Ek was baie teleurgesteld oor die nuus dat die NG Kerk weer in ’n stryd betrokke is oor troues tussen mense van dieselfde geslag. Dit is ’n groot jammerte dat hulle dit na die howe geneem het, wanneer die howe geen gesag in die kerk van God het nie. God het die enigste gesag. As Hy sê die huwelik is tussen ’n man en ’n vrou, is dit presies wat Hy van die begin af bedoel het. Onthou, God verander nie. Hy is dieselfde van die begin af en sal so bly tot in alle ewigheid. Hy sê ook vir ons: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Ons kan nie vir Hom sê dinge het verander; dit is hoe dit moet wees en Hy moet dit so aanvaar nie. Besef die NG Kerk wat hulle aan ons doen? Onthou, as daar sonde in ons lewens is, sal Hy nie na ons luister nie. Daar is ’n pandemie – nie net van ’n virus nie, maar ook van plaasaanvalle in ons land. Ons het God nodig soos nooit tevore nie en hulle baklei in Sy kerk oor gay troues? Is dit moontlik om op hierdie tyd te wil twis, wanneer ons so afhanklik van Sy groot genade is? Wil hulle nou Sy kerk in ’n gay klub omskep? Mag hulle hul bekeer en terugkeer na die Kruis van Jesus waar Hy vir ons sondes gesterf het.
Drienie Tiessen