EVANGELISASIE IN HIS NAME: ‘n nota vanaf Tamryn

Liewe Vriend

Jeremia 8 vers 21 – 22 lees soos volg: “Vanweë die verbreking van die dogter van my volk is ek gebreek, is ek in die rou, verbaasdheid het my aangegryp. Is daar geen geneesheer nie? Want waarom het die genesing van die dogter van my volk nie tot stand gekom nie?”

Hierdie hoofstuk vorm deel van ‘n emosie-belaaide klaaglied van Jeremia oor die volk van Juda. Dit is ‘n klassieke uitbeelding van ‘n dienskneg van die Here wat die hart van die Vader openbaar. Die volk van Juda was ‘n korrupte en sondige nasie wat hul rug op die Here gedraai het en die knie voor die afgode gebuig het. Wanneer Christene in hierdie moderne eeu waarin ons leef, struikel of terugval, word hul so dikwels deur mede-broeders gemarginaliseer, veroordeel en as onwaardig beskou. Hierdie optrede weerspieël beslis nie die hart van God nie. Tekortkominge en misstappe dryf nie die Here weg nie; inteendeel – dit trek Hom nader aan diégene wat swak en neergeboë van hart is.

Geniet die getuienis hieronder. Die oombliklike genesing van Patricia met haar aankoms by ons veldtog, is ‘n verhaal wat doodeenvoudig die gretigheid van God verklaar om ons treurigheid in ‘n gejubel te verander, en om ons bande te verbreek sodat ons heerlike vryheid kan ervaar!

KRAGTIGE RESTORASIE

Patricia Nklabatu was in ekstase. “Ek is so bly,” het sy gejuig, “hierdie is die beste dag van my lewe!” As inwoner van Diepsloot, het Patricia die Here geloof en geprys, terwyl sy haar genesing gevier het.

Vir drie jaar het Patricia ‘n kroniese nierinfeksie gehad wat haar hopeloos en werkloos gelaat het. Ten spyte van haar gereelde besoeke aan die hospitaal, kon die dokters wat haar gespreek het, haar nie help nie. Haar lewe was om ver gegooi. Sy moes noodgedwonge haar vorige werk by Shoprite Checkers bedank het, as gevolg van die feit dat die koelkaste in die winkel haar siekte-toestand net meer vererger het. Patricia is ‘n enkel-ouer en om haar werk te moes verloor, het haar omstandighede net meer gekompliseerd gemaak, omdat sy nie haarself en haar seun finansieel kon onderhou nie. Toe sy die nuus verneem van die opkomende In His Name veldtog by ‘n plaaslike gemeente, was Patricia gretig om dit by te woon, want sy geglo het dat die Here ’n wonderwerk in haar lewe kan doen. “Ek is ‘n kind van God”, het sy verduidelik. “Toe ek gehoor het van die veldtog, het ek vir myself gesê ‘ek sal gaan – miskien is dit my kans om gesond te word’”.

Ja, Patricia het inderdaad haar genesing ontvang. Om die waarheid te sê die moment toe sy die veldtog-gronde betree, met die luide geklank van die lofprysinge in die lug, het die pyn eenvoudig verdwyn. Wat ‘n wonderwerk! En dit te midde van die feit dat die Evangelie-boodskap nog nie eers verkondig was of dat daar nog nie eers vir die siekes gebid was nie! Die Heilige Gees was so bereidwillig om vry te maak, dat die siekte verban is die oomblik toe haar voete die grond aanraak. “Ek was vir so ‘n lang tyd in pyn,’ het sy getuig, ‘maar toe ek in hierdie plek inkom, het die pyn verdwyn. Ek is genees! Alle eer aan God!”

Ons God is ‘n wonder-werkende Here. Ons probleme en moeilikhede dien slegs as ‘n platform vir die manifestasie van Sy genade, krag en liefde teenoor Sy kinders. Patricia kon nie ophou om te jubel nie. “Van nou af”, het sy gesê “wil ek ‘n kragtige vrou van God word. As dit moontlik is, wil ek ‘n prediker word.” Gaan voort, Patricia, ons jubel saam met jou!

Tamryn is die stigter van In His Name Ministries, ‘n evangelistiese organisasie toegewy tot die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus dwarsoor Afrika en die hele wêreld. Kontak haar op Facebook onder Tamryn Klintworth of besoek die bediening se webtuiste:

WWW.INHISNAME.ORG.ZA


Wat Dan van Sonde?

