Vergewe My Suid-Afrika: Onderhoud Met Bakkies Botha

‘n Sokkerspeler kry sy opponent terug deur hom aan die sokkerhemp af te trek. ‘n Tenniskampioen kry ‘n woede-aanval op die tennisbaan en dit kos haar die groot titel. ‘n Rugbyster stamp ‘n opponent met die kop en ewe skielik oorskadu dit sy loopbaan en talent en word as skandvlek vir die spel beskou. Aggressie en adrenalien is basiese komponente van die menslike instink waarsonder geen atleet sukses behaal nie. Maar as dit onbesonne of onbeheersd is, kan dit die talentvolste mededinger ondermyn. Wanneer atlete dit ‘verloor’, wonder aanhangers tereg: “Wat het hy dan gedink?”

John Philip ‘Bakkies’ Botha is ‘n baie bekende en geliefde Suid-Afrikaanse rugbyslot. Hy het tot dusver ‘n sterloopbaan geniet met vele professionele hoogtepunte. Ook ‘n paar laagtepunte: sy kontroversiële maalskrumspel in April 2009 (toe die SA-span uit protes armbande gedra het) en die veelbesproke kopstamp-episode in Julie tydens die drienasie-wedstryd teen Nieu-Seeland. Bakkies is bekend as ‘n toegewyde Christen; dus was die hele land geskok toe hy die Nieu-Seelandse skrumskakel, Jimmy Cowan, in die eerste minuut van die wedstryd met die kop gestamp het. JUIG! het eksklusief met hom gesels om vas te stel wat die oorsaak van sy aggressie was en of hy voel dat ander hom vergewe het deur op nasionale TV om vergifnis te vra. (Met trane in die oë het Bakkies op Supersport die Maandagaand na die wedstryd om versko¬ning gevra en ook die Nieu-Seelandse span, Jimmy Cowan en sy aanhangers gevra om hom te vergewe).

WAARMEE HET JY JOU BESIG GEHOU GEDURENDE DIE 9 WEKE WAT JY VERBIED IS OM RUGBY TE SPEEL?
Ek het tyd saam met my familie spandeer en ook vir berading by verskeie geestelike leiers, soos Nevil Norden, Mario Steyn en At Boshoff, gegaan. Ek sou nooit sonder my geloof kon oorleef nie. God se liefde en my vrou ¬Carien, het my in die tyd gehelp. Sy het vir my gebid en my ook bemoedig. Sy is altyd eerlik en ondersteunend. As ek val, help Carien my, en vice versa.

WAT PLA JOU DIE MEESTE VAN DIE KOPSTAMP-EPISODE?
Die feit dat ek so baie mense teleurgestel het, maar ook my Skepper gefaal het.

PIETER DE VILLIERS, FRANS LUDEKE EN JOU BLOU BUL-SPANMAATS ON-DER¬STEUN JOU GROOTLIKS. WAT BETEKEN DIT VIR JOU?
‘Coach’ Pieter is ‘n opregte persoon en ‘Coach’ Frans se vriendskap en omgee beteken vir my sommer baie. Vorige afrig¬ters het my almal geskakel en bemoe¬dig. Die gebede van my spanmaats het my laat besef hoe gelukkig ek is om deur súlke mense en vriende soos André Venter (voormalige Springbok) omring te wees.

WAT WAS DIE ALGEMENE REAKSIE TEENOOR JOU SEDERT JY VERSKO-NING GEVRA HET?
Ek sal altyd my Christen-beginsels handhaaf, soos wat ek op TV en Radio Kansel gedoen het. ‘n Deel van die proses was om God om vergifnis te vra. Dit het ek onmiddellik in my hotelkamer na die wedstryd gedoen. Later ook alle betrokke partye. God is genadig en ons het net nodig om Hom een keer vir iets om vergifnis te vra.

Ongelukkig aanvaar sommige mense dit nie só nie en verwag van jou om aanhoudend om verskoning te vra. Ek gee toe dat ek van die begin af verkeerd was – ek het geensins probeer om my optrede te regverdig nie. As ek nóú die horlosie kon terugdraai, sou ek – maar ek kan nie. Ek moet nou kies om die hele episode op ‘n positiewe manier te gebruik en om jonger spelers te help om nie in dieselfde slaggat as ek te trap nie. Ek kies om ander te help.

DIE PUBLIEK WEET DAT JY ALTYD DIE MAN IS WAT VOOR EN NA ‘N WEDSTRYD VOORGAAN IN GEBED. CHRISTEN-ONDERSTEUNERS SIEN JOU AS EEN VAN DIE BESTE SLOTTE IN DIE WÊRELD EN OOK AS VERTEENWOORDIGER VAN CHRISTUS OP DIE VELD. WIL JY OP DIE STADIUM ENIGIETS AAN HULLE SÊ?
Solank as wat ek rugby speel, sal ek op die veld bid. Ek is ‘n Christen en ek maak foute. Van Moses, Dawid tot Paulus – almal het op een of ander stadium foute gemaak. Dit is hoe jy jou fout(e) hanteer, wat die verskil maak. As Christene behoort ons mekaar te help om sodoende meer siele vir Sy Koninkryk te wen. Ek wil mense vertel hoe groot God se genade is. As iemand soos Bakkies Botha vir Hom goed genoeg is; dan is almal vir Hom goed genoeg!

WANNEER HET JESUS JOU VERLOSSER GEWORD?
Ek het in ‘n Christen-huis grootgeword en nog altyd in Hom geglo. In 2003 is ek weergebore en het besef dat ek as kind van die Lig behoort te leef. En dit is hoekom ek so verpletter is deur hierdie insident – ek het toegelaat dat die vlees oor¬neem. Die Heilige Gees het my oortuig van die verkeerdheid daarvan en ek was letterlik siek langs die veld omdat ek so teleurgesteld in myself was. Almal wou weet wat ek gedink het toe ek Jimmy gestamp het. Niks! Ek het bloot nie gedink nie! Het ek maar gedink! Het ek iets geleer? Ja – wag altyd 5 minute voordat jy reageer. Rugby is fisies en almal wat self al gespeel het, besef dit.

TER AFSLUITING, CARIEN, WIE IS BAKKIES VAN DIE VELD AF?
Ek kon nie vir ‘n beter man gevra het nie. Hy het ons lief en sal enigiets vir ons doen. Ek is bevoorreg om met hom getroud te wees. Ek sê altyd: ek is met die man, nie met die rugbyspeler nie, getroud. As hy nie speel nie, is hy koel en kalm en 100% toegewyd. Ek is trots op hom dat hy gekies het om in die openbaar vergifnis te vra. Hy het daarna opgetree soos wat God verwag het hy moes.

LAASTE GEDAGTES
As dinge warm raak, doen ons almal goed wat seermaak of disrespekvol is en waaroor ons jammer is. Laat ons dus, as broers en susters in Christus, vir Bakkies bid. Volwassenheid word gekenmerk deur die manier waarop ons insidente hanteer. Ons glo dus Bakkies sal groei in wysheid en geduld en dat sy sportloopbaan van krag tot krag sal gaan.