Virtuele Hofmakery

Die Bybel skryf nie voor hoe ons romantiese verhoudings moet aanknoop of te werk moet gaan om iemand die hof te maak nie (daardie proses wat ons gebruik om ’n potensiële lewensmaat beter te leer ken).
In die Bybelse tye het hofmakery nie soos vandag plaasgevind nie. Toe is jong manne en vroue deur hulle families bygestaan om iemand te ontmoet en verloof te raak en is kinders se toekomstige lewensmaats dikwels vir hulle uitgekies.
Vandag is enkellopendes meer op hulleself aangewese om ’n lewensmaat te vind.

Hy straf ons nie
Ons moet onthou dat God volmaak liefdevol is (Efesiërs 3:18; 1 Johannes 3:16-18) en volmaak soewerein in elke situasie, begeerte en behoefte (Psalm 109:21; Romeine 8;38-39). Tensy ons teen God in opstand is, kan ons seker wees dat Hy ons nie straf met ons enkelbestaan nie, en dat Hy wel die regte man of vrou oor ons pad sal bring…al verg dit ’n bietjie geduld! God gebruik ons keuses, ander mense, en soms selfs tegnologie om ons lewensmaat by ons uit te bring.

Wat is jou houding?
Voordat ’n Christen-enkellopende dit oorweeg om van enige moderne metodes gebruik te maak om ’n huweliksmaat te vind, is dit nuttig om selfondersoek te doen en te vas te stel of hy/sy enige selfvernietigende ingesteldhede het.
Is dit moontlik dat ons te uitsoekerig is; so besig om na die sprokiesprins / feëprinses te soek dat ons sodoende beperkinge plaas op (en dit soms selfs nie eers oorweeg nie) op die moontlikhede wat God op ons pad bring.
Is ons aan die ander kant, dalk nie uitsoekerig genoeg nie, en het vergeet dat God alle Christene maan om slegs met ander Christene te trou (2 Kor 6:14); oorweeg ons selfs iemand wat vasgevang is in ’n ernstige sonde wat ’n huwelik kan bedreig?

Die Here moet ons vervul
’n Christen-man behoort die leiding in die verhouding te neem, deur die vrou te vra om saam met hom uit te gaan, haar te bel en seker te maak dat hulle verhouding Christus in alle opsigte verheerlik. ’n Christen-vrou behoort die man toe te laat om as die leier wat God hom gemaak het, die inisiatief te neem. Sy moet die versoeking weerstaan om die voortou in die verhouding te neem.
Laastens moet ons as gelowiges op ons eie twee voete kan staan en op die Here vertrou om ons te vervul, in plaas daarvan om te voel dat ons getroud moet wees om heel en vervul te wees. Wanneer ons hierdie algemene worstelinge uitgesorteer het, kan ons begin om ’n vrou die hof te maak, of ’n man toelaat om ons die hof te maak, met die oog op die huwelik.

Van die virtuele wêreld na die werklikheid
Sou jy kies om aanlynvriendskappe aan te knoop, en dalk selfs ’n potensiële geliefde ontmoet, moet jy net in gedagte hou dat jy nie vir ewig aanlyn kan bly nie. Hoe maak ’n mens dus die sprong van die virtuele wêreld na die ‘werklike’ wêreld?

1. Ontmoet so spoedig moontlik van aangesig tot aangesig
Ontmoet hoe eerder hoe beter; dit bied jou die geleentheid om die persoon in die werklike wêreld te leer ken. Dit is belangrik om self te sien hoe hierdie persoon ander mense en alledaagse frustrasies hanteer.

2. Gebruik jou gesonde verstand
Wees versigtig. Die feit dat julle op ’n Christen-webwerf ontmoet het, beteken nie noodwendig dat die persoon met wie jy kommunikeer, is wie hy sê hy is nie. Wanneer jy daardie eerste ontmoeting reël, sorg dat dit op ’n openbare plek geskied. Sorg dat jou vriende en gesin weet waarmee jy besig is.

3. Stel die persoon so spoedig moontlik aan jou nabye vriende- en familiekring voor
Ontmoet sy vriende, en laat jou vriende hom/haar ontmoet…moenie in die geheim uitgaan nie.

4. Vertrou op die Here en volg Sy leiding
Of jy nou iemand aanlyn, of op ’n meer konvensionele manier ontmoet, onthou om te bid, en gehoorsaam deurgaans God se leiding in elke fase van die verhoudings- en verlowingsreis. Bly verantwoordbaar!