Dit wil voorkom asof die woordjie sonde besig is om uit ons woorde¬skat te verdwyn. Dié tendens kan waarskynlik toegeskryf word aan die feit dat die konsep van sonde in ons samelewing as oudmodies en irrelevant beskou word. Terwyl die grense tussen reg & verkeerd, eties & oneties en moreel & immoreel besig is om vinnig te vervaag, bevind ʼn groeiende aantal mense hulleself in ʼn grys moeras van onsekerheid.

‘Verbruikersvriendelike terme’
Die woordeskat van die moderne mens ten opsigte van etiese en morele kwessies het die laaste tyd dramaties verander. Ons sien deesdae hoe dinge wat vroeër as sonde beskou is, nou in ‘verbruikersvriendelike terme’ verpak word:

alkoholisme is eerder ’n chemiese afhanklikheid;’
trots is ʼn meerderwaardigheidskompleks’ of ’n ‘opgeblase ego;’
ontug staan bekend as ‘vrye liefde;’
sodomie is nie meer ʼn gruwel nie, maar net die logiese uitvloeisel van mense se alternatiewe seksuele oriëntasies;
pornografie word bemark as ‘volwasse vermaak;’ in die dampkring van liberale godsdiensvryheid word daar selfs akkommoderend na sataniste verwys as die Luciferian Society;
aborsie is nie meer moord nie, maar wel die geaffekteerde individu se keuse en reg in terme van die grondwet;
wellus word effektief aangewend as ʼn bemarkingstrategie by die verkoop van bykans enige produk; ongetroude paartjies ‘leef saam’ en leef nie meer ‘in sonde’ nie.

Die gebruik van moderne terapeutiese taal soos selfbeeld, selfverwesenliking, selfvertroue en selfliefde het daartoe bygedra dat tradisionele waardes soos nederigheid, naasteliefde, altruïsme en ʼn lewe in afhanklikheid van God al minder byval vind.

In die wêreld, maar nie van die wêreld nie
In skerpe kontras hiermee, kry gelowiges in Rom 12:2 die opdrag om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te word nie. Ons weet dat God die maatstaf vir alle waarheid is, dat sy Woord die waarheid is en dat sy Gees die Gees van waarheid is wat ons in die hele waarheid lei! God se ingeplante woord en sy inwonende Heilige Gees stel elkeen van ons dus in staat om tussen die waarheid en (selfs die mees subtiele) leuen te kan onderskei. Ons hoef dus nie deur hierdie stroom van verwarring en misleiding meegesleur te word nie!

Omdat God sonde haat en op die naam noem, is dit van die uiterste belang dat ons, as Sy Liggaam, stroom-op swem en duidelik standpunt inneem wanneer die grense tussen reg en verkeerd dreig om te vervaag.

Wet vs. Genade
Die vraag is dus nie of ons stroom-op moet swem nie, maar eerder hoe ons te werk moet gaan om effektief lig en sout te wees. Geslagte lank het ʼn groot deel van die Kerk verkeerdelik geglo dat, deur die wet te preek, ʼn heilige lewenswandel bevorder word. Ons teenvoeter vir die toename van sonde was gewoonlik om die wet en veroordeling te preek.
Die teenoorgestelde is egter waar, want volgens 1 Kor 15:56 is die krag van die sonde die wet, en volgens Rom 6:14 sal die sonde nie oor ons heers nie, want ons is nie onder die Wet nie, maar onder Genade!

In Joh 1:17 lees ons dat die Wet deur Moses gegee is, maar dat Genade en waarheid deur Jesus Christus gekom het. Daar is dus ʼn diep kloof tussen die Wet aan die een kant en Genade aan die ander kant:

die Wet vereis geregtigheid van die gevalle mens; Genade skenk geregtigheid aan die gevalle mens; die Wet veroordeel die bestes onder ons, terwyl Genade die slegstes onder ons vryspreek; die Wet plaas die fokus op wat die mens moet doen; Genade plaas die fokus op dit wat Jesus reeds op Golgota gedoen het!

