Die Prediker was reg … daar kom ’n tyd. ’n Tyd vir alles.
’n Tyd om af te tree en ’n nuwe ritme vir jou treë te vind
’n Tyd om jou kasteel teen die berg te ruil vir ’n herberg in ’n veilige vallei
’n Tyd om te besef familie is nie alles nie, maar het alles te doen met wie jy is
’n Tyd om ma vir jou ma te word
’n Tyd om jou laaste hond te groet
’n Tyd om te weet verhoudings verbrokkel
’n Tyd om brokkies breek op te tel en heel te maak
’n Tyd van struikel en val en opstaan en weer probeer
’n Tyd om vrede te maak dat jou kinders nie gaan terugkom na jou land wat brand nie
’n Tyd om te weet jy sal ’n Skype-prentjie in jou kleinkinders se e-boeke wees
’n Tyd om te wonder waarheen nou?
’n Tyd om te weet tyd is al wat jy nié het nie
’n Tyd om te weet tyd is ál wat jy het
’n Tyd om te weet die TYD is alles
E Botha