Transendentale Meditasie

Oor die afgelope paar dekades het ‘New Age’-filosofie en -praktyke toenemend alledaags geword in die Westerse samelewing. Volgens die algemene definisie draai die sentrale leringe daarvan om beide Oosterse en Westerse geestelike en metafisiese tradisies wat deurtrek is van invloede uit selfhelp- en motiveringsielkunde, holistiese heelkunde, ens. ’n Primêre eienskap is om ’n ‘holistiese wêreldbeskouing’ te handhaaf en só te beklemtoon dat die intellek, liggaam, en siel onderling verbind is, en dat daar ’n vorm van enigheid en eenheid oral in die heelal is.
New Age-filosofie en -praktyk
Een van die gewilde praktyke van diegene wat New Age aanhang, is transendentale meditasie (TM) wat sy ontstaan in Hindoeïsme het, maar ’n wydverspreide Westerse meditasiemetode geword het. Dit is gewild gemaak deur mense, soos Oprah en Julia Roberts (wat tot Hindoeïsme bekeer het ná afloop van haar rolprent, ‘Eat, Pray, Love’, waarin sy gereeld gemediteer het).
’n Ontstellende feit is dat dit nou nie meer net Hollywoodrolprentsterre en spa’s in die Verre Ooste is wat TM onderskryf nie. Die opvoedkundige gemeenskap onderskryf nou ook hierdie praktyk as ’n wyse om die gedrag van bandelose leerlinge en ongedissiplineerde studente te ‘wysig’ en te ‘beheer’.
TM word by verskeie skole in Suid-Afrika, asook by oorsese universiteite, onder die naam van CBE (Consciousness-based-education) geïmplementeer. Die aanspraak is dat dit konsentrasievermoë verbeter en dus akademiese resultate verbeter. Nie alleen word die godsdienstige aard daarvan weerhou nie, maar dit word inderdaad ontken.

Neem ’n jong bewussyn gevange
Die TM-aktiviste beplan om opvoedkundige stelsels te infiltreer deur opvoedkundiges op te lei hoe om te mediteer, en is reeds in verskeie skole in Durban geïmplementeer (waar onderwysers en leerlinge 15 minute lank aan die begin en einde van elke skooldag mediteer).

Oor die TM-beweging
Die TM-beweging bevorder hulle agenda deur:
• opvoedkundige instellings onder die naam van CBE (consciousness-based-education) te nader – en dus so hulle agenda te verbloem
• die sogenaamde voordele te beklemtoon wat deur navorsing en getuigskrifte bekragtig word wat deur hulleself en hulle volgelinge befonds word
• opvoedkundiges, wanneer hulle eers geïnteresseerd is, te vra om in te skryf vir opleiding wat nie genoegsaam verduidelik word nie. Tydens hierdie opleiding word hulle aan Hindoerituele blootgestel
• diegene wat vir die program ingeskryf het te vra om ’n dankoffer aan die vaders van die program te maak (die ghoeroes van die verlede). Die offer bestaan uit ’n lappie (sakdoek), blomme, vrugte, kamfer, en geld. ’n Inwydingseremonie word uitgevoer – die puja-seremonie. Dit is nie ’n dankseggingseremonie of -ritueel soos beweer word nie. Kamfer word gebrand, water gesprinkel en die blomme, sakdoek, wierook, sandelhoutsmeer, rys, meelblom, vrugte, betelblaar en klapper word aan die gode/godinne geoffer terwyl die smeekbede gelees word.
• die gebede in Sanskrit te doen, wat verhoed dat ’n mens verstaan wat gesê word en eintlik besig is om jouself aan die gode te onderwerp. Al hierdie aksies dra betekenis binne die Hindoegeloof (meer inligting is aanlyn beskikbaar). Mense van Indiese afkoms is normaalweg bewus van die betekenis van sulke offerandes; van die puja-seremonie; die Sanskritgebede – en talle van hulle onttrek aan die program. Ander etniese/rasse groepe het nie hierdie verwysingsraamwerk nie en neem deel aan die program op grond van wat voorgehou word (dat dit nie ’n godsdienstige praktyk is nie – slegs ’n dankoffer).

Die waardes van TM
Die weerhouding en selfs ontkenning van die godsdienstige aard van TM is die wêreldwye verspreidingstrategie. Volgens die Maharishi (die grondlegger van TM) is transenden-tale meditasie:
• ’n weg na God
• die enigste weg na verlossing en sukses in die lewe; daar is geen ander weg nie
• ’n goeie vorm van gebed wat ons na die sfeer van die skepper toe lei, na die bron van die skepping
• ’n wyse waarop ’n “sondaar baie maklik uit die sfeer van die sonde kan kom en ’n deugsame man kan word”

Die agenda
Die Maharishi se motivering om TM as niegodsdienstig te bevorder, is ‘uitgeslape opportunisme’: “Wanneer en waar ook al gods-
diens die massa bewustheid domineer, moet transendentale diepmeditasie geleer word in terme van godsdiens…Deesdae, waar politiek die lot van die mens stuur…lyk dit, voorlopig, dat hierdie transendentale diepmeditasie deur die agenda van die regering aan die mense beskikbaar gestel moet word.”
Die TM-mantras (wat aan kursusgangers uitgedeel word om te herhaal en as hulle eie aan te neem) is nie net ‘sinnelose klanke’ nie. ’n Mantra is ’n godsdienstige vokaal uit die Sanskrittaal; die mantras is onlosmaaklik deel van die name van godsdienstige gode. Mantras word beskou om effektief as vibrasies te wees, dit mag verbale herhaling insluit in die vorm van dreun-sang (‘chanting’) of innerlike sielsbeswerings (‘mental incantations’).
Mantras het in die Vediese godsdiens van Indië ontstaan, en later ’n wesenlike deel van die Hindoetradisie geword. Mantras word in Oosterse geestelike tradisies gebruik om die gedagtes te herlei deur dit op ’n geestelike idee te laat fokus. Die Maharishi verduidelik self dat mantras ’n geestelike instrument is wat gebruik moet word om geestelike wesens “op ander vlakke van die skepping” aan te roep. Hy sê: “Mantras bied ons die genade van persoonlike gode en bring ons geluk in die lewe.”