Genade ʼn leermeester
Talle mense dink dat, deur Genade te beklemtoon, ons mense sal aanmoedig om in sonde te volhard. Niks is egter verder van die waarheid nie. In Titus 2:11 – 12 sê Paulus dat Genade ʼn leermeester is wat ons leer “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, (en) ingetoë en regverdig en vroom in die teenswoordige wêreld te leef.”

Nie net kom ons deur Genade tot redding nie, maar ons handhaaf ook ons dag-tot-dag-verhouding met God deur Genade. Kol 2:6 sê “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom.”

ʼn Geestelike hartoorplanting
ʼn Ware gelowige is nie iemand wat God deur uiterlike pogings tot wetsnako¬ming probeer behaag nie, maar ʼn persoon wat tydens wedergeboorte (sien Joh 3) ʼn geestelike hartoorplanting ondergaan het. ʼn Geestelike hartoorplanting, en nie wetsnako¬ming nie, is juis die effektiefste teenvoeter vir sonde!

Van die lewensveranderendste gebeure in die mens se lewe vind plaas tydens we¬dergeboorte. Eerstens vind daar ʼn inplan¬ting van die Goddelike natuur plaas. Dit blyk duidelik uit skrifgedeeltes soos 2 Pet 1:4: “ … sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur …”

Wedergeboorte
Die feit dat Christus nou in die gelowige is, het verrykende gevolge: i) omdat die Goddelike natuur, asook God se agape liefde (sien Rom 5:5) nou in ons harte gedeponeer is, kan die gelowige se karakter na die gestalte van Christus verander (Ef 4:13, Rom 8:29); ii) die gelowige besit nou die begeerte en vermoë om God se Wil te doen. Fil 2:13 sê “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae;” iii) Christus in ons, is nou ons hoop op heerlikheid (Kol 1:27). Tweedens vind daar tydens we-dergeboorte ʼn verandering van koninkryke plaas. Kol 1:13 sê ”Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.”

Ons word dus tydens wedergeboorte gered uit die koninkryk van duisternis en in die koninkryk van die Seun geplaas. Koninkryk impliseer heerskappy en dui daarop dat die gelowige nou as’t ware onder nuwe bestuur, naamlik dié van die Heilige Gees, geplaas word. As burgers van hierdie nuwe koninkryk het gelowiges nou die begeerte en vermoë om hulle vrywillig aan hierdie heerskappy te onderwerp. Sodanige onderwerping lei toenemend tot ʼn lewe van oorwinning oor sonde.

Genade en
Heiligmaking
Genade is ook die onderbou van heiligmaking (sien Titus 2:11–14). Paulus wou nie hê dat die Korinthiërs by redding volstaan nie, maar ook dat hulle geestelik in die Genade van die Here groei. In 2 Kor 1:15 lees ons: ”In hierdie vertroue wou ek vroeër na julle kom, dat julle ʼn tweede genade kan ontvang.” Wanneer die Heilige Gees ons tydens wedergeboorte wederbaar, bedien Hy die eerste genadewerk van redding aan bekeerlinge. Wanneer Hy ons daarna vervul en vir diens toerus, doen Hy die tweede genadewerk van heiligmaking in ons le¬wens. Dit is moontlik danksy die voltooide werke van Jesus aan die Kruis en daarom ontvang ons uit Sy volheid Genade op Genade! (Joh 1:16).

Die sleutel
Die korrekte benadering ten opsigte van sonde is beslis nie om kompromieë daarmee aan te gaan nie – kompromieë maak ons kragteloos! Die antwoord is ook nie om sonde in ‘verbruikersvriendelike terme’ te verpak en sogenaamd met jou sonde/swakhede vrede te maak nie.

Ons moet sonde op die naam noem en daaroor heers. Dit is egter ook kontra-produktief om die wet en veroordeling te preek wanneer ons sien dat sonde toeneem! Die sleutel wat God die Kerk gegee het en waarmee ons die deur na volhoubare ver¬anderde gedragspatrone kan oopsluit, is Genade, wedergeboorte en heiligmaking. Hoewel ons kan verstaan dat die regerings en o¬werhede van hierdie wêreld poog om die gedragspatrone van ʼn gevalle mensdom met wetgewing te reguleer, is dit nie die aangewese roete vir die Kerk nie.

