My seun was ook aan dwelms verslaaf

In “Vra jou Vrae” van die Julie-uitgawe stel ’n leser die vraag: “My seun is verslaaf aan dwelms, moet ek hom uitskop of moet ek hom onvoorwaardelik liefhê?” Ek is self die ma van ’n seun wat agt jaar lank aan dwelms verslaaf was. Hy het self besluit dat hy hulp nodig het. Ek het ook deur die “uitskopfase” gegaan, maar gelukkig kon ons by ’n goeie rehabilitasiesentrum uitkom, wat met die Here se hulp ’n wonderlike program aanbied. Dit maak ’n groot verskil aan die persone wat die program volg. Dit is so “dat elke situasie volgens sy eie meriete hanteer moet word”, maar die individu het professionele hulp nodig. Dit is in uitsonderlike gevalle dat iemand op sy eie van verslawing kan genees. Daar is verskeie goeie sentrums wat wonderlike werk doen. Dit is verkieslik om ’n langtermynprogram van ’n jaar lank te volg en nie ’n kort blitskursus van ’n paar weke nie. Daar is redes hoekom die program streng moet wees en regtig sterk by die persoon gevestig moet word. “Uitskop” of verwerping is nie ’n opsie nie, maar onvoorwaardelike liefde en ondersteuning tydens en ná die rehabilitasieprogram is baie belangrik! En ja, tree voordurend vir hom by God in. Ek sou aanbeveel dat die ouers so gou as moontlik professionele hulp kry, vir die seun, asook vir hulleself. 

Anoniem