Gedokumenteerde newe-effekte van TM
Daar is verskeie implikasies wat uit die TM-praktyk voortspruit. Negatiewe gevolge sluit in: spierspasmas, stuipe, vermoeidheid, slaapstoornisse, onvermoë om te fokus, angstigheid, depressie, dissosiasie, ontpersoonliking, senuwee-ineenstorting, en selfmoordneigings. Natuurlik sal jy dit nie op TM-webwerwe vind wat ’n menigte sielkundige en gesondheidsvoordele daaroor verkondig nie.
Hoewel hulle talle aansprake indrukwekkend mag klink, lewer ’n analise van hulle studies ’n heel ander prentjie van die ‘Maharashi-uitwerking’ op. Dit is interessant om op te merk dat die Verenigde State distrikshof, New Jersey-distrik, beslis het dat transendentale meditasie ’n godsdiens is (19 Oktober 1977) en dat die TM-groep en hulle literatuur toe uit alle skole verwyder is. Jare later is hierdie beslissing egter vergete…

Wat is die Christelike reaksie?
Natuurlik moet Christene bekommerd wees oor die bevordering van New Age neo-Hindoepraktyke wat plaaslike skole infiltreer. Dit sou wys wees vir jou om aktief by die bestuur betrokke te wees om te sien of TM in die skool beoefen word, om jou kommer te verwoord, en om te versoek dat jou kind nie daaraan deelneem nie. Die beste manier om TM in skole te stop, is om die feite aan die skoolrade voor te lê en ouers wat dieselfde voel te versoek om ’n (vriendelike, maar onversetlike) standpunt saam met jou in te neem.
Dit is ook belangrik om jou en jou kinders in te lig oor die werklikhede van meditasie en wat dit alles behels. Die Bybel leer ons om elke gedagte gevange te neem om dit aan Christus gehoorsaam te maak (2 Kor 10:5) en om God toe te laat om ons te verander deur die vernuwing van ons denke (Rom 12:2). Om ons verstand leeg te maak is nie, en sal nooit, die oplossing tot die uitdagings van die lewe wees nie. Om jou verstand leeg te maak laat eerder ’n gaping vir allerhande ongewenste elemente om te infiltreer!

WAT IS HINDOEÏSME?
Hindoeïsme is die hoofgodsdiens in Suid-Asië. Aanhangers verwys dikwels daarna as Sanātana Dharma (’n Sanskritfrase wat ‘die ewige wet’ beteken).
Demografies is Hindoeïsme die wêreld se derde grootste godsdiens, ná die Christen-geloof en Islam, met meer as ’n biljoen navolgers, waarvan ongeveer 1 biljoen in Indië woon. Ander bevolkingsgroepe is in Nepal (23 miljoen), Bangladesj (14 miljoen) en Bali (3.3 miljoen).
Oorspronklik was ‘Hindoe’ ’n sekulêre term vir alle inwoners van die Indiese subkontinent, ongeag hulle godsdienstige affiliasie.
Die term ‘Hindoeïsme’ is in die 19de eeu in die Engelse taal ingevoer om die godsdienstige, filosofiese en kulturele tradisies inheems aan Indië aan te dui.

Hindoe-oortuigings
Prominente temas in Hindoe-oortuigings sluit in: Dharma (etiek/pligte), Samsāra (die aanhoudende kringloop van geboorte, lewe, dood en hergeboorte), Karma (aksie en gevolglike reaksie), Moksha (verlossing van samsara), en die verskillende Yogas (weë of praktyke)
Hindoeïsme is ’n diverse stelsel denke met gelowe wat onder meer monoteïsme, politeïsme, panteïsme en gnostisisme oorspan; Christene beskou dit as hoogs demonies.

Oor TM
Maharashi Mahesh Yogi, die grondlegger van transendentale meditasie, is in 2008 oorlede, maar het ongeveer vyf dekades lank die Hindoepraktyk, bekend as TM, wêreldwyd bevorder. Hy het dit tot ’n multimiljoendollar-organisasie opgebou, wat die Maharishi Internasionale Universiteit in Iowa insluit. Maharishi het gepoog om sy Hindoeïsme aan die Weste te verkoop onder die versluierde misleiding van pseudo-wetenskaplike taal. Met die gebruik van terme soos ‘die Wetenskap van Kreatiewe intelligensie’ het hy gepoog om sy Hindoegodsdiens vir die Westerse wetenskaplike bewussyn aanvaarbaar te maak.