Wedergeboorte is die oplossing, omdat die natuur van Christus dan in ons gedeponeer word en daar ʼn verandering van koninkryke plaasvind. Dit is hierdie geestelike hartoorplanting wat ons in staat stel om oor sonde te heers en om heilig te leef! Kom ons verkondig daarom met nuwe ywer die boodskap van wedergeboorte – dit alleen kan harte verander en blywende heilige gedragspatrone tot gevolg hê!


Pierre Spies – Geloofsman, Gesinsman en Sportman

Spies kan 135 kg kragoptel, 240 kg dooie-lig en 165 kg bankdruk doen. Slegs ietwat hierdeur beïndruk? Wag maar, daar’s nog meer: Hy kan optrekke doen met ’n 50-kg-gewig tussen sy bene. Hy kan sy 108-kg-lyf 1.4 meter in die lug laat skiet tot op ’n verhoogde platvorm, 835 m ver nael in ’n naellooptoets wat herhaal word sonder om stadiger te hardloop en het ’n liggaamsvetpersentasie van 6.5.

Dit is egter nie sy fisieke krag wat Pierre Johan Spies (26) laat uitblink nie; dit is sy onwrikbare geloof en volharding. Omdat hy die Wêreldbeker-reeks van 2007 weens ʼn besering misgeloop het, weet hy wat te¬leurstelling is. As toegewyde Christen weet hy egter ook hoe getrou God is. Sy ge¬tuienis is roerend en ek raai almal aan om dit te lees (www.pierrespies.co.za).

Ons het by Pierre en sy pragtige vrou, Juanné, in Pretoria gaan inloer en van hul jongste nuus uit die ‘binnekring’ gehoor – ’n klein ‘Spiesie’ word in Januarie 2012 verwag.
Pierre, jou pa was ook ’n Springbok-rugbyspeler en is oorlede voordat jy Springbok geword het. Wie het nog almal ’n invloed op jou loopbaan gehad?
My pa het die grootste invloed op my loopbaan gehad, hy was ’n uitstekende motiveerder. Daar is so baie ander mense/onderwysers/afrigters wat ’n invloed op my gehad het – veels te veel om te noem. Ek is dankbaar teenoor een en elk.
Hoe het dit gevoel om die Springboktrui vir die eerste keer oor jou kop te trek?
Alles het so vinnig gebeur dat ek dit nie werklik kon inneem nie, van die opwarming tot die sing van die volkslied was eintlik onwerklik. Ons het die wedstryd verloor, maar die hele ervaring het my ongelooflik trots laat voel om my land te verteenwoordig.
Jy het die vorige Wêreldbekerreeks misgeloop. Hoe voel dit noudat jy weet jy is deel daarvan en het jy enige rituele wat jy voor wedstryde uitvoer?
Ek is baie opgewonde, veral omdat ek die vorige reeks weens bloedklonte in die longe misgeloop het. Ek is voornemens om my beste te gee en soveel as moontlik te onthou. Ek het nie eintlik spesifieke rituele nie, maar ek lees die oggend voor die wedstryd my Bybel en ek bid. Wanneer ek by die veld kom, ervaar ek vrede, maar soms moet ek tydens die wedstryd weer bid!
Deel een van die ligter toeroomblik¬ke met ons…
Verlede jaar het ons op St Andrews in Skotland gholf gespeel en die oggend voordat ons soontoe is, het Dick Muir, die hulpafrigter, amper die bus verpas. En hy was die een wat later die dag ’n kolhou gespeel het – kan jy dit glo! Hy het toe vir ons almal happies en drankies gekoop. Hy was so bly daaroor, maar ons was maar almal lekker jaloers!
Hoe bly jy rein en vlekkeloos voor God te midde van al die druk en versoekings?
Jy neem maar een dag op ’n slag en probeer om getrou aan jouself, jou vrou en die Here te bly. Ek glo ook vas daaraan om by die basiese dinge te bly…
Is dit moeilik om so uitgesproke oor jou geloof te wees?
Jy moet jouself wees – en dis wie ek is. Soms is dit moeilik, maar dit is juis dan dat jy goeie vriende nodig het wat jou op die regte pad kan hou.
Daar is regtig ’n uittog van seniors uit die Bulls-span en ook sprake dat jy kaptein kan word. Is dit iets wat jy graag wil wees?
Dit gaan ’n nuwe era vir die Bulls wees en dit opsigself is opwindend. Indien ek in die rol van kaptein pas of ’n leier in die span is, is ek gelukkig!
Die afrigtingstrukture/-style van die Bulls en Springbokke verskil (provinsiale en nasionale vlak). Moes jy jou spel aanpas?
Daar is ’n paar veranderinge en ja, jy moet maar aanpas en leer om so gou as moontlik as eenheid te speel.
Jy het ’n kragtige en baie eerlike getuienis. Bespreek jy dit in jou nuwe boek?
Ja, ek deel my foto’s en persoonlike stories oor wat God alles vir my gedoen het, maar daar is ook ’n paar rugbystories by!
Wat is die eerste ding wat jy gaan doen as jy na die Wêreldbeker tuis kom?
Ek gaan beslis tuis saam met familie en vriende braai!
Juanné, hoe het julle twee mekaar ontmoet?
Een van Pierre se goeie vriende, Rudi, het ons aan die einde van my matriekjaar in 2005 aan mekaar voorgestel. Ons het begin om elke dag te gesels en toe het hy my vir ’n ‘onderhoud’ genooi (ons het mekaar beter oor ’n koppie koffie leer ken)! Dit was vir my baie spesiaal, want ek het toe besef Pierre het iets waarna ek nog my hele lewe lank op soek was (maar nie geweet het nie) – ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus.

