om oor die opwindende aspekte daarvan te gesels nie. As iemand wat die grootste deel van my lewe ’n beroep gehad het, mis ek wel die sake-gedeelte daarvan.
Wanneer ons wel as ’n gesin saam is, is elke oomblik vir ons kosbaar. Ons kuier dan saam by die huis, ons gaan op uitstappies of ontsnap vir ’n naweek weg van die gejaagheid van die stad.
Ek en Hardus maak gereeld vir mekaar tyd met ‘date’-aande en kan ure gesels en opvang. Dit is die lekkerste deel en dan besef ek van vooraf waarom ek lief vir my man is en dat ek hom sonder huiwering sal ondersteun in hierdie ongelooflike reis saam.