’n Bybelse opinie oor TM
Wat is hierdie filosofie van die Maharishi? Hy het die eenheid van alle dinge verkondig: dat die heelal, en alle bestaan, van een onpersoonlike, gemeenskaplike essensie of aard is. Om hierdie denkbeeldige, fisiese wêreld te transendeer en ’n toestand van geestelike verligting of eenheid met die onpersoonlike kosmos te bereik, het die Maharishi gesê ’n mens moet van die yogategniek van transendentale meditasie gebruikmaak. Hoewel volgelinge beweer dat dit nie godsdienstig is nie, is die hele lering duidelik Hindoeïsties.
TM bevorder uiterste rebellie teen die Skepper. Dit ontken die ewige persoonlike Skepper/God en vervang hom met ’n onpersoonlike Alles of Brahma / Atman van Hindoeïsme. Dit ontken die fisieke, persoonlike skepping en vervang dit met ’n onpersoonlike geestelike kosmos. Die hartseer werklikheid van TM is dat ’n onpersoonlike heelal niemand nog ooit liefgehad het nie. Slegs ’n persoonlike Skepper het Sy skepping lief en gee daarvoor om. Ware Bybelse Meditasie is nie ’n introspektiewe, subjektiewe afdaling in jouself, soos TM bevorder nie, maar ’n uitwaartse, objektiewe opstyging na die persoonlike Skepper. — deur Ron Carlson

Wat is Christelike Meditasie?
Ongelukkig kan die woord ‘meditasie’ die konnotasie dra van iets van die mistieke. Vir sommige is meditasie die kommunikasie met die geesteryk om ons.
Begrippe soos hierdie is beslis nie kenmerkend van Christelike meditasie nie. Christelike meditasie het niks te maak met praktyke wat die Oosterse mistiek as grondslag het nie.
Sulke praktyke sluit in: lectio divina, transendentale meditasie, en ander vorme wat as ‘kontemplatiewe’ gebed bestempel word. Hierdie praktyke huldig almal die gevaarlike uitgangspunt dat ons ‘God se stem moet hoor’, nie deur Sy Woord nie, maar deur persoonlike openbaring wat deur middel van meditasie verkry word.

God se Woord is voldoende
Christene mag nie God se Woord prysgee nie; dit is “God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorbereid en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” 2 Tim 3:16-17.
As die Bybel voldoende is om ons deeglik vir elke goeie werk toe te rus, hoe kan ons dink dat ons in plaas van die Bybel, of aanvullend daartoe, ’n mistiese ervaring moet najaag?

Vind jou vreugde in die Woord
Christelike meditasie moet alleenlik oor die Woord van God wees en wat dit oor Hom openbaar. Dawid het gevind dat dit die waarheid is, en hy beskryf die man wat ‘geseënd’ is, as die een wat “in die Woord van die Here sy vreugde vind, [en] dit dag en nag oordink.” Ps 1:2.

Aktiewe denkproses
Christelike meditasie is ’n aktiewe denk-proses waartydens ons ons wy aan die bestudering van die Woord, en God vra om ons insig te gee, deur die Gees, wat ons “in die hele waarheid lei.” Joh 16:13.
Dan pas ons hierdie waarheid toe, en verbind ons tot die Skrif as die rigsnoer vir lewe en praktyk in ons daaglikse doen en late. Dit lei tot geestelike groei en volwassenheid in die dinge van God.


Jy Mag nie Vals Getuienis Gee Nie

God is Waarheid. Jesus Christus is die Weg, die Waarheid en die Lewe. God se Woord is Waarheid. “…julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” Joh 8:32.
Augustinus het dié kennisgewing op sy lessenaar gehad: “Enigiemand wat hierdie kantoor binnekom om sy broer te beskuldig, sal hier uitbegelei word.” Augustinus het erns met die Negende Gebod gemaak.

Die grootste onreg
Johannes Calvyn, die groot hervormer, het gesê: “Daar is geen groter onreg wat mense aangedoen kan word, as om hulle reputasie te skend nie.”
Soos Mark Twain tereg opgemerk het: “’n Leuen kan al halfpad om die aarde wees, terwyl die waarheid nog sy skoene aantrek!” En dit was vóór e-pos en die internet. Nou trek ’n leuen baie vinniger en verder as ooit tevore.
“Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, dié deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe aan die brand…en word…uit die hel aan die brand gesteek.” Jak 3:6.

Skinder en kwaadpraat
Ons het ons almal al een of ander tyd aan skinder skuldig gemaak en dit is ’n sonde. Vir God is dit ’n ernstige saak. Die Bybel stel dit só: “…wie skinderstories versprei, is ’n dwaas…” Spr 10:18. Die opdrag is duidelik: “Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers…” Jak 4:11.

Hoogmoed en kwaadwilligheid
Die skinderbedryf word dikwels deur hoogmoed aangedryf. Dit is die behoefte om mense wat beter as ons is, in ’n slegte lig te stel, om so onsself te verhoog deur ander af te trek. “Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.” 1 Pet 2:1. Kwaadpratery is onlosmaaklik aan kwaadwilligheid, bedrog, valsheid en jaloesie gekoppel.
Die Bybel waarsku ons teen mense wat “leer…om hulle tyd te verkwis deur net van een huis na die ander rond te kuier. Hulle is nie net ledig nie, maar ook bemoeisiek en praatsiek, en hulle praat oor dinge waaroor nie gepraat moet word nie.” 1 Tim 5:13.