Hy het my saamgenooi kerk toe, Christian Revival Church (waarvan ons vandag nog deel is), en ek het my lewe aan Christus gegee. Ons reis saam het begin en ons het vir drie jaar uitgegaan voordat ons getroud is. Ek koester daardie drie jaar, want dit was ’n wonderlike tyd waarin my persoonlike lewe gevorm en ons verhou¬ding as ’n paartjie geslyp is. Ons het beste vriende geraak en mekaar intens liefgekry.
Hoe hanteer jy die kollig? Is daar op jou, as speler se vrou, druk om op ’n sekere manier te lyk of op te tree?
Ek en Pierre het reg van die begin af besluit om ons lewens so privaat as moontlik te hou. Dit het ons werklik gehelp om ons lewens tot dusver so eenvoudig moontlik te hou en getrou aan onsself, ons vriende en familie te bly. As Pierre se vrou is daar geen druk op my om op ’n sekere manier te lyk of op te tree nie. Hy het my lief soos ek is. Ek dink ’n klomp mense dink maar ’n sportman se vrou moet perfek wees en soos ’n supermodel lyk!
Hoe hanteer jy dit as Pierre so dikwels van die huis weg is?
Dit is nooit maklik om weg van mekaar te wees nie en ek dink nie ek sal dit ooit gewoond raak nie. Maar God dra my deur hierdie tye! Ek het baie tyd om alleen saam met God te spandeer waar Hy aan my karakter kan werk en my kan vorm na Sy beeld. Ek is geseën met ’n wonderlike steunstelsel en sonder my vriende, familie en kerk sal dit nie vir my moontlik wees om Pierre se reise te hanteer nie.

Sportsterre is dikwels vatbaar vir versoekings, veral as hulle op reis is. Sukkel jy ooit met vertroue of onsekerheid?
Ek het nog nooit Pierre se lojaliteit teen¬oor my bevraagteken nie, hoewel ons nie teen versoe¬kings beskut word nie – ons is baie bewus van die versoekings wat wag. Een van die grootste lewenslesse wat ek van ’n vriendin en pastoorsvrou, Andrea, geleer het, is dat ’n paartjie nooit moet dink hulle is bo versoekings verhewe nie. Die duiwel sal altyd probeer om jou onseker te laat voel, maar die belangrikste is om te onthou dat jy een met Christus is en Hý is verhewe bo enige onsekerheid en versoeking.

Is daar enige persoon wat vir jou ’n mentor is?
Ons pastoorspaar, At en Nyretta Boshoff, het ’n groot rol in ons lewens gespeel – van die begin van ons Christelike lewens¬wandel. Jy kan hierdie wedloop nie op jou eie voltooi nie, jy het mense nodig met dieselfde visie wat kan lei, rigting aandui en jou kan aanspreek indien jy verkeerd gaan. Pierre is my man en beste vriend en van die dag wat ons begin uitgaan het, is hy vir my ’n mentor. Hy ken my geheel en al en ek vertrou dat hy my altyd sal lei en sal reghelp as ek verkeerd gaan, soos wat ek ook glo my vriende en familie sal doen.

