
Ek deel my getuienis omdat God my ’n opdrag gegee het om ander teen huweliksontrou in daad óf gedagte te waarsku.
Selnommer op ’n flenter papier
Die meisie agter die teller by die kusdorpwinkeltjie was beeldskoon. Ek het my plaas pas teen ’n goeie wins verkoop en die toekoms het blink gelyk. Die laaste paar jaar was finansieel moeilik, maar nou het dinge beter gelyk. Ek was op pad terug plaas toe en my vrou en kinders steeds met vakansie. Op die ingewing van die oomblik vra ek die mooi meisie haar selnommer, en sy gee dit! Vieruur die middag wag ek vir haar by ’n chalet wat ek vir ons in die karavaanpark bespreek het. Sy het nooit opgedaag nie.
Teleurgesteld in myself
Teen sesuur was ek op pad plaas toe. Ek het skuldig en teleurgesteld in myself gevoel. My sel het gelui. Dit was my vrou wat wou hoor of ek al tuis is. “Nee, vreeslike verkeer,” het ek gelieg.
Nóóit weer nie
Ek was met ’n fantastiese vrou getroud. Sy was my alles! ’n Maand ná die voorval het ons vir ons vyftiende huweliksherdenking in ’n hotel oornag. In my binneste het ek gebid: “Dankie Here dat my ‘beoogde’ ontrouheid op niks uitgeloop het nie. Nóóit weer nie!”
Vrou van my lewe
Die middag daarna, op pad huis toe, vra ek my vrou om alles in my ou beursie oor te pak in die nuwe een wat sy my vir ons trou-dagherdenking gegee het. Die heel eerste nota wat sy uithaal, is die karavaanparkkwitansie. Ons was albei in ’n toestand van skok! Ek wou van skaamte by die motor uitspring… Ses maande later is ek en ‘die vrou van my lewe’ geskei.
Is dit die reuseverlies werd?
Was die ontrouheid, selfs net ‘ontroue gedagtes’, hierdie reuseverlies werd? Ek was lief vir my vrou, ek kon nie aanbeweeg nie. Ek het gevas en gebid dat God asseblief my worsteling moet sien en antwoorde moet gee.
Ego groter as jou geloof
Ek het ’n duidelike opdrag van God gekry: “Sê vir die manne van Suid-Afrika, as enig-iemand ontrou is, selfs net in sy gedagtes, moet hy dit staak. Dit is van die satan!” Satan weet wanneer jou ego groter as jou geloof is.
As jy satan se aanloklike aanbod aanvaar, is jy op die pad wat jou gesin, jou huwelik, en jou gaan vernietig! Boosheid saai verwoesting in alles wat vir jou kosbaar is. ’n Mens besef dit eers wanneer jy ’n kosbare ‘skat’ verloor het en die pyn jou siel uitmekaar ruk.
God weet van jou
My vriend, wie jy is en waar jy is, God weet van jou! God ken jou sit en jou opstaan! Ontrouheid is ’n gruwel in Sy oë! Miga 6:8: “Mens, die Here het jou bekendgemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied…dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.” Jy kan nie gehoorsaam aan God wees en ontrou in jou huwelik nie.
Tienie Myburgh is ’n senior finansiële adviseur, skrywer van ‘Een Kwitansie te Veel’, lid van Gideons, en ’n uitgesproke ambassadeur vir Jesus. Besoek sy Facebookblad om sy petisie teen huweliksontrouheid te ondersteun.