Karaktermoordenaars
Die Here se Wet is duidelik: “Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here.” Lev 19:16.
Skinder kan ’n ander mens se lewe in gevaar stel. “’n Knopkierie, ’n swaard, ’n skerp pyl, so is ’n man wat vals teen sy naaste getuig.”
Spr 25:18.
’n Paar jaar gelede het ons gesien hoe onvergenoegde uitgetrede lede van ’n uitmuntende sending in Afrika ’n verbete veldtog van haat en kwaadstokery geloods het. Webtuistes is geskep om die sending te beskinder, en elke denkbare wraaksugtige verguising is ingespan teen hierdie uitnemende Christelike gemeenskap.

Sondige laster
Ek was heeltemal verstom deur die volgehoue, obsessiewe en afbrekende kwaadwilligheid van die kwaad-stokers. ‘Sending van haat’; ‘Sending van vrees’; ‘Ek het uit die Sending van die hel ontsnap!’ – het opskrifte van koerante en tydskrifte dit uitbasuin.
Ek het ook ontdek dat baie oorsese bedienings die slagoffers geword het van soortgelyke patologiese teenpartye.
Soos dr. James Kennedy in ‘Delighting God’ skryf: “As jy net ’n bietjie bokant die gewone kudde uitstyg, as jy ’n greintjie meer sukses as jou naaste behaal, sal die pyle van kritiek verseker na jou geskiet word…” Kennedy haal ’n ou wysgeer aan: “As ek al die kritiek teen my moes lees, wat nog te beantwoord, saam met al die aanvalle teen my, sal hierdie kantoor vir sake moet sluit. Ek verrig alles so goed ek kan, na die beste van my vermoë, en ek is van voornemens om so voort te gaan – tot die einde toe. As ek dan op die ou end verkeerd bewys word – sal tien engele wat getuig dat ek reg was, geen verskil maak nie. As ek op laas reg bewys word, sal alles wat nou teen my gesê word, in elk geval niks beteken nie.”

Spurgeon se raad
Die grootste Baptiste prediker van alle tye, C.H. Spurgeon, het gewaarsku: “Moet die helfte van wat jy hoor, nie glo nie; moenie die helfte wat jy glo, herhaal nie. As jy ’n kwade gerug hoor, halveer dit, halveer dit weer, en bly stil oor die res. ”

Kwaadwilligheid teenoor ander
Spurgeon skryf: “Hoe meer prominent jy in diens van Christus is, hoe meer kan jy daarvan seker wees dat jy aan die ontvangkant van skindertonge sal wees. Ek het lank gelede al van my karakter afskeid geneem. Ek het dit al vroeg in my bediening verloor, deur net ’n bietjie yweriger te wees as waarmee ons sluimerende eeu gemaklik is.
En ek kon dit nog nooit weer herwin nie, behalwe in die oë van Hom wat die aarde sal oordeel, en in die harte van diegene wat my vir my werk waardeer.”
Tydens my navorsing vir ‘The Greatest Century of Missions’, was ek verstom oor hoe elkeen van die groot sendelinge van die verlede deur hulle tydgenote met die venynigste laster en verguising geteiken is. William Carey, Samuel Marsden, Hudson Taylor, David Livingstone en vele ander het die wreedste en kwaadwilligste aanvalle verduur – deur mense wat voorgee dat hulle Christene is.
George Whitfield, een van die grootste evangeliste van alle tye, en ’n sleutelfiguur in die Groot Evangeliese Ontwaking, is selfs uit die Church of England geskop – die kerk wat hy so getrou gedien het. Desnieteenstaande het dié kerk in Suid-Afrika sy kollege na George Whitfield vernoem.
Toe ek vir ‘The Greatest Century of Reformation’ navorsing gedoen het, was ek opnuut geskok deur die vyandigheid – nie slegs in die verlede nie, maar selfs tot op hede – teen sommige van die grootste Christelike hervormers wat deur God gebruik is om die kragtigste geestelike herlewing in die geskiedenis te bewerk. Een historikus het oor Johannes Calvyn opgemerk: “Oor geen beter man is daar ooit slegter berig nie; geen Christelike teoloog is só dikwels geminag, só gereeld aangeval nie.”

Teoloë geteiken
Selfs Amerika se grootste teoloog, Jonathan Edwards, die man wat die nouste met die Groot Evangeliese Ontwaking geassosieer word, is deur sy eie kerk ontslaan op grond van skinderstories – wat later bely is deur die een wat valslik teen hom getuig het.
In sy afskeidstoespraak het Edwards hierdie raad gegee: “…vermy twis. Twisgieriges sal altyd ongelukkig wees…kwaadpraters en dergelike dinge… [druis] lynreg teen die Christelike gesindheid in…” Die Skrif vermaan ons: “Moenie van mekaar kwaad praat nie, broers. Hy wat van sy broer kwaad praat of sy broer veroordeel, praat kwaad van die wet en veroordeel die wet.” Jak 4:11.
Charles Spurgeon was die teiken van venynige en beswadderende aanvalle deur die destydse Baptiste Unie. Nou is sy boeke die studieboeke van Baptistekolleges, en staan sy standbeeld voor die hoofkwartier van die Baptiste Unie.