Hoe ontspan julle twee saam?
Ons hou daarvan om goeie kos by ons gunsteling-restaurante te eet; sommer net tuis saam te ontspan of saam met ons vriende te braai.

Het julle enige planne om binnekort met ’n gesin te begin?
Ja! Ek is swanger en ‘klein Spiesie’ sal so teen die middel van Januarie 2012 hier wees. Ons sien regtig uit om ’n gesin te wees en hierdie nuwe fase van ons le¬wens te betree.

Vir meer inligting oor Pierre se getuienis en sy rugbyloopbaan: ‘More than Rugby’, uitgegee deur Penguin Books. www.pierrespies.co.za


Fred van der Vyver: Wees bly in Die Hoop!

As Christene word ons gereeld opgeroep om ons broers en susters in Christus by te staan en vir hulle te bid. As een lid van die familie ly, ly die ander ook. “As een lid swaarkry, kry al die lede saam swaar, en as een lid vereer word, juig al die lede saam.” 1 Kor 12:26. Een lid van die Christelike familie wat die afgelope paar jaar moeilike tye beleef het en gebede baie nodig gehad het, was Fred van der Vyver – juis omdat hy in ’n opspraakwekkende hofstryd gewikkel was. ’n Sug van verligting is geslaak toe die strafsaak ten einde laaste afgehandel is en Fred sonder dié swaard oor sy kop kan voortgaan. Ons het sy getuienis, wat voor sy gemeente gelewer is en waarin hy aan God al die eer gegee het, gehoor en met hom gesels.

Fred getuig dat die Here vir hom nog altyd baie goed was en in graad 12 is hy gedoop. Hierna het sy verhouding met God net sterker geword en hy is tot die Universiteit van Stellenbosch toegelaat. ’n Heel normale studentelewe het gevolg. En toe bars die bom…

Liefde deur Sy kinders
Hy moes tydens die moeilike tyd waarin die strafsaak aan die gang was, sy studie onderbreek om voltyds op die saak te kon fokus. Eers nadat die strafsaak afgehandel is, kon hy weer sy studie hervat en in Junie 2010 het hy as aktuaris gekwalifiseer. Hy het kontak met baie van sy ou vriende verloor juis omdat hy in dié tyd minder met hulle in aanraking kon kom. Tydens hierdie tyd het hy besluit om by Shofar-gemeente in Gardens, Kaapstad te aanbid en juis daar het hy ervaar hoe God se liefde tasbaar deur Sy kinders werk.
Hy is nie net deur die pastoor onder¬steun nie, maar het ook nuwe vriende gemaak en het baie onderskraging van die selgroep, waarvan hy deel was, ervaar.

Bemoedig uit Sy Woord
God het hom deurentyd deur Sy Woord bemoedig en veral Jesaja 54 het vir hom nuwe betekenis gekry. Fred het ook baie duidelik besef dat hy die pad, hoe moeilik dit ook al vir hom was, in vergifnis moes stap.
Hy het besef dat indien hy sou toelaat dat bitterheid en onvergifnis die oorhand kry, dit hom sy verlossing in Jesus kon kos en dit was vir hom ’n groter gevaar as om moontlik in die tronk te kon beland. Die Genade van die Here is groot en hy kan getuig dat God se Genade hom deurgedra het. Dit bly vir hom ’n doelbewuste keuse wat op daaglikse basis gemaak moet word omdat dit is wat die Here van elkeen van Sy kinders vra.

Lê onvergifnis af
Hy het almal aangemoedig om ‘n pad van onvoorwaardelike vergifnis te stap en ook diegene wat nog met een of ander stuk onvergifnis in hul harte sit, aangemoedig om na God te gaan en dit aan Sy voete neer te lê. Agterna wou ons by Fred weet hoe hy sekere dinge tydens die hele strafsaak hanteer het.

Jy moes seker soms intense wanhoop ervaar het. Hoe het jy dit hanteer?
Hoop is ʼn gawe van die Here. Hy gee ons hoop en sonder Hom is daar min hoop in die lewe. Met die Here se Genade, glo ek, het ek deurentyd steeds hoop gehad. Ek het bly hoop op ʼn oplossing en dat ek vrygespreek sou word van die moordklag teen my. God se Woord is vol beloftes dat Hy vir ons goed en liefdevol is en ons sal beskerm en ek moes basies net dáárin bly hoop. Hierdie hoop was van Hom; as dit nie daarvoor was nie, weet ek nie hoe ek deur die moeilike tye sou kon kom nie.

