Abba Vader ek is dankbaar vir U genade, goedheid, guns en liefde elke dag. Ek is U ewig dankbaar vir die voorreg en eer om as U dienskneg U onfeilbare Woord te kan verkondig op die kansel. Ek is dankbaar vir die geleentheid en dat die inperking nie die verkondiging van U Woord kan beperk nie. Ek is dankbaar vir U ontferming oor ons en dat U ons begenadig en barmhartig is. Dankie dat U die president en parlementslede met wysheid en die vermoë toerus om die regte besluite te neem; om U met hul hele hart te soek sodat hulle die beste oplossing vir die probleme kan vind wat tans heers. Dankie dat U die hande van mediese personeel versterk. Dankie dat U dié wat siek en aangetas is, met U Goddelike genesende hand aanraak. Ek is dankbaar vir die duisende wat reeds herstel het en dankie vir wat U nog gaan doen. Dankie vir die voorreg om elke dag ’n nuwe verbintenis met U te kan hê. Dankie dat ons kerk kon heropen. Ek is dankbaar vir U lewende en blywende Woord wat ons nog vrylik kan lees. Ek is dankbaar vir die krag wat ek elke dag ontvang om U seëninge te kan benut. Al die lof en al die eer kom U toe. Ek dank U vir die gesag om lewe te spreek in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Frederik Smith