Waarskuwing uit die Woord
Die Bybel waarsku ons “…hartstog vreet ’n mens op.” Spr 14:30. “Selfverheffing lei altyd tot twis.” Spr 13:10. Die Apostel Paulus waarsku teen “’n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, voortdurende rusie…” 1 Tim 6:4.
Die Woord van God is uitgesproke teen “ligsinniges, elkeen wat altyd gereed was om onreg te doen…ook dié wat sommer mense tot oortreders verklaar het, strikke gespan het vir dié wat reg wou laat geskied, en onskuldige mense hulle reg ontneem het deur vals getuienis.” Jes 29:20-21.
In die laaste boek van die Bybel is daar ’n lys van agt kategorieë van mense wat nie in die Hemel sal kom nie: “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs, en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.” Op 21:8.

Die sonde van swyg
’n Mens kan ’n ander ewe veel te na kom deur te swyg as deur te skinder – deur nie vir hom op te kom nie al weet jy goed dat hy vals beskuldig is.
“Jy mag nie vals getuienis gee nie,” beteken dat ons nie mag toesien, dit oorweeg, aandag gee aan, of luister na vals getuienis nie. Dit kan egter ook beteken dat jy moet praat wanneer jy moet. Hierdie gebod verbied nie slegs die aanhoor van vals getuienis nie, dit verbied ons ook om enigiets met vals getuienis te doen te hê. Jy mag nie iets versin, of aandag gee aan, of tob oor, of vals getuienis versprei nie. Ons mag nie vals getuienis gee óf ontvang nie.

Foutvindery
Die Negende Gebod verbied ons om vals getuienis in ons gedagtes, of hart, of op ons lippe te hê. Dit is ’n oortreding van die gebod om ons denke met oordrewe-, of vermeende idees van ’n ander se foute te besoedel.
Vals getuienis is enige oneerlike weergawe van gebeure, of enige vals stelling. Dit mag skinderstories wees, of kwaadpraat, of dit mag oneerlike inligting oor onsself wees, met die doel om ander te beïndruk. Dit sluit oneerlike of verdraaide verskonings in wat saamgeflans word om ons uit die moeilikheid uit te hou, of om skande te ontwyk.

Die sonde van vleiery
Onrealistiese vleiery is ook ’n leuen en is skadelik, omdat dit die ander persoon ’n valse siening van homself kan gee en hoogmoed tot gevolg kan hê. Baie ouers benadeel hulle kinders met ongegronde vleiery. Leuens bedroef die Heilige Gees. Dit vernietig ook vertroue. Die persoon aan wie ’n leuen vertel word, voel verraai omdat die een wat hy as betroubaar beskou en gerespekteer het, hom nou in sy vertroue geskok het. Oneerlike stellings is ook ’n vyandige daad. Elke leuen is ’n afbrekende aanslag op iemand se karakter. Leuens verstomp die gewete tot ongevoeligheid, en beskadig en vernietig uiteindelik persoonlike integriteit.

Wat motiveer vals getuienis?
Elke leuen behels sondes, en veroorsaak ook ander. Daar is gewoonlik ’n sondige dryfveer vir leuens. Hoogmoed en arrogansie is die onderbou van grootpraterige leuens. Lafhartigheid lê agter oneerlike verskonings. Haat, kwaadwilligheid en afguns lê agter wraakgierige geskinder. ’n Leuenaar wat probeer voorgee dat hy ’n Christen is wat met die Here wandel, is ook aan skynheiligheid skuldig. Sommige mense lieg en oordryf vir die vertoon, en om aandag te trek. Ander lieg om argumente te wen en guns te bekom.
Een van die algemeenste leuens waaraan jy dalk skuldig mag wees, sluit kreatiewe verskonings in. Wanneer ons ’n baie dom ding aangevang het, is die versoeking daar om die waarheid net so ’n bietjie aan te pas, of om na te laat om te doen wat nodig is.

Geestelike bedrog
’n Ander baie algemene en ernstige wyse waarop Christene dikwels leuens vertel, is deur geestelike leiding en seëninge te oordryf en voor te gee dat hulle ’n dieper wandel met God het as wat wel die geval is. Dit sluit die ydele gebruik van God se Naam in. Christene sal dikwels sê: “Die Here het vir my gesê…” en “Die Here het vir my gesê om vir jou te sê…” of “Ek bid nog daaroor…”.
Baie wat in byeenkomste as getuienisse, aanbidding en voorbidding deurgaan, is eintlik maar ’n oortreding van die Derde en Negende Gebooie.