Het jy ooit daaraan gedink dat jy moontlik agter tralies kon beland? En hoe het jy die gedagtes hanteer?
Dit was uit die aard van die saak ʼn moontlikheid. Alhoewel ek bevoorreg was om ʼn baie goeie en bekwame regspan om my te hê wat my ondersteun het, het daar soveel dinge tot op daardie stadium skeef geloop dat die moontlikheid dat dinge verder skeef kon loop, wel bestaan het.
Ek skat die manier hoe ek dit hanteer het, was om maar bloot net op die Here te vertrou om my te beskerm en Hom te vertrou dat ek in Sy Wil sal stap. As Hy sou toelaat dat ek tronk toe gaan, sou Hy ook met my gewees het in daardie omstandighede. Die groot gevaar in my lewe was egter nie om lewenslank tronk toe te gaan nie. Die grootste gevaar in my lewe was om in bitterheid en onvergifnis te verval. Dit kon my my verlossing in Jesus gekos het.

Het hierdie hele saak jou verhou¬ding met God beïnvloed? Het jy ooit gevoel asof jy van God en mens verlate is?
Ek het baie ondersteuning van medegelowiges gehad en daarvoor is ek baie dankbaar. Ek hoor nog steeds van mense wat in hul harte gevoel het om vir my te bid van wie ek nie eers geweet het nie. Ek is baie dankbaar daarvoor. Dit wys vir my daardie mense het ook ’n lewende verhouding met die Here en dat die Heilige Gees dit op hulle harte gelê het om vir my te bid. Dit is ook net vir my nóg ’n bewys van die Here se liefde vir my deurdat Hy dit op ander se harte gelê het om my te ondersteun. Ek is dankbaar vir al die mense se gehoorsaamheid, liefde en ondersteuning en ek vertrou dat die Here hulle vir hulle opofferings en gehoorsaamheid sal seën.

Sekere figure in die Bybel moes deur bitter moeilike tye gaan voordat hulle deur God vereer en verheerlik is. Dink maar aan Josef, Job, Dawid, om maar net ’n paar te noem. Voel dit nou ook asof jy jou vuurdoop vir God deurloop het?

Ek is versigtig om myself met karakters soos die genoemdes te vergelyk. Ek dink hulle het darem veel meer as ek deurgemaak. Maar daar is tóg iets wat ek uit hulle ervarings kan leer: om nooit die Here te blameer as dinge sleg gaan nie, en om jou oë altyd op Hom te hou en Hom met jou hele lewe te vertrou en te volg. Ek glo die Here se Woord vir my lewe is vol hoop, liefde, beskerming en vrede. Wanneer dinge moeilik gaan, is dit nie omdat die Here minder lief vir my is nie.
Dit is ook nie ‘n geval dat Sy Woord min¬der waar is nie. Selfs in die moeilikste tye was daar een ding wat die vyand nooit van enige van hierdie mense kon steel nie en dit is hulle verhouding met die Here. Trouens, as die Here jou saak beveg ten spyte van die skade wat die vyand probeer aanrig, kan ‘n mens se verhouding met Hom net nóg sterker word. Ek kon die realiteit van God se beloftes en beskerming in my lewe fisies ervaar en Sy liefde vir my is elke dag ‘n werklikheid.


Ek en My Huisgesin – Ons is Gedoop

As klein seuntjie het ek, na ʼn diens waartydens babas gedoop is, vir my ma gevra of ek ook so gedoop is en hoekom dit gedoen word. Sy het verduidelik dat die water op die bloed van die Here Jesus wat ons van ons sondes reinig, wys.

Ernstige soeke na die waarheid
Die doop is ʼn verbond wat die Here en die ouers maak dat, as hulle die kinders volgens Sy Woord grootmaak, Hy hulle sal red wanneer hulle later in hulle lewe hul sondes sou bely. Dit het ʼn groot indruk op my gemaak en ek het op daardie oomblik besef dat dit nog nie met my gebeur het nie. ʼn Paar jaar later het my pa my na die Here gelei.
As leraar het ek eens baie ernstig gesoek na wat die Bybel regtig oor die doop leer. Ek het so wyd as moontlik na alle aspekte daarvan gekyk en veral moei¬te gedoen om mense wat die doop van gelowiges met onderdompeling voorstaan, uit te vra. Ek het alle bronne waarna hulle my verwys het, bestudeer.

