Ons lewe in ’n tyd waar daar soveel onsekerheid is. Die vrae kom gedurig by ons op: Hoe gaan ons vir ons gesin sorg? Hoe gaan ek my paaiemente betaal? Ek het ’n paar weke gelede by my pa se sterfbed gestaan. Ek het besef: Wanneer dit jou tyd is om te gaan, maak niks aardse dinge meer saak nie. Ons was bevoorreg genoeg om te kon hoor hoe my pa met sy mond bely dat hy ’n kind van die Here is. Dat Jesus Christus sy Verlosser en Saligmaker is.
Jy weet nie hoe jou tyd sal kom en wanneer dit sal wees nie. Jy weet nie of jy die genadetyd gaan hê wat die misdadiger aan die Kruis gegun is nie. Die hel is die laaste plek waar ek ooit wil wees. My vraag vir jou vandag is: Hoekom is jy dan nog besig met die dinge wat jy weet jou van die Hemel weerhou?
God het jou geskep. Hy het jou reeds geken voor jy in jou moederskoot gevorm is. Jy is kosbaar vir Hom, spesiaal saamgeweef soos Hy daarvan hou. Jy het alles in jou wat jy benodig om te wees wie jy graag wil wees en bestem is om te wees. Die keuse is joune. Wanneer jy daar lê en jou siel en gees verlaat jou liggaam, is al wat saak maak, jou verhouding met die Here! Hou op om vas te kyk teen die omstandighede. God sê in Sy Woord Hy sal vir jou sorg en vir jou voorsien. Begin dit glo, praat en dink. Neem vandag die belangrikste besluit van jou lewe, draai weg van die wêreld af en fokus op God. Koning Jesus het reeds aan die Kruis gesterf sodat jy vry kan wees van jou sonde. Kies God– Hy het jou tog eerste liefgehad. Hy sal jou ’n nuwe hart gee en Sy Heilige Gees sal deur jou vloei. Wees wys – die tyd is so min! En as jy al gekies het en weer afgedwaal het, vra vergifnis en kies Hom weer. Maar dra die vrug van ’n bekeerde kind van God; wees reg om enige oomblik van enige dag aan te beweeg na jou ewige bestemming. Die aarde is net die deurgang tot ons ewige bestemming.
Stephanie van Straten
Brief verkort