Ananias en Saffira
’n Uitstekende voorbeeld hiervan in die vroeë Kerk, is die verhaal van Ananias en Saffira: “Maar daar was ook ’n sekere man, Ananias, en sy vrou, Saffira, wat ’n eiendom verkoop het. Met die medewete van sy vrou het hy van die verkoopprys vir hulleself agtergehou en net ’n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee. Petrus sê toe vir hom: ‘Ananias, hoekom het jy jou deur die Satan laat omhaal om vir die Heilige Gees te lieg en van die verkoopprys van die grond vir jouself agter te hou? Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God.’ Toe Ananias dit hoor, het hy dood neergeval; en al die ander wat dit gehoor het, het baie bang geword.” Hand 5:1-5.

Om die Skrif te verdraai
Hierdie gedeelte is ’n duidelike waarskuwing oor die gevolge daarvan om vir God te jok. Soos die Apostel Petrus gesê het: Dit was hulle grond, en nadat dit verkoop is, was dit hulle geld. Dit gaan nie oor die grond of die geld nie. Dit gaan oor Ananias en Saffira se bedrog en oneerlikheid, oor die feit dat hulle voorgegee het dat hulle méér gedoen het as wat hulle werklik gedoen het.
Ter wille van die lof van mense, het hulle openlik voorgegee dat hulle die volle som geld vir die Here gegee het. Dit benadruk net hoe belangrik integriteit en eerlikheid is.

Die vernietiging van reputasies
Laster is die kwaadwilligste manier waarop die Negende Gebod oortree word. Om iemand kwaadwillig te beskuldig, is vernietigend. Om opsetlik oor iemand anders leuens te versprei, is om sy hele reputasie te vernietig – in die gemeenskap, in sy werkplek, of in die kerk.
Om voort te borduur oor iets van ’n ander waarvan jy nie hou nie, of deur ’n tekortkoming van sy karakter aan die groot klok te hang, kan jy sy vriende en kollegas maklik van hom vervreem. “ ’n Leuenaar haat dié wat hy seermaak; ’n vleier bewerk ’n ander se ondergang.” Spr 26:28.

Kan jy die ander kant insien?
Elke keer wanneer tsaar Petrus die Grote van Rusland iemand gehoor het wat ’n ander swartgesmeer het, het hy só daarop reageer: “O ja, maar is daar dan niks goeds aan hom nie?” Die stigter van Campus Crusade for Christ, Bill Bright, het gesê: “Mense stort nie rommel op groen grasperke nie”. Vullis word gewoonlik op leë erwe vol klippe en gemors, sand en onkruid gestort.
Die vraag is: Is jy ontvanklik vir die storting van skinderstories? “Moeilikheidmakers luister graag na kwaadwillige woorde. Leuenaars gee aandag aan bedrieglike idees.” Spr 17:4. “Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; ’n betroubare mens bewaar ’n geheim.” Spr 11:13.

Kan jy vertrou word?
Die vraag is, kan jy met vertroulike inligting vertrou word en ’n geheim bewaar? Een goeie reël is om nooit iets oor iemand te sê, tensy jy dit nie eers self met hom bespreek het nie. As ons nie kan bewys dat iets gebeur het nie, het ons nie die reg op ’n mening oor die saak nie, en mag ons verseker nie vals daaroor getuig nie. Moet nooit onderskat tot watter uiterstes sondige mense kan gaan om ander se reputa-sies te vernietig nie – net sodat hulle in die proses be-
langrik kan voel nie.
“’n Nikswerd mens stook kwaad, wat hy sê, is soos ’n vernietigende vuur. Iemand wat leuens verkoop, sit rusie aan die gang. Iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.” Spr 16:27-28.

Harte sonder berou
Diegene wat skinder, ander belaster en geen berou toon nie, wys daarmee dat hulle ’n bose en onwedergebore hart het. Mense met só ’n hart, sal hulle ook nie bekeer wanneer hulle sondig nie. Mense wat herhaaldelik, opsetlik en moedswillig laster en skinder, en dan geen berou het nie, bewys daarmee dat vrot vrugte uit ’n vrot hart kom. “’n Dwaas se mond is sy ondergang. Met sy woorde stel hy vir homself ’n noodlottige strik.” Spr 18:7.
Een van die maniere waarop ’n mens tussen ’n dwaas en ’n wyse man kan onderskei, is die manier waarop hulle praat. ’n Godvresende man sal sy broer probeer oorhaal en opbou deur hom met sy sonde te konfronteer. Die sondige man, daarenteen, sal poog om sy slagoffer te vernietig, deur afbrekend oor hom met ander te praat. “Wyse mense versamel kennis. Dwase se gebabbel bring spoedig teëspoed.” Spr 10:14

Help dit of maak dit seer?
Die vraag wat ons moet vra om te kan onderskei tussen ’n Godgegewe begeerte om te help en ’n Godsonterende begeerte om seer te maak, is: Help die negatiewe inligting die een wat beskuldig word, of berokken dit hom skade?
As mense met ’n skinderstorie na jou toe kom, moet jy hulle vra: “Het jy met die betrokke individu persoonlik gepraat? Indien nie, wil ek dit nie hoor nie. Dit het niks met my te make nie. Ek beveel aan dat jy direk met hierdie persoon gaan praat.”