Doop as verbond
Dit alles het my net nog meer oortuig van die doop met besprenkeling. Die Here het ons ʼn paar jaar later uit die gemeente-bediening gelei tot ʼn media-bediening waar ons hooffokus tans die produksie van ʼn DVD-reeks deur die argeoloog en teoloog dr. Randall Smith is. Die reeks word onder die titel “Exploring the Lands of the Bible” versprei.

Persoonlike siening uitgedaag
Tydens een van die geleenthede waar ek dr. Randall Smith in Israel gaan fotografeer het, het hy heel spontaan met ʼn toergroep by die Jordaanrivier gesit en praat oor die doop. Uit wat hy gesê het, het ek besef dat wat ek geglo het, nie reg was nie. Is dit moontlik dat ek na al die navorsing die waarheid misgekyk het?
Randall het ons later in Jerusalem na die trappe geneem waarmee ʼn mens in Jesus se tyd die tempel binnegegaan het. In die middel van die breë stelle trappe was die oorblyfsels van 42 doopbaddens (mikvahs) waarin almal wat in die tempel wou ingaan, eers gedoop is.
Dit wat hy hier getoon het, was so anders as wat ek in al die boeke oor die doop teëgekom het. Dit het my lank geneem om alles te verwerk en met die Here deur te werk. Ek moes weer my Bybel van vooraf begin lees.

Gewortelde teologie die grondslag
Diegene wat groot geword het in kerke waar die onderdompelingsdoop beoefen word, mag dit moeilik vind om te verstaan. Daar lê egter ʼn baie diep gewortelde teo¬logie ten grondslag van die verbonds- of kinderdoop. (Dan is daar natuurlik nog baie ander standpunte oor die doop). In die beperkte ruimte van hierdie getuienis kan ons ongelukkig nie op die meriete van alles ingaan nie.

Alles hang af van die agtergrond waaruit ʼn mens na dinge kyk. Wat nodig is, is dat ons sal leer om die Bybel te lees vanuit die oogpunt van die mense wat in die Bybelse tyd geleef het. Die skrywers van die Bybel verduidelik baie dinge nié vir ons nie, omdat hulle nie geweet het dat ons soveel jaar later hulle geskrifte vanuit ʼn heel ander kultuur sou lees nie. Hulle het geskryf aan mense wat alles waarvan hulle gepraat het, verstaan het.

Diepe nadenke oor die ontdekking
Na deeglike oorweging van die feite wat ek aangaande die gebruike van die doop ontdek het, is ek en my huisgesin gedoop. Met my doop het ek getuig dat ek nie ‘weer’ gedoop word nie, want ek was nog nooit gedoop nie. Dit was my doopgeleentheid. Dit is wat Jesus jou beveel om te doen wanneer jy tot geloof in Hom kom. Ek moes dit reeds met my bekering gedoen het.

Verkeerde optrede
Die feit is egter dat voordat ek besef het hoe verkeerd ek was, ʼn stel preekkassette versprei is waarin ek oor die doop preek. Die gevolg daarvan was dat selfs mense wat as gelowiges gedoop is, bely het dat hulle verkeerd gedoen het. Vandag is ek regtig jammer daaroor. Toe ek onder die besef kom van hoe verkeerd ek was, het ek ʼn DVD van wat dr. Randall Smith oor die doop aanbied, saamge¬stel en wil ek opreg om verskoning vra vir die verkeerde lering oor die doop wat ek destyds deurgegee het.

Die historiese agtergrond
Die uitstaande kenmerk van hierdie DVD is dat dit nie verval in allerhande argumente oor die doop nie. Dit bied bloot die feite van die historiese agtergrond waarin die doop in die Nuwe Testament beoefen is, en toon voorts hoe die mense gedoop is. Enigeen wat vrae oor die doop of hierdie getuienis het, is welkom om my te skakel by onderstaande nommer en ek sal graag daaroor gesels.

Naas le Roux is direkteur van Kerugma Produksies, wat deur middel van multimedia-produksies die Evangelie versprei. www.kerugma.pro