Terwyl ek deur die April-uitgawe van JUIG! lees, kom die gedagte by my op dat God toekyk hoe die wêreld babas aborteer, homoseksualiteit aanvaar en gelowiges vervolg. Ek dink hierdie jongste Comprehensive Sexuality Eduction (CSE)-program vir seksvoorligting was net die laaste strooi vir Hom. Onthou, in Matteus 19:14 het Jesus gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.” Ja, om babas te aborteer en nou ook onskuldige kinders se gedagtes met pornografie te vul onder die dekmantel van “seksonderrig”, is die heel laaste strooi. God het toegelaat dat hierdie plaag oor die hele wêreld losgelaat word. Hy was geduldig met ons, maar genoeg is genoeg. Onthou julle die verhaal van Abraham en Sodom? God het toe gesê as Hy vyf regverdige mense in Sodom kan vind, sal Hy Sodom spaar? Ons is Sodom – daar is niemand regverdig nie, nie een nie.
My gebed is dat die Here ons sal spaar en ons sondes sal vergewe. Danksy Jesus en Sy dood aan die Kruis, het ons wat glo, die regverdiges in Christus Jesus geword. Wanneer God na die wêreld kyk, sien Hy net die bloed van Sy Seun en vergewe Hy. Daar is baie gelowiges oral in die wêreld. Tydens die internasionale inperkings bid ons soos nog nooit tevore nie. Ek glo dat daar wêreldwyd ’n herlewing sal wees soos ons nog nooit tevore gesien het nie, omdat mense sal terugkeer na die Kruis en om vergifnis smeek. Kerke sal weer vol wees, leë katedrale sal oorloop van mense, want God is steeds op die troon. Hy is die Almagtige wat die laaste sê sal hê terwyl Hy die noodroep van gelowiges oor die hele wêreld hoor en hierdie koronavirus verpletter. Een ding staan vas, hierdie smerige seksvoorligting moet gestaak word. Dit is net so gevaarlik soos die virus.
Drene Tiessen