Verbreek die kringloop
As ons weier om na skinderstories te luister, of dit verder te versprei, sal die vernietigende afwaartse spiraal verbreek word. “Die woorde van die regverdige is soos ’n fontein van lewe” Spr 10:11.


God Se Genadevisier

In ‘The Capitol of the World’ vertel Ernest Hemingway die verhaal van ’n seun, Paco, wat ná ’n heftige woordewisseling met sy pa, uit sy ouerhuis padgee. Later soek die bedroefde pa orals in Spanje na sy kind, maar sonder sukses; dit breek sy hart.
Uiteindelik plaas hy ’n advertensie in Madrid se dagblad, El Liberal, met die woorde: ‘Paco, meet me at Hotel Montana. Noon Tuesday. All is forgiven.’ Toe daag daar 800 seuns met die naam Paco daardie einste Dinsdagmiddag by die hotel op!

Rustelose harte
Hoe honger is mense nie vir vergifnis nie! God het ons gemaak om op aanvaarding te floreer. Hy het ons veral gemaak om aan Sy hemelse aanraking behoefte te hê. Ons is die Here S’n. Sy handtekening is op ons.
Nie eers die wreedste krapmerke van die sonde kan dit uitvee nie. Die kerkvader, Augustinus, het dit goed begryp, daarom skryf hy in sy beroemde outobiografie: “Here, U het ons vir Uself gemaak en ons hart is rusteloos totdat dit rus vind in U!”

Binne God se genadevisier
Daar is ’n behoefte aan God, ’n ‘God-nood’ diep in ons elkeen verpak. Ons honger en dors na die Here, al wil ons dit nie aldag erken nie. Selfs al is ons met ons eie klein rebellie teen die Hemel besig, gee God nooit moed op met ons nie. Hy hou ons gedurig binne Sy genade-visier. Die Here ken ons koördinate. Sy hemelse GPS is haarfyn op ons doen en late gefokus; wegkomkans is daar nie.

Een-Man-soekgeselskap
Jesus is God se Een-Man-soekgeselskap hier op aarde. Hy is dag en nag op die hakke van Sy Vader se verlore eiendom wat in die wind en die weer rondlê. O ja, Hy is ook op die hakke van God se kinders wat op slegte afdraaipaaie uithang en wat op moedverloor se vlakte kampeer.
Wanneer Jesus jou naam en adres het, moet jy weet: jy kan hardloop, maar nie weghardloop nie; jy kan vlug, maar nie wegvlug nie; jy kan kruip, maar nie wegkruip nie.

Boer met genade
God wil ons almal naby Hom hê. Hy het ons geskep en ook herskep vir ‘koinonia’ – gemeenskap – met Hom en met mekaar. Hy het vir ons ’n plek gereedgemaak by Jesus se fees wat tot in ewigheid anderkant die dood aanhou. Daarom kan God dit nie verdra dat daardie feessaal nog nie vol genoeg is nie, soos Jesus ons in Lukas 14 vertel.
Geen wonder nie dat daar om elke hoek en draai in die Bybel luidkeels verkondig word: “Alles is vergewe!” Jesus se ganse lewe op aarde basuin dit uit.
Sy sterwe aan die Kruis, en die leë graf onderstreep dit – Hy boer met genade. Gaan haal dit net. Staan met leë bedelaars-hande voor Christus; jy sal elke slag met propvol hande daar wegstap. Hande vol ewige lewe, oorvloed, en liefde is dadelik joune as jy op Sy perseel om gratisgenade kom bedel!

Sewentig maal sewe
Nog goeie nuus is dat God nie ’n kwotastelsel vir vergifnis het nie. Jy kan nooit só ver val dat Jesus jou nie in sy genadegreep kan vang nie. Petrus, een van Jesus se dissipels, het aanvanklik anders hieroor gedink.
Hy het gemeen sewe keer se vergifnis vir onderlinge oortredings teen mekaar is baie ruim, soos ons in Matteus 18 lees. Die godsdienstiges van daardie dae het immers geglo drie maal vergewe is oorgenoeg. Toe verras Jesus Petrus met ’n nuwe hemelse formule – sewentig maal sewe. ‘Ad infinitum’. Oneindig.
Vir altyd en aanhoudend! God hou nooit boek as dit by vergifnis kom nie. Hy tel nie hoeveel keer jy Hom al om vergifnis kom vra het nie.

Uitnodiging na Christus
Natuurlik het jy nie ’n lisensie gekry om droog te maak, of in sonde rond te lê nie. Maar, as jy wel die slag die pad byster raak, moet jy weet Jesus spesialiseer steeds in droogmakers en struikelendes.
Hy bring genadebedelaars se saak voor God graag in die reine. Hy maak slegte boeke toe. Hy begin elke keer oor en voor. Gevolglik is daar regdeur die Bybel soveel dringende notas en ‘advertensies’ wat jou na Christus toe nooi. Hoor weer: “Alles is vergewe!”