Ek verwys na ’n nuusartikel wat op Joydigitalmag.com geplaas is om die “fopnuus” wat deur iemand genaamd, Jonathan, verkondig word. Hy het gewaarsku dat 5G skadelik is vir mense. Hy is erg gekritiseer vir sy pogings. Ek het ’n artikel aan julle redaktrise gestuur waarin 180 wetenskaplikes van 36 lande ’n brief onderteken het om hulle kommer rakende 5G bekend te maak. Hulle is deur die Europese Unie geïgnoreer sonder enige onafhanklike bewyse dat 5G nié skadelik vir mense is nie. Daar is ’n massiewe poging om dit toe te smeer. Ek dink die nuusartikel op Joydigitalmag is ongevraagd en val iemand onnodig aan omdat hy probeer om Christene te waarsku om nie alles te aanvaar wat hulle “gevoer” word nie.
Dr. Lynne Timms
In die artikel wat ons op ons Joydigitalmag-webtuiste geplaas het, getiteld “COVID-19 en 5G? Wat Is Die Waarheid?”, poog die skrywer (INcontext Ministries) nie om te bespreek of 5G skadelik is, al dan nie. Die artikel verskaf eerder feite om die ongegronde aansprake wat deur “pastoor Jonathan” in stempos gemaak word (en wat soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het), te weerlê. INcontext is ‘n bediening wat hom altyd beywer om die waarheid te publiseer. Hy het ’n hoaxology-afdeling om hierdie tipe kwessies te hanteer. In die stempos maak die onbevestigbare spreker ’n aantal aansprake wat nie feitelik korrek is nie, byvoorbeeld dat die koronavirus deur 5G-radiofrekwensies veroorsaak word en dat vorige pandemies, soos die Spaanse Griep, ook deur radiofrekwensies veroorsaak is. Ongelukkig is fopnuus nou aan die orde van die dag. Ons moedig al ons lesers aan om altyd die feite van enige gegewe situasie te evalueer en dan tot ’n ingeligte slotsom te kom. As jy hierdie artikel met goed nagevorste feite wil lees, klik op hierdie skakel www.joydigitalmag.com