’n Ode aan ’n baie spesiale skrywer, Nina Smit

Nina Smit was ’n ervare skrywer en het vir vroue, tieners, kinders en oumas geskryf! Haar boeke is treffers in ons land. Sedert Dagboek vir die vrou en Asemskep-oomblikke met God in Nederlands vertaal is, is haar boeke ook in ander lande beskikbaar. Sy was sekerlik een van die gewildste sprekers. Ek gaan haar geweldig mis. Sy was en sal altyd, in my oë, die beste skrywer wees. Haar stem het stil geword, maar sy sal in die harte van baie lesers bly voortleef. Ek het ’n biblioteek vol van al haar boeke, haar dagstukkies en selfs kortverhale. Sy het baie oor liefde, genade en hoop geskryf en het my menigmale met haar sprankelende boodskappe opgekikker wanneer ek somber dae beleef het. Sy was ’n nederige mense-mens. Sy het geglo aan die mooi dinge in die lewe en nie een van haar boodskappies het op die negatiewe dinge van die lewe gefokus nie. Sy is ’n Jesus-dogter wat lief was vir haar medemens. Sy het geglo dat jy jou lewenspad saam met God moet stap en omdat Hy by jou is, jy vir niks hoef bang te wees nie. Sy het my geleer dat dit die klein dingetjies in die lewe is wat saak maak. Geld en wêreldsgoed het weinig waarde in vergelyking met die liefde wat mense vir ander het. Mag Nina nog lank in ons harte voortleef.

Antoinette Schoeman (Riebeeckstad)