God skuld ons nie ’n antwoord nie!

Ek staan onlangs in ’n supermark in die ry. Voor my staan twee omies en gesels oor die gemors wat in ons land aangaan – net negatiewe dinge word bespreek. Hulle is vol wrokke, haat en nyd teenoor alles wat aangaan. Die een omie bevraagteken God – hy sê hy wonder waar  Hy dan in krisistye is. Ek wou so graag vir hom ’n antwoord gee, maar ek was nie deel van hul gesprek nie. Niemand mag God bevraagteken nie. God skuld ons nie ’n antwoord nie. Ek het uit ondervinding geleer dat mense geneig is om God in krisistye te bevraagteken. Baie mense vra hoe God hoekom ons vir ’n swak regering moet boet waar daar daagliks bedrog gepleeg word en onmin gesaai word. Waar is God dan, wonder baie. Hoekom doen Hy nie iets aan die toedrag van sake nie? Ons kan God nie met ons aardse standaarde van reg en regverdigheid meet nie. God is oneindig groot. Hy hoef vir niemand enige verduideliking te gee van Sy dade nie. In Sy Wet stel Hy vir ons standaarde vir ons menslike gedrag, want Hy is ver daarbo verhewe. Daar is op die oomblik in baie Christene se gesprekke moedeloosheid oor die toekoms. In ons huidige situasie kan ons ons alte goed met die woorde van Paulus in 2 Korintiërs 1-8 vereenselwig. Soms gaan dit inderdaad so moeilik dat dit regtig vir ons voel of ons die hoop om te bly lewe kan laat vaar. Tog het Paulus raad vir mense wat verleer het om te hoop: Sulke dinge gebeur juis sodat ons nie langer op onsself moet vertrou nie, maar op God. Dit gaan bitter sleg in ons land, dit besef ons almal. Wat môre vir ons inhou, kan nie een van ons met sekerheid sê nie, maar ons kan daardie môres wel positief verander deur nou al te begin werk aan beter verhoudings, aan ’n vaster vertroue in God. Weier om die hoop te laat vaar, want hulle wat opgehou hoop het, het vir God uit die oog verloor. Versoening, vrede, seëninge en genade kan net uit geloof uit ontvang word. Ons moet die voorbeeld vir die volgende geslag stel – God is die enigste weg – net Hy kan ons land red. Hy is ons vaste rots!

A. Schoeman (Riebeeckstad)