Ek loof die Here vir drie gebede wat Hy binne ’n week verhoor het! Eerstens het ek vir my ’n WiFi-router gekoop en die Airtime Providers (AP) het ’n goeie uur bestee om my mobiele foon en skootrekenaar daarop in te stel. Tuis was ek nuuskierig om te sien of ek net deur Google Chrome direk na my e-pos geneem sou word soos hulle my verseker het. Ná ’n gesukkel het ek my AP (wat op ’n ander dorp is) gebel. ’n Halfuur later kon hulle my steeds nie help nie en weens omstandighede sou ek eers oor twee maande weer by hulle kon uitkom. Ek was moedeloos. Ek besef toe dat ek nog nie met Vader daaroor gepraat het nie. Ek het dadelik gebid: “Vader, U wéét dat ek absoluut niks van programmering of WiFi-werking weet nie. Help my asseblief en jammer dat ek nie eerste na U toe gekom het nie!” Ek het weer na die rekenaar gegaan en God het my letterlik stap-vir-stap laat sien wat ek moes doen. Binne vyf minute kon ek ’n e-pos na my AP stuur om te getuig dat God Sy dogter se gebed in liefde geantwoord het!
Tweedens het ek per ongeluk iemand anders se motor teen ’n paal geskuur en moes dit laat regmaak. By die paneelklopper aangekom was sy vrou ontsteld omdat haar handsak met kaarte en geld, weg was. Hulle het blykbaar óral daarvoor gesoek, maar kon dit nie kry nie. Ek het voorgestel dat ons bid en sy het verbaas gevra: “Sommer nou?” Ja. Sommer net daar. In ’n kort gebed het ek Vader gevra of Hy haar asseblief sal help om haar handsak te kry voordat hulle die aand gaan slaap. ’n Ander kliënt het die paneelklopper se aandag nodig gehad in die kantoor en ek het buite gewag. Sy vrou is intussen huis toe. Toe hy by die kantoor uitkom, lig hy my glimlaggend in dat sy vrou haar handsak gekry het. Dit was in die huis op ’n plek waar sy net nie gekyk het nie. Ek het God sommer daar in die voertuig geloof en prys. Watter wonderlike God aanbid ons nie!
Derdens het ek nie geweet wáár ek, as pensioenaris, die geld sou kry om die motor te laat herstel nie. Ek het die saak in my Vader se hande gelaat. Die vorige middag bel ’n kerksuster my van ’n ander stad af – heel onverwags. Nadat sy my gevra het hoe dit gaan, vra sy my hoe dit met my finansies gaan. Ek was verleë om haar te vertel van die gestampte motor. Al was dit min skade sou dit nie minder as R500 kos nie. Sy het niks gesê nie, maar die volgende dag was daar R1 000 in my rekening betaal! Ek het haar per SMS bedank en van pure blydskap gehuil.
Ons aanbid ’n wonderlike Skepper en ek glo Hy wag dat Sy kinders hulle behoeftes na Hom toe bring – nie soos ons wil nie, maar soos Hy wil. Ek is ’n voorbidder en het nou net vir JUIG! se lesers gebid. Of jy nou siek is, jou werk verloor het en finansieel worstel, of wat dit ook al mag wees, onthou: God verhoor steeds elke opregte gebed en laat alles ten goede meewerk, soos Romeine 8:28 belowe. En die doel daarvan? Lees gerus vers 29. Sterkte vir almal in hierdie COVID-19-tydperk – veral die eensames. Ek voel saam met julle!
Cheryl Jonker – Wes-Kaap